Spring na inhoud

4 SEPTEMBER 2017
SENTRAAL-AFRIKAANSE REPUBLIEK

Getuies in die Sentraal-Afrikaanse Republiek vlug as gevolg van gewapende konflikte

Getuies in die Sentraal-Afrikaanse Republiek vlug as gevolg van gewapende konflikte

’n Lid van die noodlenigings-komitee deel noodlenigings-vooraad uit.

DOUALA, Kameroen — Jehovah se Getuies in die Sentraal-Afrikaanse Republiek is gedwing om na Kameroen en die Demokratiese Republiek van die Kongo te vlug as gevolg van toenemende etniese en godsdiensgeweld in dele van die land. Hulle is deur mede-gelowiges verwelkom en versorg.

Nadat geweld op 13 Julie 2017 uitgebreek het, het 15 Getuies van Jehovah en hulle families, insluitende ’n pasgebore baba, na die dorpie Mbai Mboum in die ooste van Kameroen gevlug. ’n Week later moes omtrent 60 Getuies van Jehovah uit Bangassou in die Sentraal-Afrikaanse Republiek oor die grens vlug as gevolg van ’n ander voorval van konflik waar gewapende groepe huise afgebrand het. Die Getuies het skuiling gesoek by hulle broers en susters in die dorp Ndu in die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Een van die vlugtelinge is ’n pasgebore baba.

Jean-Bernard Fayanga, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, sê: “Ons is baie bly om te hoor dat nie een van ons broers en susters in hierdie konflikte dood is nie. Ons werk saam met die takkantore in Kameroen en die Kongo om noodlenigings-komitees in die streek te organiseer. Hulle maak seker dat mede-Getuies drinkwater, kos en skuiling het en gee hulle ook geestelike ondersteuning.”

Getuie-ouermanne het gereël dat geestelike ondersteuning aan vlugtelinge gegee word. Bybelvideo’s word in die vlugtelinge se eie taal, Sango, gewys.

Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies koördineer noodlenigingspogings vanaf hulle wêreldhoofkwartier. Fondse wat aan die Getuies se wêreldwye predikingswerk geskenk is, word hiervoor gebruik.

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Kameroen: Gilles Mba, +237-6996-30727

Sentraal-Afrikaanse Republiek: Jean-Bernard Fayanga, +236-7575-1605

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000