21 JANUARIE 2014
RUSLAND
JONGSTE NUUS: Poging om JW.ORG te verbied, misluk
ST. PETERSBURG, Rusland—Op 7 Augustus 2013 het die Tsentralnii-distrikshof van die stad Twer, sowat 160 kilometer noord van Moskou, beslis dat die Bybelonderrigwebwerf jw.org in die hele Russiese Federasie verbied moet word.
Hoewel jw.org deur honderdduisende mense regoor die wêreld besoek word en hoog aangeskryf word deur navorsers, het die hof saamgestem met amptenare wat die gewilde webwerf wou verbied. Die hof het sy beslissing bereik sonder om die uitgewers van die webwerf, die Watchtower Bible and Tract Society of New York, in kennis te stel of enige getuienis van hulle aan te hoor. Jehovah se Getuies het by die Twer-streekhof teen hierdie besluit appèl aangeteken. Die appèl sal op 22 Januarie 2014 aangehoor word.
As die appèl van die hand gewys word, sal die webwerf nie meer beskikbaar wees aan die meer as 160 000 Getuies van Jehovah in Rusland, wat die webwerf gereeld tydens hulle godsdiensvergaderinge en persoonlike en gesinstudie van die Bybel gebruik nie. Dit sal dan ’n misdaad wees om die webwerf in Rusland te bevorder. Daarbenewens sal die ongeveer 142 miljoen mense wat in Rusland woon, jw.org nie kan besoek om gratis inligting oor die Bybel te verkry nie. Jekaterina Elbakjan, ’n doktor van filosofie en ’n kenner van die godsdienswetenskap wat dien as ’n professor by die Akademie vir Arbeid en Maatskaplike Betrekkinge in Moskou, sê oor die webwerf jw.org: “[Dit] is ’n gawe vir enigiemand wat godsdiensnavorsing doen. Die inligting daarop is omvattend en verstaanbaar. Belangrike geestelike en sedelike kwessies word op ’n eenvoudige manier uiteengesit. Wanneer ’n mens die webwerf gebruik, voel jy asof jy hartlik verwelkom word in die huis van een van Jehovah se Getuies.”
Grigori Martinof van St. Petersburg, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Rusland, sê: “Die webwerf jw.org is ’n wonderlike hulpmiddel vir diegene in ons land wat inligting oor die Bybel soek, en dit het geen politieke of kommersiële oogmerke nie. Ons hoop dat die Twer-streekhof sal verseker dat hierdie gewilde onderrigmiddel beskikbaar bly aan alle Russe.”
J.R. Brown, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies by hulle wêreldhoofkwartier in New York, sê: “Die webwerf jw.org is waardevol as ’n navorsingshulp sowel as ’n betroubare inligtingsbron vir gesinne regoor die wêreld. Dit is so gewild dat gemiddeld 900 000 mense die webwerf elke dag besoek om opbouende inligting in sowat 600 tale te verkry. Dit is duidelik dat dit ongeregverdig is om hierdie materiaal te sensor.”
Mediaverteenwoordiger(s):
Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000
Rusland: Grigori Martinof, tel. +7 812 702 2691
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000