1 MEI 2018
RUSLAND
Russiese owerheid probeer om eiendom wat deur Jehovah se Getuies se Amerikaanse Korporasie besit word, af te vat
NEW YORK — Op Donderdag 3 Mei 2018 sal ’n appèlsaak van Jehovah se Getuies in die stadshof van Sint Petersburg verhoor word. Die appèlsaak is teen die beslissing om die Getuies se nasionale kantoor in Rusland af te vat. As die appèlsaak nie suksesvol is nie, kan die Staat die kompleks wat uit 14 geboue bestaan, onmiddellik afvat. Die eiendom is 10 hektaar groot en het ’n waarde van omtrent R395 miljoen (2 miljard roebel).
Die oorspronklike beslissing deur die Sestroretski-streekhof in Desember 2017 het die bewyse dat die Getuies se kantoor deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië (WTPA) besit word, geïgnoreer. WTPA is ’n niewinsgewende korporasie in die Verenigde State. In 2000 het Jehovah se Getuies in Rusland die eiendom aan WTPA oorgedra. Sedertdien het WTPA eiendomsbelasting van omtrent R37 miljoen (188 miljoen roebel) aan die Russiese Federasie betaal. Alhoewel die Russiese regering die wettige oordrag meer as 17 jaar lank erken het, beweer die streekhof nou dat die WTPA se kontrak van eiendomsreg ongeldig is. Gevolglik het die hof die Getuies se Administratiewe Sentrum (AC) in Rusland as die eintlike eienaar van die eiendom verklaar. Aangesien die AC in 2017 deur die hooggeregshof gelikwideer is, kan die Staat die eiendom onmiddellik afvat as die Getuies die opkomende appèlsaak verloor.
Die verhoor sal om 11:30 gehou word in die Stadshof van Sint Petersburg, Basseinaja-straat 6, St. Petersburg, Rusland.
Mediaverteenwoordigers:
Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000