Spring na inhoud

29 MEI 2017
RUSLAND

Deense burger in aanhouding ná klopjag deur Russiese polisie op godsdiensvergadering in Oriol

Deense burger in aanhouding ná klopjag deur Russiese polisie op godsdiensvergadering in Oriol

Op 25 Mei 2017 het swaar gewapende polisiebeamptes en agente van die Federale Veiligheidsdiens (FSB) ’n vreedsame weeklikse godsdiensvergadering ontwrig van Jehovah se Getuies in Oriol, Rusland. Die owerheid het gesê dat hulle die Getuies krimineel aankla omdat hulle na bewering voortgaan met die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie. Op 14 Junie 2016 het die regering die Plaaslike Godsdiensorganisasie (LRO) in Oriol op aanklag van ekstremisme gelikwideer. Verder het die owerheid ’n lys gemaak van die persoonlike inligting van almal wat die godsdiensvergaderinge bygewoon het en hulle persoonlike elektroniese toestelle afgevat. Later het hulle ook die huise van die Getuies in Oriol deursoek.

Die owerheid het die mans wat by die vergadering in Oriol was na die kantore van die FSB geneem. En Dennis Christensen, ’n Deense burger en gemeentlike ouerman, word deur die owerheid aangehou. Die aanklaer het ’n dringende aansoek by die Sowjet-streekhof ingedien en gevra dat mnr. Christensen in aanhouding bly totdat sy verhoor begin. Dit sal die FSB genoeg tyd gee om bewyse en getuies bymekaar te kry om hulle saak te ondersteun. Regter Swetlana Naumowa het die aansoek toegestaan en beveel dat mnr. Christensen twee maande lank in aanhouding moet bly. ’n Appèlaansoek teen hierdie bevel is ingedien. As hy skuldig bevind word kan hy ses tot tien jaar tronkstraf kry onder Artikel 282.2, deel 1, van die Strafwet.

Die gemeente van Jehovah se Getuies in Oriol was besig om as ’n groep aanbidders ’n godsdiensvergadering te hou—dit is nie ’n regsentiteit nie. Hierdie optrede deur die Russiese owerheid wys dat hulle daarop uit is om die Getuies se aanbidding aan te val en nie net hulle regsentiteite (LRO’s) nie. Dit is soortgelyk aan die ondervinding van die Getuies in Taganrog. Die owerheid daar het eers die LRO gelikwideer en toe later 16 Getuies krimineel aangekla van ekstremisme omdat hulle voortgegaan het om vreedsaam bymekaar te kom vir aanbidding. In November 2015 is hulle almal skuldig bevind, maar hulle vonnisse en boetes is opgeskort. Hulle saak word tans deur die Europese Hof van Menseregte ondersoek.