Spring na inhoud

3 JULIE 2024
SERWIË

Spesiale predikingskampanje in afgeleë gebiede in Serwië lewer uitstekende resultate

Spesiale predikingskampanje in afgeleë gebiede in Serwië lewer uitstekende resultate

Vanaf 17 tot 26 Mei 2024 het meer as 600 broers en susters van Serwië en Montenegro aan ’n spesiale predikingskampanje regoor verskeie afgeleë gebiede in Serwië deelgeneem. Dit is die eerste predikingskampanje wat in persoon gedoen is waaraan Jehovah se Getuies in Serwië in meer as 20 jaar deelgeneem het. Daar word geskat dat meer as 1,5 miljoen mense – amper ’n kwart van Serwië se bevolking – in afgeleë gebiede woon wat ons broers nie gereeld kan besoek nie. Verbasend genoeg het meer as 1 800 mense gedurende die kampanje vir ’n Bybelstudie gevra.

In die dorpie Beli Potok het ’n vrou wat ’n goeie gesprek met die Getuies gehad het, ’n hele paar van haar bure gebel en gesê: “Daar is mense wat kom om met jou oor God en die Bybel te praat. Luister mooi na hulle!” ’n Vrou wat in die laaste huis in die dorpie bly, het vir die Getuies gewag. Sy was opgewonde om met hulle te praat en het hulle ingenooi. Sy het verduidelik dat sy voorheen die Herdenking van Christus se dood bygewoon het. Die vrou het gretig ’n persoonlike Bybelstudie aanvaar.

Twee susters praat met ’n ouer vrou in die dorpie Trgovište

Twee Getuies was by ’n lektuurtrollie in die dorp Smederevska Palanka toe ’n man met die naam Radomir met hulle begin praat het. Hy het gesê dat hy bly was om mense wat in God glo, in sy dorp te sien. Hy het toe gevra oor die gratis persoonlike Bybelstudieprogram wat op die trollie vertoon is. Nadat die broers verduidelik het hoe ons Bybelstudieprogram gehou word, het Radomir ’n Bybelstudie met graagte aanvaar.

Wat ’n seën was hierdie predikingskampanje tog vir ons broers en susters in Serwië en vir almal wat dors na Bybelwaarhede. – Johannes 7:37.