Spring na inhoud

Die Oriol-streekhof

11 JUNIE 2019
RUSLAND

’n Kopie van Dennis Christensen se woorde in die hof op 16 Mei

’n Kopie van Dennis Christensen se woorde in die hof op 16 Mei

Gedurende sy appèlverhoor op Donderdag 16 Mei 2019 is Dennis toegelaat om homself amper ’n uur lank te verdedig. Hier volg Dennis se kragtige woorde aan die hof wat uit Russies vertaal is:

Baie jare gelede het ’n slegte man gesê: ‘Wanneer ’n leuen oor en oor herhaal word, word dit later die waarheid’ – met ander woorde as jy ’n leuen ’n duisend keer oorvertel, word dit waar. Party mense het ander probeer oorreed dat hierdie leuen die waarheid is. Dit het baie moeilikheid veroorsaak en het baie onskuldige mense laat swaarkry.

Dit alles het in die verlede gebeur, en oor die algemeen dink mense vandag dat ons genoeg weet om nie dieselfde foute van die verlede te herhaal nie.

Maar dit lyk asof dit nie die geval is nie. Hierdie metodes om leuens te herhaal, word weer in hierdie hofsaak teen my en ander Jehovah se Getuies in Rusland gebruik. En hierdie leuen veroorsaak weer baie probleme en maak dat baie onskuldige mense swaarkry.

In my geval is dit ’n leuen wanneer hulle sê dat ek in die geheim aangehou het om die bedrywigheid van die Plaaslike Godsdiensorganisasie (LRO) van Jehovah se Getuies in Oriol te bevorder, wat deur die hof ekstremisties verklaar is en verban is.

Hierdie beskuldiging is oor en oor, sonder enige bewyse, regdeur die hofsaak herhaal. Op hierdie manier lyk dit asof hulle probeer het om hierdie leuen die waarheid te maak.

Die waarheid is dat ek nooit enigiets te doen gehad het met die LRO van Jehovah se Getuies in Oriol nie.

Ja, ek is beslis ’n Christen – een van Jehovah se Getuies. Ek en my vriende het verskillende godsdiensvergaderinge bygewoon. Hierdie vergaderinge is deur ’n godsdiensgroep gehou wat niks met die LRO van Jehovah se Getuies in Oriol te doen het nie. Dit was heeltemal wettig volgens Artikel 28 van die Grondwet van die Russiese Federasie.

Ek het nie aangehou met die bedrywigheid van die verbande LRO van Jehovah se Getuies in Oriol nie en ek het geen Russiese wette gebreek nie. Ek was nog nooit betrokke by enigiets ekstremisties nie.

Baie het my al gevra: “Hoekom word vreedsame Jehovah se Getuies as ekstremiste beskryf? En wat het hulle gedoen wat beskou word as ekstremisties?” My antwoord is: “Ek weet nie!”

Jehovah se Getuies het hulle naaste lief soos hulleself. Hulle probeer om goeie dinge te doen om hulle gemeenskap te help. Hulle is eerlike mense wat gehoorsaam is aan die regering se wette en wat belasting betaal. Wat het hulle gedoen wat beskou word as “ekstremisties”? Ek weet eerlik waar nie en gedurende hierdie hofsaak het ek nog steeds nie ’n antwoord op hierdie vraag gekry nie.

Ek word daarvan aangekla dat ek betrokke is by ’n klein regsentiteit wat uit omtrent tien lede bestaan. Hierdie groep is by die regering geregistreer, maar is later deur die hof ekstremisties verklaar. Wanneer en hoe het ek aangehou met die bedrywigheid van hierdie regsentiteit? Wat presies was my rol in die ekstremistiese bedrywigheid?

Ek het nie ’n enkele antwoord op hierdie vrae gekry gedurende die hofsaak nie. En weet julle hoekom? Omdat hulle ’n leuen die waarheid probeer maak deur dit oor en oor te herhaal!

Hier in Rusland probeer party mense baie hard om ander te laat glo dat vreedsame Jehovah se Getuies ekstremiste is, maar dit is nie regverdig nie en dit is ver van die waarheid af. Jehovah se Getuies is nie ekstremiste nie. En weet julle hoekom?

Eerstens, Jehovah se Getuies sluit nie aan by die weermag nie en baklei nie in oorloë nie. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is hulle in Duitsland doodgemaak omdat hulle geweier het om in die Duitse weermag te dien. Hulle het nie gegaan om teen Russiese soldate te baklei en hulle dood te maak nie.

In die USSR is Jehovah se Getuies wreed vervolg en anti-kommunistiese vyande van die nasie genoem. Maar hulle het nie hulle vervolgers gehaat nie.

Vandag is Jehovah se Getuies wêreldwyd in eenheid met mekaar en bestaan hulle uit mense van verskillende nasies en volke. Hulle lewe in vrede met mekaar. Dit wys dat dit nog steeds moontlik is vir mense om in eenheid met mekaar te lewe al verskil hulle baie.

Tweedens, Rusland is die enigste plek in die wêreld waar Jehovah se Getuies van ekstremisme aangekla word. Jehovah se Getuies aanbid God vryelik en vreedsaam in meer as 200 lande regoor die wêreld. Hulle staan bekend as vreedsame mense wat absoluut niks met ekstremisme te doen het nie.

Hulle glo dieselfde leringe wat op die Bybel gebaseer is. Dit moedig hulle aan om goeie eienskappe soos liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, [sagmoedigheid] en selfbeheersing te wys.

In die Bybel word hierdie eienskappe die “vrugte van die gees” genoem en sulke eienskappe veroorsaak nie probleme nie. Hierdie eienskappe het niks met ekstremisme te doen nie. Dit bevoordeel eerder alle mense.

Derdens, selfs Russiese menseregte-spesialiste veroordeel die feit dat die Russiese wet teen ekstremisme teen Jehovah se Getuies gebruik word. Baie van hulle het duidelik gesê dat dit Rusland se reputasie deur die modder sleep, veral omdat Rusland sê dat hulle ’n demokratiese staat is wat deur wette regeer word. Hierdie gerespekteerde spesialiste sou nie so gevoel het as daar bewyse was dat Jehovah se Getuies ekstremisties is nie.

Vierdens, ander lande het Rusland ook veroordeel omdat hulle die Wet op die Teëwerking van Ekstremistiese Bedrywighede op Jehovah se Getuies toegepas het. Die Parlementêre Vergadering van die Europese Raad het vir die Russiese regering gesê om op te hou om hierdie wet teen Jehovah se Getuies te gebruik. Die VN se Menseregtekomitee het meer as een keer gesê dat dit nie goed is dat Rusland hierdie wet teen Jehovah se Getuies gebruik nie. As gevolg hiervan word vreedsame en onskuldige mense vervolg.

Jesus Christus het vir sy volgelinge gewaarsku: “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Johannes 15:20). a Op die ou einde is hy skuldig bevind en doodgemaak op grond van die valse aantyging dat hy ekstremisties was. Dit was ’n leuen en baie onregverdig.

Maar ons lewe nie in die eerste eeu of selfs in die Middeleeue nie. Ons lewe in moderne tye, in ’n tyd waar mense veronderstel is om menseregte en vryheid van godsdiens te hê. Regte wat alle mense moet hê.

Is dit reg om vir iemand te sê dat hy nie in God mag glo nie en om hom dan in die tronk te gooi as hy dit wel doen? Ek dink dit is verkeerd. Dit gebeur net in onderdrukkende lande, nie in demokratiese lande wat deur wette regeer moet word nie. Ek hoop dit is wat Rusland is of probeer om te wees.

Gedurende hierdie hofsaak het ek gehoor dat party in Rusland dit as ekstremisties beskou as iemand glo dat sy godsdiens die enigste ware godsdiens is en dit openlik verkondig. Dit maak glad nie sin nie omdat alle godsdienstige mense glo dat hulle die ware godsdiens het. Hoekom sal hulle aan hulle godsdiens behoort as hulle nie glo dat dit die ware een is nie?

As dít genoeg is om iemand ekstremisties te verklaar, dan was Jesus Christus ook ’n ekstremis. Hy het vir Pontius Pilatus gesê: “Hiervoor is ek gebore en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig. Elkeen wat aan die kant van die waarheid is, luister na my stem.” – Johannes 18:37.

Dit beteken dat [Bybel]waarheid bestaan. Jesus het die waarheid verkondig en dit vir sy dissipels geleer. Hy het nie van algemene waarheid gepraat nie. Hy eerder gepraat van die waarheid oor God se wil. God se wil vir Jesus, “die seun van Dawid” (sy nakomeling), is om te dien as Hoëpriester en Heerser van God se Koninkryk.

Jesus het verduidelik hoekom hy aarde toe gekom het en wat die hoofdoel van sy aardse lewe en bediening was. Dit was om die waarheid oor hierdie Koninkryk te verkondig. Sien mense vandag Jesus as ’n ekstremis net omdat hy die waarheid verkondig het?

Jehovah se Getuies volg sy voorbeeld en verkondig die waarheid wat in die Bybel is. Die waarheid is dat God se Koninkryk al oplossing vir die mens se probleme is. Hulle vertel vir alle mense wat in God se Woord, die Bybel, staan.

Jesus het tot God gebid: “Heilig hulle deur middel van die waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Daarom is dit belangrik dat alle mense die waarheid in die Bybel moet leer. Dit is tot hulle voordeel en het niks te doen met ekstremisme nie.

Jehovah se Getuies is nie die enigste mense wat die Bybel waardeer nie. Die Russiese wetenskaplike Michail Lomonosof het gesê: “Die Skepper het die mens twee boeke gegee. In die een het Hy Sy goddelikheid geopenbaar en in die ander – Sy wil. Die eerste boek is die fisiese wêreld wat Hy geskep het . . . Die tweede boek is die Heilige Skrif.”

Dit is duidelik dat Lomonosof die Heilige Skrif deeglik gestudeer het, en hy was reg. Wanneer ons na die skepping kyk, kan ons baie oor God leer. En ons kan nog meer oor hom leer wanneer ons sy Woord, die Bybel, lees en studeer.

Die Bybel sê self: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, . . . om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Timoteus 3:16, 17). Vir elke goeie werk!

By die Christelike vergaderinge wat ek bygewoon het en aan deelgeneem het, wat gehou is deur ’n godsdiensgroep wat niks te doen gehad het met die regsentiteit LRO van Jehovah se Getuies in Oriol nie, het ons juis bespreek hoe ons goeie dinge vir ander mense kan doen.

In die twee video’s van ons godsdiensvergaderinge op 19 en 26 Februarie 2017, wat ons in die hof gekyk het, is dit duidelik dat daar geen tekens van ekstremistiese bedrywighede is nie. Ons het gedagtes in die Bybel bespreek wat alle mense bevoordeel. Die godsdiensvergaderinge was vreedsaam en aanmoedigend, en dit is hoe alle vergaderinge van Jehovah se Getuies is.

Die gedagtes in die Bybel wat ons bespreek het, is nie sleg vir die gemeenskap nie. Dit help en vertroos eerder baie mense. Vir mense wat al ’n geliefde aan die dood verloor het en daaroor treur, gee die Bybel die volgende vertroostende belofte: “As die laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word.” – 1 Korintiërs 15:26.

Die dood is ons almal se vyand, maar God is nie bang vir die dood nie. Hy belowe in Jesaja 25:8: “Hy sal die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee.”

Wat ’n wonderlike tyd sal dit wees! Daar sal nie meer begrafnisse of begraafplase wees nie. Trane van blydskap sal trane van hartseer vervang wanneer God sy wonderlike belofte om die dooies weer te laat lewe, laat waar word. Uiteindelik sal al die pyn en hartseer wat deur die dood veroorsaak word, iets van die verlede wees.

Hierdie belofte beteken baie vir my omdat ek al baie mense na aan my verloor het. Terwyl ek in aanhouding was, het iemand baie na aan my en wat baie belangrik was vir my, gesterf – my ouma, Helga Margrethe Christensen.

Sy is die eerste een in my familie wat die Bybel begin studeer het en een van Jehovah se Getuies geword het. Sy het eers die waarheid in die Bybel vir my pa geleer en toe vir my. Baie mense wat haar geken het – haar bure, werksmaats en familie – was lief vir haar en het haar gerespekteer.

Sy was ook lief vir alle mense en het hulle gerespekteer maak nie saak wat hulle godsdiens, nasionaliteit of velkleur is nie. Sy het almal probeer help en goeie dinge vir haar bure gedoen. Ongelukkig sal party haar heel moontlik ’n ekstremis noem. Maar die meeste redelike mense sal nie met hulle saamstem nie.

Ek sien uit na die dag wanneer God haar weer sal laat lewe en ons mekaar weer kan sien. Ek kon ongelukkig nie by haar begrafnis wees nie. Ek kon nie my familie deur hierdie moeilike tyd vertroos nie omdat ek in aanhouding was as gevolg van hierdie belaglike klag van ekstremisme.

Die Bybel se hoop dat die dooies weer sal lewe, vertroos my en verseker my dat ek haar nie vir ewig verloor het nie. En eendag sal ons mekaar weer sien op ’n skoon aarde onder die heerskappy van God se Koninkryk. As hierdie hoop my kan help en vertroos, weet ek dit sal ander help en vertroos.

Nog ’n Bybelgedagte wat by ons vergaderinge bespreek word, is die toekomstige paradys op aarde. Daar sal genoeg kos vir almal wees en vrede tussen alle mense. Niemand sal siek wees nie, soos die profesie in Jesaja 33:24 sê: “En geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie. Die volk wat in die land woon, sal vergifnis van hulle oortreding ontvang het.”

Kan dit sleg wees vir die gemeenskap as ons ander van hierdie beloftes vertel? Hierdie beloftes gee mense eerder hoop en maak hulle gelukkig. Jesus het self gesê: “Gelukkig is . . . dié wat die woord van God hoor en dit nakom!” – Lukas 11:28.

Elkeen moet self besluit of hy dit wil glo of nie. God dwing niemand om hom te dien nie. Hy sê in Jeremia 29:11: “‘Want ek weet goed watter gedagtes ek teenoor julle koester’, is die woord van Jehovah, ‘gedagtes van vrede en nie van rampspoed nie, om julle ’n toekoms en ’n hoop te gee.’”

God gee vir ons almal die kans om op die beste manier te lewe. Hy wil hê dat ons ’n goeie verhouding met hom moet hê. Jehovah se Getuies nooi mense om hierdie lewe te kies, ’n hegte vriendskap met God wat tot die ewige lewe lei. Dit het niks met ekstremisme te doen. Hoe is ek besig met “ekstremistiese bedrywigheid”, en hoekom wil hulle my vir ses jaar tronk toe stuur?

Ek het nie soos ’n misdadiger of ekstremis opgetree nie. My bure, ’n plaaslike polisieman en die beamptes by die detensie-sentrum praat goed van my. Daarom wil ek weer vra: “Hoe is ek besig met ‘ekstremistiese bedrywigheid’, en hoekom wil hulle my vir ses jaar tronk toe stuur?”

Ek verstaan dit nie en vir die afgelope twee jaar kan ek dit nog steeds nie begryp nie. Miskien sal die appèlhof spesifieke antwoorde op my vrae hê, want hierdie hof kon dit nie beantwoord nie.

Soos ek alreeds gesê het, ons lewe in moderne tye, nie in die Middeleeue nie. Mense is vandag meer ingelig. Maar dit is baie hartseer dat mense in Rusland weer vir hulle geloof vervolg word, en hulle word selfs gemartel vir hulle geloof.

Op 15 Februarie 2019, toe sewe Jehovah se Getuies ondervra is, het die Ondersoekkomitee in Soergoet hulle gemartel sodat hulle die antwoorde kon kry wat hulle wou hê. Volgens Artikel 51 van die Grondwet van die Russiese Federasie het alle mense in Rusland, insluitende hierdie Getuies, die reg om te weier om teen hulleself en hulle familielede te getuig. Maar die Getuies is hierdie reg geweier.

Hulle moes op hulle knieë gaan met hulle arms bo hulle kop, hulle is op hulle kop en liggaam geslaan en gespot oor hulle nasionaliteit en godsdiens. ’n Sak is oor hulle kop gesit en vasgeplak om hulle nek sodat hulle nie kon asemhaal nie, hulle hande is agter hulle rug vasgemaak en hulle bene is ook vasgemaak. Daar is op hulle geskree en hulle is gedwing om sekere dinge te sê. Party van die Getuies het meer as een keer gevoel dat hulle besig is om dood te gaan en hulle het bewusteloos geword omdat hulle amper versmoor het. Toe is water oor hulle gegooi en is hulle met ’n skoktoestel geskok.

Dit alles is in ’n deskundige ondersoek gesit, maar daar is nie ’n enkele kriminele klag teen die Ondersoekkomitee gebring nie. Die owerheid ignoreer wat gebeur het en sê dat die Getuies hulleself seergemaak het. Maar dis belaglik! Dis ’n verskriklike leuen!

Dit is ’n skande in die moderne geskiedenis van Rusland, en ek hoop dat die skuldiges voor die hof gebring sal word en gestraf word. Hoe kan hulle dit aan mense doen? Hoe kan hulle dieselfde aaklige en sadistiese metodes gebruik wat Hitler en Stalin gebruik het? Ek hoop dit is nie so nie. Ek hoop regtig dat dit ’n fout is en dat hulle dit binnekort sal regstel!

Die hof se beslissing sê: “Dit is krimineel strafbaar en ekstremisties om aan te hou met die bedrywigheid van ’n godsdiensorganisasie wat gelikwideer is deur ’n hofbeslissing, want om aan te hou met ekstremistiese bedrywighede is ’n misdaad.” Dis verstaanbaar. Maar wat het dit met my te doen?

Dit het niks met my te doen nie! Ek het nog nooit enigiets met die LRO van Jehovah se Getuies in Oriol te doen gehad nie. Ek het onder geen omstandighede aangehou met hulle bedrywighede nie.

Alles wat ek gedoen het, het te doen gehad met my godsdiensgroep wat niks te doen het met die regsentiteit van die LRO van Jehovah se Getuies in Oriol nie. Alles wat ek gedoen het, was wettig en het ooreengestem met Artikel 28 van die Grondwet van die Russiese Federasie.

Ek het nooit gedink dat dit wat ek gedoen het, te doen het met die “onwettige” bedrywigheid van die LRO van Jehovah se Getuies in Oriol nie. In een van my telefoongesprekke, wat ons ook in die hof gehoor het, het ek vir my vriend gesê: “Ons is ’n godsdiensgroep. Ons is nie deel van die LRO of die Administratiewe Sentrum nie.”

Die hof het dit geïgnoreer en eerder na die valse getuienis van ’n FSB-agent, A.P. Jermolof, geluister. Die appèlhof het bevestig dat A.P. Jermolof eintlik Oleg Gennadiewitj Koerdjoemof is.

Eers het Oleg Koerdjoemof vir die ondersoeker gesê dat hy niks weet nie, en hy het geweier om teen homself te getuig op grond van Artikel 51 van die Russiese Grondwet. Die volgende dag het hy sy getuienis verander en het hy die skuilnaam A.P. Jermolof gebruik. Later het hy verder onder hierdie skuilnaam getuig.

Toe ons in die hof na die twee video’s van ons godsdiensvergaderinge van 19 en 26 Februarie 2017 gekyk het, wat niks te doen gehad het met die LRO van Jehovah se Getuies in Oriol nie, is dit duidelik dat Oleg Koerdjoemof die een is wat hierdie godsdiensvergaderinge in die geheim opgeneem het. Dit was snaaks om te sien hoe duidelik dit was dat hy die kamera gehad het. Die kamera het beweeg wanneer hy beweeg het, en wanneer iemand met hom gepraat het, kon jy duidelik hoor hoe hy sê: “Hallo, my naam is Oleg.”

Dit beteken dat hy eers as ’n geheime agent vir die FSB werk en video-opnames van ons godsdiensvergaderinge maak. Dan gebruik hy sy regte naam en sê hy dat hy niks weet nie. Die volgende dag lieg hy en gebruik hy ’n skuilnaam – ’n leuen wat hy in die hof herhaal as ’n geheime getuie. Is dit reg?

Volgens die wet het FSB-agente nie die reg om in die hof onder ’n valse identiteit te getuig nie. Maar die aanklaer, die aanklaer se kantoor en die regter in hierdie hofsaak het hierdie wet geïgnoreer en hom toegelaat om valse getuienis te gee. Nou word hierdie getuienis teen my gebruik. Ek kan nie verstaan hoe die hof dit kan toelaat nie.

Ek kan nie verstaan hoe die aanklaer – die aanklaer se kantoor – dit kon toelaat nie. Hulle moet seker maak dat alle Russiese wette gehoorsaam word en nie toelaat dat enige wette geskend word nie. Maar hulle het dit toegelaat deur alles te ignoreer.

Ek vra dat die appèlhof my reg moet verstaan. Ek haat nie hierdie mense nie. Ek is seker hulle is goeie mense met wie ek graag in die toekoms ’n koppie koffie sal wil drink en dan kan ons oor hierdie hele storie lag. Maar ek is nie gelukkig met hoe hulle hulle werk doen nie, om die minste te sê.

Ek verstaan dat dit baie maklik vir die hof was om ’n geheime valse getuie, wat ’n FSB-agent is, te gebruik. Hierdie geheime getuie het nie ’n gewete nie, kan maklik lieg en die waarheid verdraai, en enigiets sê om my in die tronk te laat beland.

Só ’n getuie kan nie vertrou word en as ’n betroubare bron van inligting gebruik word nie. Dit is nie reg om sulke valse getuies te gebruik om onskuldige mense tronk toe te stuur nie.

Ek het omtrent twee jaar gelede in een van my hofsake oor my aanhouding gevra: “Ek vra julle om my lewe terug te gee!” Ek vra dit nog steeds.

Wanneer dit kom by my aanhouding voel ek dat hulle my nie net van alles wil afsny en my skuldig wil bevind nie. Hulle wil my van die publiek weghou sodat mense nie sal weet wat in hierdie saak aangaan nie.

Ek dink dis onwettig en wreed dat hulle my voor en gedurende my saak in die tronk gehou het. Hulle het dit gedoen sodat ek nie myself vir hierdie saak kon voorberei nie en sodat ek nie my storie vir die media kon vertel nie. Maar die tyd sal kom wanneer ek my hele storie kan vertel!

Ja, ek wil hê dat julle my lewe terug moet gee sodat ek vreedsaam en rustig in hierdie pragtige stad saam met my vrou, Irina, kan woon. Vir die afgelope twee jaar het ek nie ’n lewe gehad nie. Ander het besluit hoe ek moet lewe.

Die FSB het my goeie naam deur die modder gesleep. Hulle het dokumente en deskundige ondersoeke vervals. Hulle het valse en geheime getuies gebruik om te lieg en teen my te getuig.

Hulle het dit alles gedoen om mense te laat dink dat ek, ’n vreedsame Christen, eintlik ’n ekstremis is wat gevaarlik vir ander en Rusland se veiligheid is. Hierdie beskuldigings is eintlik snaaks en belaglik.

Dit is hartseer dat hierdie aantygings in die hof aanvaar is en dat die feite geïgnoreer is. U Edele, stop asseblief hierdie onregverdigheid en veg vir die waarheid. Ek vra u: “Gee my lewe terug!”

Soos ek drie maande gelede in die hofsaak gesê het: “Die enigste beslissing van die hof wat ek sal aanvaar, is om vrygespreek en vrygelaat te word en om ’n verskoning en vergoeding te kry. Ek sal niks anders aanvaar nie!” Ek voel nog steeds dieselfde.

Enige ander beslissing sal onregverdig wees, en ek sal dit by die Europese Hof van Menseregte in Straatsburg appelleer. Ek sal definitief die saak daar wen.

Daarna sal die Europese Hof van Menseregte, mense regoor die wêreld en beslis heelwat hooggeplaaste amptenare in Rusland, insluitende die Russiese president Vladimir Vladimirovich Putin, verbaas wees en wonder hoekom die hof in Oriol nie kon sien wat so duidelik vir almal is nie. Hierdie saak teen my is op ’n leuen gegrond wat hulle waar probeer maak het deur dit oor en oor te herhaal.

Is dit regtig nodig om so lank te wag om geregtigheid te kry? As die appèlhof dink dat dit nodig is, wil ek vir julle en almal wat vandag hier is, asook almal wat hierdie saak gevolg het, graag sê: “Ek is gereed hiervoor!”

Ek sal nie opgee nie, want ek weet dat ek nie skuldig is van hierdie aantygings teen my nie en dat ek die waarheid praat. Dit sal heeltemal onregverdig wees om my tronk toe te stuur, maar ek is nie bang daarvoor nie.

Ek is nie bang nie, en ek is nie bekommerd nie. Ek het innerlike vrede en kalmte. My God, Jehovah, sal my nooit verlaat nie. En ek kan alreeds die vervulling van hierdie pragtige woorde sien:

God is nie onregverdig,

want hy vergeet nie my liefde trou.

My God is altyd naby,

en sy arms sal my omvou.

Ja, hy sal my beskerm,

in sy groot liefde, so onverdiend.

Ja, Jehovah is my Vader,

my God en Vriend.

Dis al. Dankie dat julle na my geluister het!

a Dennis het uit die Russiese sinodale vertaling aangehaal. Maar in hierdie artikel word al die tekste uit die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif aangehaal.