13 DESEMBER 2023
SERWIË
Die goeie nuus word bekend gemaak by die Internasionale Boekeskou in Belgrado
Vanaf 21 tot 29 Oktober 2023 is die 66ste Internasionale Boekeskou in Belgrado, Serwië, gehou. Meer as 190 000 mense het die geleentheid bygewoon. Jehovah se Getuies het ’n stalletjie opgestel met inligting wat die praktiese waarde van God se Woord beklemtoon het. Meer as 100 broers en susters het besoekers gewys hoe om die Bybel se antwoorde op belangrike vrae te kry.
’n Vrou het na die stalletjie toe gekom en vir ons suster gesê dat sy baie vrae oor die Bybel het. Sy was baie bly om uiteindelik iemand te ontmoet wat haar kon help om die antwoorde te kry. Reëlings was getref om hulle gesprek voort te sit.
’n Jong man het ’n kopie van die brosjure Is lewe geskep? gekry. Hy het gesê dat dit vir hom moeilik is om die Bybel se verslag oor die skepping te verstaan al glo hy in God. Byvoorbeeld, hy het gewonder of die Bybel leer dat God alles in ses letterlike dae geskep het. Hy was baie bly toe die Getuies vir hom ’n artikel op jw.org gewys het wat hierdie vraag beantwoord.
Twee tienermeisies het baie belanggestel in die boeke Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1 en 2. Hulle was bly om uit te vind dat hierdie boeke belangrike onderwerpe bespreek soos hoe om ware vriende te hê, hoe om goed op skool te doen en wat die verskil tussen verliefdheid en liefde is. Een van die meisies het opgewonde gesê: “Hierdie boeke is wonderlik. Ons gaan dit beslis lees!”
Ons is baie dankbaar vir ons broers en susters in Belgrado se harde werk by die boekeskou. Mag Jehovah hulle seën vir hulle ywerige pogings om “sy naam in die openbaar bekend [te] maak”. – Hebreërs 13:15.