27 JULIE 2015
RUSLAND
Rusland verbied amptelike webwerf van Jehovah se Getuies
Sewe maande nadat die Hooggeregshof van die Russiese Federasie www.pr418.com ekstremisties verklaar het, het die Russiese owerheid die amptelike webwerf van Jehovah se Getuies verbied. Die verbod het op 21 Julie 2015 in werking getree, toe die Russiese Federasie se Departement van Justisie jw.org op die Federale Lys van Ekstremistiese Materiaal geplaas het. Internetverskaffers regoor Rusland het toegang tot die webwerf afgesny, en dit is nou ’n misdaad om dit in die land te bevorder. Rusland is die enigste land in die wêreld wat jw.org verbied het.
Gebeure wat tot die verbod op JW.ORG gelei het
Jehovah se Getuies in Rusland was nie daarvan bewus dat owerhede in die stad Twer in 2013 in die geheim regsprosedures aan die gang gesit het om die webwerf te laat verbied nie. Die stadsaanklaer van Twer het ’n klag by die Tsentralnii-distrikshof ingedien waarin hy daarop aangedring het dat jw.org verbied word omdat dit ’n paar godsdienspublikasies van Jehovah se Getuies bevat wat in vroeëre Russiese hofbeslissings ekstremisties verklaar is. * Op 7 Augustus 2013 het die distrikshof die aanklaer se versoek toegestaan sonder om Jehovah se Getuies daarvan in kennis te stel en het dit jw.org ekstremisties verklaar.
Toe die Getuies ’n maand later deur die plaaslike media van die beslissing uitvind, het hulle appèl aangeteken en die publikasies wat ekstremisties verklaar is, vrywillig verwyder sodat niemand in Rusland toegang daartoe het nie. Op 22 Januarie 2014 het die Twer-streekhof die verhoorhof se beslissing ongeldig verklaar en beslis dat die hof geen wetlike rede gehad het om jw.org te verbied nie en dat dit die webwerf se kopiereghouer moes gevra het om aan die verhoor deel te neem.
Die verteenwoordiger van die hoofaanklaer, S.G. Kechlerof, was nie tevrede met die streekhof se beslissing nie en het appèl aangeteken by die Hooggeregshof van die Russiese Federasie. Die Getuies het nie voldoende kennisgewing van die verhoor ontvang nie. Tog het die Hooggeregshof op 2 Desember 2014 die aanklaer se kassasie-appèl verhoor, sonder die verdediging.
Die Hooggeregshof het bevestig dat die Getuies die publikasies kort ná die verhoorhof se beslissing in Augustus 2013 verwyder het, maar het sonder grondige rede aangevoer dat hierdie publikasies moontlik weer op die webwerf kan verskyn. Daarom het die Hof beslis dat die streekhof se beslissing ongeldig is en het dit die verhoorhof se beslissing ondersteun deur jw.org ekstremisties te verklaar. * Jehovah se Getuies het by die Hooggeregshof appèl aangeteken teen die beslissing, maar die Hof het dit verwerp. Hulle het ook appèl aangeteken by die Voorsitter van die Hooggeregshof, wat hulle appèl op 8 Julie 2015 van die hand gewys het.
Beslissing stel godsdiensvryheid in gevaar
Jehovah se Getuies voer aan dat die Hooggeregshof se beslissing arbitrêr en ongegrond is omdat geen godsdienspublikasies wat ekstremisties verklaar is, op jw.org in Rusland beskikbaar was sedert die herfs van 2013 nie. As gevolg van die beslissing het die Russiese owerhede beveel dat Internetverskaffers toegang tot jw.org in Rusland afsny. Dit ontneem lesers toegang tot die Bybel in meer as 130 tale en Bybelpublikasies in meer as 700 tale, insluitende Russies en Russiese gebaretaal. Enigiemand in Rusland wat ander aanspoor om die webwerf te gebruik, kan nou administratief of strafregtelik vervolg word vir sogenaamde ekstremistiese bedrywighede. Weens hierdie verbod het meer as 170 000 Getuies van Jehovah toegang verloor tot ’n hulpbron wat noodsaaklik is vir hulle geestelikheid en daaglikse aanbidding.
Die beslissing van die Hooggeregshof voorsien nog ’n verskoning vir party Russiese amptenare om die vreedsame godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies te versteur. Solank party amptenare voortgaan om Rusland se Wet op die Teëwerking van Ekstremistiese Bedrywighede verkeerd toe te pas, sal godsdiensvryheid in Rusland beperk word en steeds in gevaar wees. Jehovah se Getuies hoop opreg dat regverdige amptenare die basiese mensereg op godsdiensvryheid en ’n regverdige verhoor sal verdedig, soos gewaarborg deur Rusland se internasionale ooreenkomste en sy Grondwet.
^ par. 4 Teen 1 Junie 2015 het Russiese howe 78 publikasies van Jehovah se Getuies ekstremisties verklaar. Die Getuies stry teen hierdie beslissings, in plaaslike howe asook in die Europese Hof van Menseregte.
^ par. 7 Die verteenwoordiger van die aanklaer het spesifiek ’n kassasie-appèl ingedien, en die Regterlike Kamer vir Siviele Sake van die Hooggeregshof het oor die saak beslis.