Spring na inhoud

22 APRIL 2014
RUSLAND

Russiese burgers word weens hulle geloof strafregtelik vervolg

Russiese burgers word weens hulle geloof strafregtelik vervolg

In die eerste saak van sy soort in moderne Rusland word 16 van Jehovah se Getuies * in Taganrog strafregtelik vervolg bloot omdat hulle vreedsaam vir aanbidding bymekaarkom en hulle geloof beoefen. * As hulle skuldig bevind word, kan hulle boetes van tot 300 000 roebels (R100 000) of gevangenisstraf van tot agt jaar opgelê word. Die 16 Getuies is beveel om nie Taganrog te verlaat totdat die hof uitspraak gelewer het nie.

Die vervolging van Jehovah se Getuies in Taganrog het in Junie 2008 begin, toe die streeksaanklaer van Rostof ’n aansoek ingedien het om die Plaaslike Godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies in Taganrog te ontbind en te verban. Hy het ook beweer dat die lektuur van Jehovah se Getuies ekstremistiese taal bevat. Die hof het die aanklaer se versoek toegestaan, en die Hooggeregshof van die Russiese Federasie het die beslissing op 8 Desember 2009 bekragtig.

Ná die uitspraak van die Hooggeregshof het die plaaslike owerheid beslag gelê op die Koninkryksaal (plek van aanbidding) van Jehovah se Getuies in Taganrog, en daarom moes die Getuies in privaat huise vir aanbidding bymekaarkom. Die hof het ook die owerheid beveel om 34 publikasies van Jehovah se Getuies by die Federale Lys van Ekstremistiese Materiaal te voeg. Jehovah se Getuies staan hierdie uitsprake teë en het ’n saak aanhangig gemaak by die Europese Hof van Menseregte.

Die owerheid in Taganrog gebruik hierdie verwikkelinge as ’n rede om die Getuies te teister en te terroriseer. In 2011 het polisiebeamptes 19 huise van die Getuies reeds om sesuur die oggend binnegedring en gesinne wakker gemaak, insluitende bejaardes en kinders, om na sogenaamde ekstremistiese lektuur te soek. Die soektogte het 8 tot 11 uur lank geduur. Die polisiebeamptes het sonder onderskeid op alle godsdienspublikasies beslag gelê en persoonlike items geneem. Die plaaslike owerheid het godsdiensvergaderinge en diegene wat dit bygewoon het, in die geheim verfilm in ’n poging om hulle van ’n misdaad te beskuldig. Wat in Taganrog gebeur het, het aanleiding gegee tot ’n veldtog wat deur die staat ondersteun word om Jehovah se Getuies regoor Rusland te teister en te mishandel. *

Jehovah se Getuies is ’n godsdiens wat internasionaal erken word. Die Russiese Grondwet en die Europese Konvensie oor Menseregte waarborg godsdiensvryheid. Hooggeregshowe van regoor die wêreld het hierdie reg van Jehovah se Getuies bevestig. En tog maak regeringsamptenare in Taganrog asof die Getuies hierdie reg nie verdien nie.

Die strafsaak duur voort, en ’n beslissing word in Mei verwag nadat die hof finale argumente aangehoor het. As die hof die 16 Getuies skuldig bevind, sal dit die vryheid van die meer as 800 Getuies van Jehovah in Taganrog bedreig. Dit kan ook as ’n presedent dien vir ander strafsake wat nog nie afgehandel is teen Getuies in ander streke van Rusland nie.

Grigori Martinof, ’n woordvoerder van Jehovah se Getuies in Rusland, het gesê: “Hierdie inmenging met godsdiensvryheid is ongegrond. Jehovah se Getuies hou geen bedreiging in vir die integriteit en sekuriteit van die Russiese Federasie nie. Hierdie mense word geteister en onregverdig behandel bloot omdat hulle Jehovah se Getuies is.”

^ par. 2 Let wel: Net 10 van die 16 is in die foto hierbo

^ par. 2 Die Russiese owerheid het in 2012 ’n aanklag teen die 16 Getuies ingedien volgens die Strafwet van die Russiese Federasie, onder Artikel 282.2(1) en (2) waarvolgens hulle tronkstraf van tot drie jaar opgelê kan word. Vier gemeentelike ouer manne is ook onder Artikel 150(4) van die Strafwet aangekla, wat vyf tot agt jaar se tronkstraf tot gevolg kan hê.

^ par. 5 Sedert die beslissing van die Hooggeregshof van die Russiese Federasie op 8 Desember 2009 het polisiebeamptes meer as 1 600 Getuies in hegtenis geneem, meer as 70 van hulle godsdienspublikasies as “ekstremisties” verklaar en dit verbied, meer as 171 huise van Getuies en plekke van aanbidding binnegedring en deursoek asook 69 godsdiensvergaderinge onderbreek.