Spring na inhoud

28 NOVEMBER 2014
RUSLAND

Sal die streekhof van Rostof Jehovah se Getuies vryspreek of opsluit?

Sal die streekhof van Rostof Jehovah se Getuies vryspreek of opsluit?

Op 11 Desember 2014 sal die streekhof van Rostof die appèlsaak verhoor wat volg op die strafsaak teen 16 Getuies van Jehovah in Taganrog, Rusland. Hulle is vervolg omdat hulle vreedsame godsdiensvergaderinge bygewoon en georganiseer het.

Die Getuies se beproewing het in 2011 begin, toe die plaaslike owerheid hulle huise op aggressiewe manier deursoek het en in die geheim hulle godsdiensvergaderinge opgeneem het. Dit het uiteindelik tot kriminele aanklagte gelei. Ná ’n 15 maande lange verhoor het die stadshof van Taganrog sewe Getuies skuldig bevind op 30 Julie 2014. Die regter het al sewe ’n swaar boete opgelê en vier van hulle tot ’n lang tronkstraf gevonnis, maar hy het hulle onmiddellik van die boetes vrygestel en die tronkvonnisse opgeskort. Die regter het die ander nege Getuies om tegniese redes vrygespreek, maar hy het volgehou dat hulle wel aan ekstremistiese bedrywighede deelgeneem het. Al 16 Getuies het appèl aangeteken en gevra dat hulle heeltemal van die kriminele aanklagte vrygespreek word.

Die aanklaer het ook appèl aangeteken. Hy dring daarop aan dat die streekhof van Rostof die vier Getuies, wat godsdiensbedienaars is, laat opsluit en hulle onmiddellik ná die verhoor in hegtenis laat neem. Hy dring ook daarop aan dat die hof die kwytskeldings van die ander nege Getuies herroep en hulle aan “ekstremisme” skuldig bevind.

Wasili Kalin, ’n verteenwoordiger van die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland, het gesê: “Ek hoop dat die streekhof van Rostof sal sien dat hierdie 16 slagoffers van godsdiensonderdrukking reeds ’n verdraaiing van die reg moes verduur en hulle van die kriminele aanklagte teen hulle sal vryspreek.”