Spring na inhoud

21 MAART 2017
RUSLAND

Jehovah se Getuies organiseer wêreldwye reaksie teen dreigende verbod in Rusland

Jehovah se Getuies organiseer wêreldwye reaksie teen dreigende verbod in Rusland

NEW YORK—Jehovah se Getuies word gedreig met ’n verbod op hulle aanbidding in Rusland. In reaksie hierop stuur hulle ’n direkte versoek vir hulp aan amptenare van die Kremlin en die Hooggeregshof. Hulle doen dit deur middel van ’n wêreldwye kampanje waarin die bestuursliggaam van Jehovah se Getuies die meer as 8 000 000 Getuies uitnooi om briewe aan hierdie amptenare te skryf.

Op 15 Maart 2017 het Rusland se Departement van Justisie ’n aansoek by die Hooggeregshof van die Russiese Federasie ingedien waarin hulle vra dat die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland as ekstremisties verklaar en gelikwideer word. Hulle wil ook hê dat die bedrywighede van die Administratiewe Sentrum verban moet word. As die Hooggeregshof ten gunste van die aansoek beslis, sal die Getuies se nasionale hoofkwartier naby St. Petersburg toegemaak word. Gevolglik sal sowat 400 geregistreerde plaaslike godsdiensorganisasies gelikwideer word. Dit sal ook beteken dat die dienste van meer as 2 300 gemeentes van Jehovah se Getuies in Rusland verban sal word. Die takkantoor se eiendom, sowel as plekke van aanbidding wat deur Getuies regoor die land gebruik word, kan deur die regering afgeneem word. Individuele Getuies van Jehovah kan ook krimineel vervolg word net omdat hulle hulle godsdiens beoefen. Die Hooggeregshof sal na verwagting op 5 April sy beslissing uitreik.

David A. Semonian, ’n woordvoerder by die Getuies se wêreldhoofkwartier, sê: “Die bestuursliggaam van Jehovah se Getuies wil die aandag vestig op hierdie kritieke situasie. Die feit dat vreedsame burgers wat die wet gehoorsaam as terroriste vervolg word, wys duidelik dat anti-ekstremistiese wette heeltemal verkeerd toegepas word. Sulke vervolging is gebaseer op valse beskuldigings.”

Dit is nie die eerste keer dat die Getuies so ’n wêreldwye kampanje reël nie. Omtrent 20 jaar gelede het die Getuies briewe geskryf om hulle mede-aanbidders in Rusland te verdedig. Hulle het dit gedoen omdat party regeringsamptenare wat toe in beheer was, die Getuies swartgesmeer het. Die Getuies het ook ander soortgelyke kampanjes in die verlede georganiseer om regeringsamptenare te motiveer om ’n einde te maak aan die vervolging van Jehovah se Getuies in lande soos Jordanië, Korea en Malawi.

Mr. Semonian sê verder: “Om saam met mede-aanbidders die Bybel te lees, te sing en te bid, is beslis nie ’n kriminele oortreding nie. Ons hoop dat ons wêreldwye kampanje om briewe te skryf, amptenare in Rusland sal motiveer om hierdie onregverdige optrede teen ons mede-aanbidders stop te sit.”

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Rusland: Yaroslav Sivulskiy, +7-812-702-2691

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000