Spring na inhoud

3 MAART 2014
RUSLAND

Opvolgartikel: Poging om JW.ORG te verbied, misluk

Opvolgartikel: Poging om JW.ORG te verbied, misluk

ST. PETERSBURG, Rusland—Op 22 Januarie 2014 het Jehovah se Getuies ’n groot regsoorwinning behaal toe ’n appèlhof ’n beslissing nietig verklaar het wat ’n laerhof bereik het om jw.org, die amptelike webwerf van Jehovah se Getuies, regoor Rusland te verbied.

Die Twer-streekhof het die beslissing wat die Tsentralnii-distrikshof op 7 Augustus 2013 bereik het, nietig verklaar. Die appèlhof het bevind dat die beslissing van die laerhof om die webwerf te verbied, ongeregverdig was, aangesien Jehovah se Getuies, die eienaars, nie die geleentheid gegee is om hulle saak by die verhoor te stel nie. Die plaaslike aanklaer in Twer het die saak voor die hof gebring omdat daar publikasies op jw.org was wat deur die Russiese howe as “ekstremisties” verklaar is. Toe Jehovah se Getuies van die distrikshof se beslissing uitgevind het, het hulle hierdie publikasies onmiddellik in Rusland van jw.org af verwyder. Die Twer-streekhof het bevestig dat die Getuies in Rusland aan die eise van die wet voldoen en het die verbod gelig.

Jehovah se Getuies betwis die beslissings wat deur die Russiese howe bereik is waarvolgens party van hulle publikasies as “ekstremisties” verklaar is, en hulle het etlike aansoeke tot die Europese Hof van Menseregte gerig om hierdie beslissings nietig te laat verklaar.

Grigori Martinof, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Rusland, sê: “Ons is bly dat die regters gesien het hoe voordelig ons webwerf is en dat ons redelike pogings aangewend het om ons aan die uitsprake van die Russiese howe te onderwerp. Ons sal aanhou om die integriteit van ons publikasies en die reg van Russiese burgers om ten volle by ons Bybelonderrigtingswerk baat te vind, te verdedig.”

“Regoor die wêreld verheug Getuies hulle oor hierdie oorwinning”, sê J.R. Brown, ’n woordvoerder by die Getuies se wêreldhoofkwartier. “Danksy hierdie regsoorwinning sal alle Russiese burgers steeds toegang hê tot hierdie uitstekende Bybelonderrigwebwerf.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Rusland: Grigori Martinof, tel. +7 812 702 2691

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000