Spring na inhoud

Broer Charles Rutaganira het die volksmoord oorleef omdat mede-Getuies liefdevol hulle lewe in gevaar gestel het om vir hom te sorg en hom te beskerm

1 AUGUSTUS 2019
RWANDA

Die Rwandese volksmoord – 25 Jaar later

Die Rwandese volksmoord – 25 Jaar later

Die volksmoord van 1994 teen die Tutsi’s in Rwanda was een van die verskriklikste volksmoorde in moderne geskiedenis. Die Verenigde Nasies skat dat omtrent 800 000 tot 1 000 000 mense in ongeveer 100 dae vermoor is. Die meeste van die slagoffers was Tutsi’s, maar Hutu’s wat geweier het om die moorde te ondersteun, was ook doodgemaak. Dit beteken dat die 2 500 Jehovah se Getuies in Rwanda se lewe ook in gevaar was.

Ongeveer 400 van ons Rwandese broers en susters, waarvan die meeste Tutsi’s was, het in hierdie volksmoord gesterf. Maar daar was ook Hutu-Getuies wat gesterf het omdat dit vir hulle ondenkbaar was om ander seer te maak, en omdat hulle hulle Christenbroers en -susters probeer beskerm het.

Broer Charles Rutaganira is ’n Tutsi en het die volksmoord 25 jaar gelede oorleef. Hy onthou baie duidelik hoe hy een Sondagoggend seker was dat hy sou sterf en hoe selfopofferende liefde sy lewe gered het.

Broer Rutaganira was heeltemal geskok toe sowat 30 mense sy huis omring het om hom aan te val. Hy sê: “Die meeste van hulle was my bure. Ons het mekaar elke dag gegroet.” Maar hy kon sien dat hulle verander het toe die mense daardie oggend na sy huis toe gekom het. Hy sê: “Hulle oë was rooi en vol haat. Hulle het soos diere gelyk wat hulle prooi wou verslind.”

Die mense het broer Rutaganira aangeval met kapmesse, spiese en knopkieries met spykers – net omdat hy ’n Tutsi is. Toe sleep hulle hom tot in die straat en los hom daar om dood te gaan. Terwyl hy daar half bewusteloos gelê en bloei het, het ’n groep werkers met grawe gekom om hom te begrawe. Dit lyk asof een van hulle vir broer Rutaganira herken het en geweet het dat hy ’n vreedsame Christen is. Hy het gevra: “Hoekom het hulle hierdie Jehovah se Getuie doodgemaak?” Niemand het geantwoord nie. Toe het dit swaar begin reën en hulle het weggegaan.

Samuel Rwamakuba, ’n Hutu-broer wat daar naby gewoon het, het gehoor wat met broer Rutaganira gebeur het. Hy het sy seun in die swaar reën gestuur om die broer na hulle huis toe te dra. Twee ander Hutu-broers was dapper genoeg om op die gevaarlike strate te gaan om medisyne en verbande te bring. Die moordenaars het vir broer Rutaganira kom soek. Toe hulle hom by ’n Hutu se huis gekry het, het die leier gedreig: “Ons sal hierdie probleem môreoggend oplos.”

Al die Hutu-broers het geweet dat hulle doodgemaak kon word as hulle die Tutsi’s beskerm het. Broer Rutaganira verduidelik: “As iemand veronderstel was om doodgemaak te word, en jy het hulle lewe probeer red, sou hulle definitief vir jou en daardie persoon saam doodmaak.”

Omdat broer Rwamakuba ’n Hutu is, kon hy vlug en verby die gewapende manne kom wat die pad dag en nag dopgehou het. Maar hy het geweier om sy beseerde Tutsi-broer agter te laat. Hy het vir hom gesê: “Ek sal jou nie hier los nie. Waar jy doodgaan, sal ek doodgaan.”

Soldate het vroeg die volgende oggend gekom en teen die moordenaars geveg. Die moordenaars het toe gevlug.

Nadat broer Rutaganira se wonde gesond geword het, het hy teruggegaan na sy gemeente waar daar baie mense was wat getreur het oor die sinnelose moorde van hulle geliefdes. Baie het ook deur emosionele en fisiese pyn gegaan omdat hulle seergemaak of verkrag is. Broer Rutaganira vertel: “Die eerste paar maande ná die volksmoord was veral moeilik.” Maar omdat die broers en susters van die Hutu- en Tutsi-stamme mekaar verstaan het en lief was vir mekaar, het hulle mekaar gehelp om die hartseer te oorkom. Hy vertel verder: “Hulle het hard gewerk om nie skynheilig of partydig te wees nie, en daar was ook nie verdeeldheid onder hulle nie.”

In April 2019 is ’n uitstalling by die Nasionale Sentrum vir Burgerlike en Menseregte in Atlanta, Georgia, gehou. Dit het die verhale ingesluit van broers en susters wat die volksmoord in Rwanda oorleef het en dié wat gesterf het

Al was die Getuies in Rwanda deur intense trauma, het hulle voortgegaan met hulle Christelike vergaderinge en die predikingswerk. Hulle het baie mense gekry wat dringend vertroosting en hoop nodig gehad het. Party mense het deur ’n verskriklike moeilike tyd gegaan omdat baie van hulle geliefdes wreed vermoor is. Ander het met skuldgevoelens gesukkel as gevolg van al die aaklige goed wat hulle gedoen het. Baie mense in Rwanda het gevoel dat hulle in die steek gelaat is – deur hulle bure, deur hulle leiers en veral deur hulle kerke. (Sien die venster “ Die kerke se rol in die volksmoord in Rwanda.”)

Maar baie mense in Rwanda het gesien dat Jehovah se volk vreedsaam is, en dit het hulle uniek gemaak. ’n Katolieke Tutsi-skoolonderwyser en haar ses kinders is deur ’n Getuie-gesin wat sy skaars geken het, weggesteek. Sy sê: “Ek het baie respek vir Jehovah se Getuies.”. . . Baie mense het gesien dat hulle nie by die volksmoord betrokke geraak het nie.”

Nadat die volksmoord verby was, het baie mense in Rwanda na die Getuies se vergaderinge toe gekom. Elke verkondiger het gemiddeld drie Bybelstudies gehou. Gedurende die diensjaar van 1996 het die getal Getuies in Rwanda met meer as 60 persent toegeneem omdat die vertroostende Koninkryksboodskap mense getrek het.

Hierdie jaar is dit 25 jaar vandat die volksmoord gebeur het. Baie mense, veral mense wat dit oorleef het, dink terug aan wat gebeur het. Broer Rutaganira en ander ooggetuies is oortuig dat opregte Christelike liefde baie sterker is as rassehaat. Hy sê: “Jesus Christus het sy ware volgelinge geleer om ander meer lief te hê as hulleself. Ek lewe vandag omdat hierdie soort liefde ’n werklikheid is onder Jehovah se volk.” – Johannes 15:13.