31 JANUARIE 2023
SENEGAL
JW.ORG-stalletjie trek besoekers by ’n internasionale skou in Senegal
Vanaf 15 tot 31 Desember 2022 het Jehovah se Getuies vir die eerste keer deelgeneem aan die jaarlikse Dakar Internasionale Skou (FIDAK) in Senegal. Dit was die 30ste herdenking van die skou. By die skou was daar handgemaakte items, openbare dienste en kulturele uitstallings. Die geleentheid trek honderdduisende besoekers uit verskillende dele van Afrika en regoor die wêreld.
Ons broers en susters het ’n stalletjie opgestel met inligting oor jw.org asook publikasies oor gesinslewe. Verkondigers het video’s gewys uit die reeks Word Jehovah se vriend en Witbord-tekenprente sowel as onderhoude met tieners uit die videoreeks Wat ander jongmense sê.
Baie besoekers was nie bekend met ons webwerf nie en het sommer daar by die stalletjie op hulle foon na die webwerf gegaan. Baie was beïndruk dat daar inligting in meer as 1 000 tale op jw.org beskikbaar is, insluitende die plaaslike taal, Wolof. Meer as 3 000 publikasies was vir die besoekers gegee wat daarvoor gevra het.
Een besoeker het gesê: “Die tyd wat ons by julle stalletjie gespandeer het, was die belangrikste deel van ons besoek aan die skou.” Iemand anders het gesê: “As daar ’n prys vir die beste stalletjie was, sou julle dit gewen het!”
Broer Martin Laud, wat gehelp het om die stalletjie te organiseer, het gesê: “Dit was lekker om so baie besoekers van verskillende lande te verwelkom. Baie van hulle het opreg dankie gesê omdat ons gratis praktiese inligting uit die Bybel voorsien.”
Ons is bly oor die positiewe resultate as gevolg van ons deelname aan hierdie geleentheid. Dit is net nog ’n manier hoe Jehovah se volk aanhou om die “praktiese wysheid” uit God se Woord met ander te deel. – Spreuke 3:21, 22.