Spring na inhoud

31 JULIE 2014
RUSLAND

Hof in Taganrog bevind Jehovah se Getuies skuldig weens hulle godsdiensbedrywighede

Hof in Taganrog bevind Jehovah se Getuies skuldig weens hulle godsdiensbedrywighede

Op 30 Julie 2014 het die stadshof van Taganrog 7 van die 16 Getuies wat tereg gestaan het, skuldig bevind en gevonnis omdat hulle vreedsame godsdiensvergaderinge bygewoon en georganiseer het. Hulle is vervolg bloot omdat hulle deelneem aan dieselfde godsdiensbedrywighede as Jehovah se Getuies regoor die wêreld. Hierdie oordeel stel ’n gevaarlike presedent vir die beperking van die godsdiensvryheid van Jehovah se Getuies regoor Rusland.

Die regter sou die beslissing op 28 Julie 2014 aangekondig het, maar het dit uitgestel tot die volgende dag. Op 29 Julie het die regter die hele dag lank die 100 bladsy lange beslissing gelees en op die oggend van 30 Julie daarmee voortgegaan. Hy het vier gemeentelike ouer manne tronkvonnisse van vyf tot vyf en ’n half jaar en ’n boete van 100 000 roebel (R29 900) opgelê. Hy het drie ander Getuies boetes van 50 000 tot 60 000 roebel (R14 900 tot R18 100) elk opgelê. Die regter het almal hulle boete kwytgeskeld omdat die ondersoek en verhoor die verjaringswet oorskry het, en hy het die tronkvonnisse opgeskort. Die ander nege Getuies is vrygespreek.

Die regter het hierdie beslissing gebaseer op die uitspraak wat die streekhof van Rostof in September 2009 gelewer het, naamlik dat die Plaaslike Godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies in Taganrog gelikwideer moet word. Hoewel die uitspraak van 2009 slegs op die regspersoon gemik was, het die regter beslis dat die godsdiensbedrywighede van alle Getuies van Jehovah in Taganrog en omstreke verbode is.

Gedurende die 15 maande lange verhoor het die beskuldigdes verklaar dat hulle nie van hulle geloof sou afstand doen nie en hulle aanbidding as Jehovah se Getuies sou voortsit. Vir diegene wat skuldig bevind is, beteken hulle vasbeslotenheid om hulle godsdiensbedrywighede voort te sit dat hulle as gewoontemisdadigers opgesluit kan word.

Victor Zjenkof, een van die regsverteenwoordigers in die saak, het gesê: “Ek vrees wat hierdie beslissing vir Jehovah se Getuies in Rusland kan beteken. Die wetstoepassingsowerheid in Taganrog en regoor Rusland kan hierdie beslissing in ’n propagandaveldtog gebruik om voort te gaan om Jehovah se Getuies te vervolg—nou met die werklike bedreiging van opsluiting—bloot weens hulle godsdiensbedrywighede.”

Die Getuies in Taganrog appelleer die beslissing by die streekhof van Rostof.