Spring na inhoud

2 JULIE 2015
RWANDA

Hof in Rwanda neem standpunt in teen godsdiensdiskriminasie

Hof in Rwanda neem standpunt in teen godsdiensdiskriminasie

’n Hof in die Karongi-distrik van Rwanda het die reg op godsdiensvryheid van agt leerders wat Jehovah se Getuies is, gehandhaaf. Die saak het gehandel oor hulle weiering om deel te neem aan godsdiensonderrig omdat hulle gewete dit nie toegelaat het nie.

Die meerderheid skole in Rwanda het noue bande met godsdiensorganisasies. Party van hierdie skole vereis dat leerders hulle kerkdienste bywoon en kerkbelasting betaal. Van 2008 tot 2014 het skoolowerhede 160 skoolkinders wat Jehovah se Getuies is, geskors omdat hulle weier om dit te doen. Hoewel dit landwyd ’n probleem bly, toon die saak in Karongi, Westelike Provinsie, dat owerhede in Rwanda godsdiensdiskriminasie met welslae die hoof kan bied.

Skorsings weens godsdiensdiskriminasie

Op 12 Mei 2014 het skoolowerhede agt Getuieleerders, tussen die ouderdomme van 13 en 20, * van die Groupe Scolaire Musango-skool in Karongie geskors omdat hulle geweier het om aan ’n kerkdiens deel te neem. Toe hulle geskors is, het hulle ouers die voorval by die Uitvoerende Sekretaris van die Rwankuba-sektor aangemeld, wat beveel het dat die Getuieleerders weer by die skool aanvaar moet word. Die skoolowerhede, wat nie tevrede was met hierdie besluit nie, het hulle taktiek verander en die leerders daarvan beskuldig dat hulle ’n gebrek aan respek vir die volkslied getoon het omdat hulle geweier het om dit te sing. Op 4 Junie 2014, slegs twee dae nadat die leerders weer by die skool aanvaar is, het die polisie na die skool gekom en hulle in hegtenis geneem.

Die polisie het die leerders ses dae in die tronk aangehou. Beamptes het elkeen van hulle gedreig en verbaal mishandel en het die twee oudste leerders geslaan omdat hulle na bewering die jongeres beïnvloed het. Ten spyte van die mishandeling het al agt geweier om hulle godsdiensoortuigings prys te gee.

Hof verontskuldig skoolkinders

Die polisie het op 9 Junie 2014 sewe van die leerders vrygelaat, en die aanklaer het sy klag teen die jongste een teruggetrek. Die polisie het die oudste een egter nog nege dae aangehou. Die regter het toe beveel dat hy voorlopig onder regterlike toesig vrygelaat moet word tot die verhoor op 14 Oktober 2014.

By die verhoor het die regter elkeen van die leerders ondervra. Een van hulle het namens die ander gepraat en aan die regter verduidelik dat die skool hulle in werklikheid nie geskors het omdat hulle geweier het om die volkslied te sing nie, maar omdat hulle nie kerkbelasting betaal of kerdienste by die skool bywoon nie.

Die regter het die aanklaer toe gevra om nog bewyse te voorsien om die aantyging te staaf dat hulle “’n gebrek aan respek vir die volkslied getoon het”. Toe die aanklaer die leerders ondervra het om meer besonderhede te kry, het die leerders bevestig dat hulle geen gebrek aan respek geopenbaar het toe ander die volkslied gesing het nie.

In sy geskrewe verklaring wat op 28 November 2014 gepubliseer is, het die hof in Karongi beslis dat ’n weiering om die volkslied te sing, “nie beskou moet word as ’n daad wat die volkslied skend of wat ’n gebrek aan respek daarvoor toon nie”. Die hof se beslissing het die wet gehandhaaf, het die kinders verontskuldig en sal dalk help om ’n einde te maak aan godsdiensdiskriminasie in Rwanda se skole.

Versoek om basiese regte te respekteer

Jehovah se Getuies in Rwanda is dankbaar dat die uitkoms vir die leerders van die Groupe Scolaire Musango-skool so positief was. Maar in ander gevalle het Getuiekinders wat weens hulle godsdiensoortuigings geskors is, geen ander keuse as om na ’n ander skool toe te gaan nie. Party kinders kan nie hulle opvoeding voortsit nie omdat die enigste ander skole wat hulle kan bywoon, privaat skole is wat hulle gesin nie kan bekostig nie.

Getuie-ouers wil vir hulle kinders dieselfde geleenthede verseker as ander ouers. Hulle wil hê dat hulle kinders lewensvaardighede moet ontwikkel en produktiewe lede van die samelewing moet word. Jehovah se Getuies hoop dat hierdie gunstige beslissing deur die hof in Karongi in alle skole in Rwanda respek vir kinders se reg op vryheid van gewete en godsdiens sal bevorder.

^ par. 5 In Rwanda word ’n mens op 21 mondig (Artikel 360 van die Burgerlike Wetboek).