Spring na inhoud

Plekke waar huise in Rusland deursoek is

2 MEI 2018
RUSLAND

Kampanje van vrees begin vir Jehovah se Getuies in Rusland

Kampanje van vrees begin vir Jehovah se Getuies in Rusland

Die polisie het in ten minste sewe stede regoor Rusland die huise van Jehovah se Getuies ingestorm en deursoek. Dit lyk asof spesiale polisiemagte (OMON) deelneem aan ’n georganiseerde kampanje. Hulle dra soms maskers en masjiengewere waarmee hulle die Getuies dreig wanneer hulle hulle huise deursoek. Hulle het Getuies, jonk en oud, gearresteer om hulle te ondervra.

Arkadja Akopjan saam met sy vrou, Sonja, en hulle twee kleindogters

Oor die afgelope jaar het die owerheid ten minste tien kriminele ondersoeke gedoen en vyf Getuie-mans in die tronk gesit, insluitende Dennis Christensen, wat sedert 25 Mei 2017 aangehou word totdat sy verhoor begin. Nog ’n Getuie, 69-jarige Arkadja Akopjan, word op die oomblik verhoor in die Republiek van Kabardino-Balkarië. Al hierdie mense kan ’n tronkstraf van twee tot tien jaar kry net omdat hulle bymekaargekom het vir aanbidding.

Op 20 April 2017 het die Hooggeregshof van die Russiese Federasie die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies en al 395 plaaslike regsentiteite van die Getuies verban. Gedurende die verhoor in die Hooggeregshof het die Russiese regering beweer dat individuele Getuies vry sal wees om hulle geloof te beoefen, al het hulle die regsentiteite van Jehovah se Getuies gelikwideer. Maar wat die regering sê, stem nie ooreen met hoe hulle optree nie.

Die Russiese regering het dit reggekry om die regsentiteite van Jehovah se Getuies te likwideer en het begin om die Getuies se eiendomme af te vat. Maar nou fokus hulle op mense en hulle aanbidding en val hulle dit aan. Dit word nou ’n kriminele oortreding vir die meer as 175 000 Getuies van Jehovah in Rusland om hulle geloof te beoefen.

Huise word deursoek, mense word ondervra en aangehou

Sedert Januarie 2018 fokus die polisie al hoe meer op Jehovah se Getuies.

20 April 2018, Sjoeja, Iwanowo-streek: Die polisie het die huise van vier Getuies deursoek. Hulle het Dmitri Michailof gearresteer, hom na die polisiestasie geneem en hom later weer vrygelaat. Die owerheid het ’n kriminele ondersoek gedoen en hom aangekla van ‘deelname aan die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie’ onder Artikel 282.2(2) van die Strafwet. Op die oomblik mag hy nie Sjoeja verlaat nie.

19 April 2018, Wladiwostok: Die polisie en die Federale Veiligheidsdiens (FSB) het ’n woonstel deursoek en Walentin Osadtsjoek en drie bejaarde vroue na die polisiestasie gevat om hulle te ondervra. Die owerheid het mnr. Osadtsjoek onder 282.2(2) van die Strafwet aangekla, wat strafbaar is met twee tot vier jaar tronkstraf, en hy is in aanhouding totdat sy verhoor begin. Op 23 April het die Froenzenski-streekhof beslis dat mnr. Osadtsjoek in aanhouding moet bly tot 20 Junie 2018. Hy word op die oomblik aangehou in Ondersoektronk nr. 1 in Wladiwostok.

18 April 2018, Poljarni, Moermansk-streek: Die polisie en gemaskerde OMON-amptenare het laat in die aand by Roman Markin se huis met masjiengewere ingestorm. Amptenare het hom met hulle wapens gedwing om op die vloer te lê. Sy tienerdogter het dadelik op die vloer gaan lê en haar kop toegehou met haar arms toe sy die gewapende amptenare sien. Die polisie het die huis deursoek en daarna het hulle mnr. Markin na die polisiestasie geneem. Hy word aangehou totdat sy verhoor begin.

Daardie selfde aand het die polisie 14 Getuies se huise in die gebied deursoek en selfone, tablette en ander persoonlike besittings geneem. Die polisie het toe die Getuies na die polisiestasie gevat om hulle te ondervra. Die plaaslike owerheid het ’n kriminele saak teen mnr. Markin gemaak, sowel as teen ’n ander plaaslike Getuie, Wiktor Trofimof. Albei is aangekla van ‘die organisering van die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie’ onder Artikel 282.2(1) van die Strafwet. As hulle skuldig bevind word, kan hulle ses tot tien jaar tronkstraf kry. Albei mans word aangehou in Tronk nr.1 in Moermansk totdat hulle verhoor word.

10 April 2018, Zaton-streek, Oefa: Speurders en OMON-amptenare het tussen 06:30 en 07:00 die huise van verskeie Getuies deursoek. Terwyl die Getuies se huise deursoek is, het amptenare hulle ondervra. In een geval het ’n amptenaar vir een van die slagoffers gesê: “Ons sal jou laat gaan sodra jy sê dat jy nie ’n lid van die organisasie van Jehovah se Getuies is nie.” In ’n ander geval het ’n amptenaar vir ’n slagoffer gesê: “Ons gaan julle van die aarde af uitwis.” Al die Getuies is na die polisiestasie gevat om hulle vingerafdrukke te neem en om verder ondervra te word.

Toe amptenare die huis van mnr. en mev. Chafizof deursoek het, het hulle die egpaar met hulle wapens gedreig. Nadat hulle die huis deursoek het, het ’n polisieman mev. Chafizowa aan die arm gegryp en haar in die polisiekar gedwing. Sy is na die polisiestasie gevat om ondervra te word. Mnr. Chafizof is nie een van Jehovah se Getuies nie.

Anatoli en Aljona Wilitkewitsj voordat hy gearresteer is

Amptenare het die huis van Anatoli Wilitkewitsj deursoek en hom gearresteer. Hulle het vir sy vrou gesê dat sy nie haar man “vir ’n lang tyd” sal sien nie. Die owerheid het hom aangekla van ‘die organisering van die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie’ onder Artikel 282.2(1) van die Strafwet. Hy word aangehou totdat sy verhoor op 2 Junie 2018 begin. As hy skuldig bevind word, kan hy tot tien jaar tronkstraf kry.

Maart 2018, Oriol: Behalwe dat die kriminele saak teen Dennis Christensen voortgaan, het die owerheid ’n tweede kriminele ondersoek teen ’n ander Getuie, Sergei Skrinnikof, begin nadat sewe huise in Mei 2017 in Oriol deursoek is. Daar is nog nie ’n formele klag teen mnr. Skrinnikof ingedien nie. Hy word aangekla van ‘die organisering van die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie’ onder Artikel 282.2(2). As hy skuldig bevind word, kan hy twee tot vier jaar tronkstraf kry.

7 Februarie 2018, Belgorod: Groot groepe polisie-amptenare het ten minste tien huise van die Getuies deursoek. Die amptenare het baie van die huiseienaars met geweld na die grond toe gedwing of hulle teen die muur vasgedruk. Die polisie het die huise deursoek en elektroniese toestelle, paspoorte, foto’s en geld afgevat. Hulle het toe al die Getuies na die polisiestasie gevat, hulle ondervra en almal behalwe Anatoli Sjaljapin en Sergei Woikof vrygelaat. Die polisie het die twee mans 48 uur lank aangehou voordat hulle vrygelaat is. Maar die mans word nie toegelaat om Belgorod te verlaat nie.

23 Januarie 2018, Kemerowo: Die polisie het 12 huise van die Getuies deursoek en alle elektroniese toestelle, godsdienslektuur en baie dokumente geneem. Voordat hierdie huise deursoek is, het ’n man wat gemaak het asof hy een van Jehovah se Getuies is, die vergaderinge van die Getuies bygewoon en sonder dat hulle geweet het, opnames gemaak. Hy het die opnames vir die polisie gegee. As gevolg van hierdie opnames het die owerheid ’n kriminele ondersoek begin.

Beslissing deur Hooggeregshof kan gesinne dalk skei

Behalwe vir hierdie optrede deur die polisie en die FSB wat heeltemal onredelik is, het die Russiese owerheid beslis dat die Staat kinders van Jehovah se Getuies kan wegneem om by ander mense in die gemeenskap te woon sodat hulle volgens die Staat weer kan inpas. Op 14 November 2017 het die voltallige Hooggeregshof van die Russiese Federasie in resolusie nr. 44 beslis dat ouers “se ouerlike regte deur ’n hof weggeneem kan word” as hulle hulle kinders betrek by ’n godsdiensorganisasie wat as gevolg van “ekstremisme” verban is.

Op 23 November 2017 het die Departement van Onderwys en Wetenskap ’n “voorstel” vir die hele land uitgestuur. Hulle vra dat kinders wat aan “ekstremistiese godsdienstige . . . idees” blootgestel is, by ander mense in die gemeenskap moet woon sodat hulle volgens die Staat weer kan inpas. Die Departement het net twee groepe kinders uitgesonder — die kinders van ISIS-lede en die kinders van Jehovah se Getuies. Hulle het gesê dat daar “tienduisende kinders en tieners” is wie se ouers Jehovah se Getuies is. Tot dusver is daar geen Getuie-kinders wat van hulle ouers af weggeneem is nie.

Waar sal hierdie kampanje van vrees eindig?

Geen ander lid van die Europese Raad het al so ’n wrede aanval op ’n vreedsame godsdiensminderheid uitgevoer nie. Jehovah se Getuies in Rusland kan nie meer openlik bymekaarkom om te aanbid of om die Bybel te lees en te studeer nie. Hulle moet in die geheim aanbid sodat hulle nie gearresteer of krimineel vervolg word nie. Dit is presies wat met hulle in die Sowjet-tydperk gebeur het.

Jehovah se Getuies regoor die wêreld is baie bekommerd oor hulle mede-gelowiges in Rusland en watter uitwerking hierdie kampanje wat deur die regering ondersteun word, sal hê op hulle emosionele, geestelike en fisiese toestand. Philip Brumley, ’n regsverteenwoordiger vir Jehovah se Getuies, het gesê: “Die Russiese regering moet hierdie mishandeling stopsit en bly by hulle internasionale verpligtinge om menseregte en godsdiensvryheid te respekteer. Wat is volgende vir Jehovah se Getuies in Rusland nou dat die regering nie net daarop fokus om die Getuies se regsentiteite aan te val nie, maar individue nou ook in die tronk sit?”