Spring na inhoud

Links bo: Die brief op 15 Maart 2023 van die minister van onderwys. Onder: ’n Paar van die Getuie-studente wat uit die skool geskors was en hulle ouers

1 MEI 2023
RWANDA

Departement van Onderwys in Rwanda verdedig skoolkinders se reg op godsdiensvryheid

Departement van Onderwys in Rwanda verdedig skoolkinders se reg op godsdiensvryheid

Op 15 Maart 2023 het die Rwandese minister van onderwys skole regoor die land beveel om Jehovah se Getuies weer by skole te aanvaar. Die studente is geskors omdat hulle geweier het om deel te neem aan gebruike wat teen hulle godsdiensoortuigings is. Ten minste 80 studente is uit skole geskors.

Die minister van onderwys het ’n brief aan al die burgemeesters en skoolbeamptes regoor Rwanda gestuur. In hierdie briewe het die minister van onderwys gesê dat studente nie meer geskors mag word op grond van hulle godsdiensoortuigings nie. Sy het na die Grondwet van die Republiek van Rwanda verwys en gesê: “Elke Rwandese persoon het die reg op opvoeding. Die regering waarborg dat elke persoon van Rwanda die vryheid het om te praat oor hulle denke en oortuigings en dat hy sy eie godsdiens mag beoefen.” Sy het ook geskryf dat enige iemand wat keer dat ’n kind klas bywoon, “’n ongeregtigheid pleeg en gestraf kan word”. Sy het skoolbeamptes daaraan herinner dat “geen student uit die skool geskors mag word op grond van sy of haar denke, gewete, godsdiens of aanbidding nie . . . Daarom moet skoolbeamptes ophou om studente op hierdie manier te mishandel en studente toelaat om terug te kom skool toe.”

Een van die kinders wat geskors was, was jong suster Jeanette Niyonkuru. Sy verduidelik: “Nadat ek geskors is, was ek ’n jaar lank nie in die skool nie. Al het ek uiteindelik ’n skool gekry wat my aanvaar het, moes ek elke dag twee ure lank stap om daar uit te kom.” Kinders wat nie na skole kon reis wat ver is nie, moes ophou skoolgaan.

Broer en suster Hakizimana se drie kinders is uit die skool geskors nadat hulle geweier het om aan verpligte godsdiensaktiwiteite by die skool deel te neem. Broer Hakizimana het gesê: “Ons het ’n brief vir die skoolhoof gestuur, maar hy het nie daarop gereageer nie. Ons het selfs ’n vergadering met die skool se direkteur gereël. Hy het geluister terwyl ons kinders hulle oortuigings verduidelik het deur die Bybel te gebruik, maar niks het verander nie. Ons was bly om te hoor oor die minister se instruksies. Ons het agterna met die streekamptenare ontmoet, en ons kinders is toegelaat om terug te gaan skool toe.”

Ons is dankbaar dat die minister van onderwys hierdie instruksie gegee het, wat die regte van ons skoolkinders in Rwanda beskerm. Hierdie jongmense het “’n goeie gewete” behou en eer op Jehovah se naam gebring. – 1 Petrus 3:16.