Spring na inhoud

2 JUNIE 2014
RUSLAND

Die vervolging van Jehovah se Getuies in Taganrog, Rusland, duur voort

Die vervolging van Jehovah se Getuies in Taganrog, Rusland, duur voort

Die kriminele verhoor van 16 van Jehovah se Getuies het gedurende Mei 2014 in Taganrog se Stadshof voortgeduur. Dit is die enigste verhoor in Rusland waartydens druk op burgers geplaas word om hulle geloof te verloën as hulle nie krimineel vervolg wil word nie. Een van die beskuldigdes het gesê: “Hulle wil hê dat ek soos almal anders moet wees; hulle wil nie hê dat ek anders moet wees nie. Hulle wil nie hê dat ek met ander oor die Bybel moet gaan praat nie. Ek weet nie wat volgende gaan gebeur nie.”

Die Russiese owerheid pas die Wet op die Teëwerking van Ekstremistiese Bedrywighede verkeerdelik toe op die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies, en dit gebeur al hoe meer sedert 2009. Viktor Zjenkof, ’n prokureur van die Getuies, het gesê: “Ek het die gebeure van die afgelope paar jaar in verband met die vervolging van Jehovah se Getuies ontleed en tot die slotsom gekom dat wetstoepassingsinstansies Jehovah se Getuies hulle teiken gemaak het en ’n voortdurende stryd teen hulle voer.” Die plaaslike owerheid in Taganrog het selfs ’n aggressiewer standpunt ingeneem en behandel die Getuies asof hulle godsdiensbedrywighede in die streek verbied word, al is Jehovah se Getuies al sedert 1992 in die Russiese Federasie geregistreer. Die bedoeling van die owerheid van Taganrog is duidelik. Nog ’n Getuie wat aangekla is, het sy ondervinding vertel: “Die speurder het reguit in sy kantoor vir my gesê: ‘Teken die dokument wat sê dat jy nie meer een van Jehovah se Getuies is nie en dan sal ons alle aanklagtes teen jou terugtrek en jou vrylaat—gaan waar jy wil.’”

Afhangende van wat die hof beslis, kan die 16 Getuies ’n boete of dwangarbeid opgelê word of tot tronkstraf gevonnis word. As hulle skuldig bevind word, sal godsdiensvryheid regoor Rusland bedreig word. Al Jehovah se Getuies in Rusland sal weet dat hulle voor soortgelyke kriminele vervolging te staan kan kom bloot omdat hulle hulle godsdiens vreedsaam beoefen. Aljona Borodina, nog ’n prokureur van die beskuldigdes, het gesê: “Die Getuies het voortdurend te kampe met inmenging deur staatsowerhede. Hulle lektuur word op die lys van ekstremistiese materiaal geplaas. As hofbeslissings ’n boek as ekstremistiese materiaal verklaar, word dit vernietig. ’n Skrywer het eenkeer gesê: ‘Waar hulle boeke verbrand, sal hulle ook, op die ou end, mense verbrand.’ Godsdiensvryheid word ernstig bedreig.”

Na verwagting sal die regter die een of ander tyd in Junie 2014 finaal uitspraak lewer. Jehovah se Getuies regoor die wêreld en baie ander wat oor godsdiensvryheid besorg is, stel in die uitkoms belang.