Spring na inhoud

6 MEI 2016
RWANDA

Geregtigheid seëvier in die Republiek van Rwanda

Geregtigheid seëvier in die Republiek van Rwanda

Danksy die pogings van die Ombudsman en onpartydige regters in Rwanda het reg uiteindelik geskied aan Jehovah se Getuies na ’n lang regstryd. Die Hooggeregshof het aanvanklik teen die Getuies beslis en hulle beveel om vergoeding te betaal aan die eienaars van ’n gebou wat gesloop is op bevel van stadsamptenare van Kigali. Maar die Ombudsman het beslis dat ’n duidelike onreg plaasgevind het en het die Hooggeregshof gevra om die beslissing te heroorweeg.

Stadsamptenare in Kigali beveel ’n opruiming

In 2006 het stadsamptenare in Kigali, as deel van ’n groot opruimingsveldtog, die inwoners beveel om alle straatstalletjies wat op openbare grond is, te verwyder. Hierdie bevel het inwoners ook verplig om die openbare grond rondom hulle eiendom in stand te hou en mooi te maak.

Die bevel het ook vereis dat onwettige geboue verwyder word. Dit het ’n gebou ingesluit wat Mr. Ngayabateranya sonder die nodige permitte op openbare grond opgerig het. Boonop het hy boumateriaal en -metodes gebruik wat nie aan bouregulasies voldoen het nie. Nadat die 21-dae grasietydperk sonder enige optrede verstryk het, het die distriksburgemeester van Gasabo ’n skriftelike bevel uitgevaardig dat onwettige geboue gesloop moet word. Nadat die geboue verwyder is, het die nasionale kantoor van Jehovah se Getuies wat ook in die Gasabo-streek in die Remera-sektor van Kigali is, die openbare area naby hulle gebou begin mooimaak deur ’n wandelpad te lê en ’n tuin aan te plant.

Hof hou die Getuies verantwoordelik

Nadat stadsamptenare Mr. Ngayabateranya se gebou laat sloop het, het hy en sy vennote aanklagte by die hof in Gasabo ingedien, waarin hulle die Getuies daarvan beskuldig dat hulle die gebou afgebreek het. Mr. Ngayabateranya en sy vennote het aangedring dat hulle geregtig is op skadevergoeding vir die gesloopte gebou, al kon hulle geen geldige bewyse hiervoor aan die hof voorsien nie. Jehovah se Getuies het amptelike dokumentasie voorgelê wat duidelik bewys het dat stadsamptenare verantwoordelik was vir die sloping. Maar die hof het die bewyse geïgnoreer en teen die Getuies beslis.

Die hoërhof herroep die beslissing

Die Getuies het hulle op die hoërhof beroep om hierdie duidelike onreg reg te stel. Nadat die hoërhof die bewyse hersien het, het dit vasgestel dat daar geen grondige rede was vir die laerhof se beslissing teen die Getuies nie. Op 5 November 2010 het die hoërhof beslis dat Mr. Ngayabateranya en sy vennote ’n nietige hofsaak aanhangig gemaak het en hulle beveel om skadevergoeding en koste van 800 000 Rwandese frank (R20 445) te betaal.

Hooggeregshof neem nie belangrike bewyse in ag nie

Mr. Ngayabateranya het teen die beslissing geappelleer by die Hooggeregshof van Rwanda. Die Uitvoerende Sekretaris van die Remera Sektor het in die hof getuig dat Mr. Ngayabateranya se gebou onwettig opgerig was en gesloop is weens ’n staatsprogram om die stad op te knap. Die Hooggeregshof het erken dat Jehovah se Getuies die gebou nie afgebreek het nie. Maar die hof het tot die gevolgtrekking gekom dat die Getuies die sloping aangehits het. Die hof het versuim om belangrike getuienis in ag te neem en het toe geredeneer dat die Getuies onregverdig bevoordeel is omdat hulle die plek waar die gebou voorheen gestaan het, mooigemaak het. Die hof het skadevergoeding van 22 055 242 Rwandese frank (R 495 592) aan die klaers toegestaan. Die Getuies het die bedrag onder protes op 4 April 2013 betaal.

Die Ombudsman versoek dat die Hooggeregshof die onreg regstel

Jehovah se Getuies het ’n klag ingedien by die Kantoor van die Ombudsman omdat hulle valslik beskuldig is en onregverdig verantwoordelik gehou is vir die sloping van Mr. Ngayabateranya se gebou. Die hoofombudsman van Rwanda, Mev. Aloysie Cyanzayire, het die klag asook die Hooggeregshof se beslissing ondersoek.

Nadat Mev. Cyanzayire die bewyse ondersoek het, het sy vasgestel dat die stad die gebou laat sloop het omdat Mr. Ngayabateranya nie Rwandese wetgewing nagekom het nie. Sy het ook bevestig dat daar geen rede was om die Getuies te straf omdat hulle die stad se riglyne om openbare grond rondom hulle eiendom mooi te maak, ondersteun het nie. Die Getuies se opknapping en volgehoue instandhouding van die gebied was “diensvaardig” en ’n teken van “merkwaardige ondersteuning van die staat se program om die stad skoon te maak”.

Onwettige geboue voordat die bevel in die stad Kigali uitgevaardig is en die opgeknapte openbare grond nadat die geboue verwyder is

Op 4 Desember 2013 het Mev. Cyanzayire die Hooggeregshof gevra om sy uitspraak teen Jehovah se Getuies te hersien. ’n Nuwe paneel regters het die saak aangehoor, en op 17 Oktober 2014 het die hof sy eie uitspraak ter syde gestel en bevind dat Mr. Ngayabateranya se klag ongegrond was. Mr. Ngayabateranya is beveel om die geld wat hy ten onregte as gevolg van die vorige beslissing ontvang het, terug te betaal en om die regskoste te betaal. Prokureurs wat Jehovah se Getuies verteenwoordig en ’n balju werk tans aan die saak om hierdie fondse terug te kry.

Beskerming onder die wet

Jehovah se Getuies is dankbaar vir Mev. Cyanzayire se hulp in haar rol as Ombudsman en is ook dankbaar teenoor die Hooggeregshof vir die ommekeer in die saak. Alle wetsgehoorsame burgers waardeer ongetwyfeld die feit dat die Republiek van Rwanda ’n doeltreffende stelsel het om onregte reg te stel en seker te maak dat geregtigheid seëvier.