Spring na inhoud

Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Abinsk

4 AUGUSTUS 2015
RUSLAND

Rusland se Hooggeregshof verhoor die saak oor die likwidasie van Abinsk se LRO

Rusland se Hooggeregshof verhoor die saak oor die likwidasie van Abinsk se LRO

Op 5 Augustus 2015 sal die Hooggeregshof van die Russiese Federasie die appèlsaak in verband met die Plaaslike Godsdiensorganisasie (LRO) van Jehovah se Getuies in Abinsk verhoor. Amptenare in die stad Abinsk het vroeër vanjaar die regsentiteit van Jehovah se Getuies gelikwideer deur soortgelyke taktiek te gebruik as wat in Taganrog en Samara gebruik is.

’n Valse grondslag vir likwidasie

Die gemeente van Jehovah se Getuies in Abinsk het ongeveer 100 lede, en party van hulle is bejaarde mans en vroue. Die LRO van Abinsk is in November 1999 geregistreer en is die regsentiteit wat die Koninkryksaal besit waar die Getuies vir aanbidding vergader.

In Desember 2012 en weer in Oktober 2013 het die owerheid twee van Jehovah se Getuies in Abinsk beskuldig van administratiewe oortredings omdat hulle na bewering lektuur versprei het wat as ekstremisties verklaar is. Albei Getuies het met die plaaslike gemeente geassosieer, maar nie een van hulle was ’n lid van die LRO van Abinsk nie. Die aanklaer het hierdie feit geïgnoreer en het die ongegronde aanklagte teen hierdie mans as ’n grondslag gebruik om die LRO te likwideer.

Na aanleiding van hierdie verkeerde veronderstelling het die Krasnodar-gebiedshof op 4 Maart 2015 beslis dat “die Plaaslike Godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies van die stad Abinsk . . . as ekstremisties verklaar moet word, gelikwideer moet word en uitgesluit moet word van die Eenvormige Staatsregister van Regsentiteite”. Die hof het verder beslis dat eienaarskap van die Koninkryksaal in Abinsk aan die Staat oorgedra moet word. As die Hooggeregshof hierdie beslissing bekragtig, sal die Getuies in Abinsk hulle huis van aanbidding verloor.

Dieselfde twyfelagtige taktiek

Die owerheid in Abinsk het die Federale Wet op die Teëwerking van Ekstremistiese Bedrywighede verkeerd toegepas en sodoende dieselfde taktiek gebruik as wat amptenare gebruik het om die Getuies se LRO’s in Taganrog en Samara te likwideer. Soos in Abinsk het die aanklagte van ekstremistiese bedrywighede geen grondslag gehad nie. Jehovah se Getuies in Taganrog en Samara verdedig hulle met alle mag in die hof teen hierdie valse beskuldigings. Hulle het aansoeke by die Europese Hof van Menseregte ingedien om hierdie skending van hulle godsdiensvryheid te betwis.

Jehovah se Getuies in Abinsk volhard

Die klein gemeenskap van Jehovah se Getuies in Abinsk sal voortgaan met hulle godsdiensbedrywighede en aanhou om hulle aanbidding te beoefen soos hulle medegelowiges oor die hele wêreld. Maar Jehovah se Getuies hoop dat die Hooggeregshof van die Russiese Federasie die ongeregtigheid van die laerhof se beslissing sal erken en die Getuies in Abinsk sal toelaat om voort te gaan om vreedsaam in hulle eie plek van aanbidding te vergader.