Spring na inhoud

’n Gesin in Sierra Leone met hulle nuwe Christelike Griekse Geskrifte in Krio net nadat hulle die toespraak oor die vrystelling op nasionale televisie gekyk het

4 MEI 2020
SIERRA LEONE

Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte nou beskikbaar in Krio

Vrygestel in Sierra Leone deur middel van nasionale radio en televisie

Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte nou beskikbaar in Krio

Daar is meer as 2 000 verkondigers in die Krio-veld in Sierra Leone. Hulle was baie bly toe die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Krio op 26 April 2020 vrygestel is.

Dit was nie moontlik vir ons broers om bymekaar te kom vir hierdie spesiale geleentheid nie omdat die regering wette gemaak het gedurende die koronavirus-pandemie wat samekomste verbied. Die broers kon ook nie die spesiale geleentheid stroom nie omdat baie verkondigers in Sierra Leone, veral dié wat in kleiner stede woon, nie elektroniese toestelle het nie.

Daarom het die Takkomitee in Liberië, wat toesig hou oor die werk in Sierra Leone, toestemming by die Onderrigtingskomitee van die Bestuursliggaam gekry om ’n verkorte program op te neem om die Bybel vry te stel. Verkondigers was toe aangemoedig om in te skakel by die spesiale program op die radio of televisie, maar hulle het nie geweet dat die Bybel vrygestel sou word nie.

Broer Alfred Gunn, ’n lid van die Takkomitee in Liberië, stel die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Krio vry

’n Paar dae voor die vrystelling is pakkies met die nuwe Bybels by die verkondigers se huise afgelewer. Die pakkies het instruksies gehad wat gesê het dat dit nie oopgemaak mag word tot ná die spesiale program nie.

Onmiddellik ná die vrystelling het suster Megan Diaz, ’n suster wat dien waar daar hulp nodig is in Sierra Leone, gesê: “My Bybelstudie het my gebel om te sê dat sy tyd gemaak het om na die toespraak te luister en dat sy so bly was dat Jehovah hierdie vertaling beskikbaar gemaak het! Ons sal ons nuwe vertaling môre vir ons studie gebruik.”

Tounkara is ’n Bybelstudie wat Krio praat. Hy het gesê: “Die vrystelling van die Christelike Griekse Geskrifte in Krio wys duidelik dat Jehovah wil hê dat sy boodskap almal moet bereik, nie net sodat hulle kan leer nie, maar sodat hulle dit goed genoeg kan verstaan om hulle kinders te leer. Ek is baie baie bly oor hierdie nuwe vertaling in ons taal!”

Krio is ’n Kreoolse taal wat op Engels gebaseer is en deur die meeste mense in Sierra Leone gepraat word. Vier vertalers het twee en ’n half jaar gevat om die Christelike Griekse Geskrifte in Krio te vertaal. Die elektroniese weergawe is op Maandag 27 April op jw.org beskikbaar gemaak om afgelaai te word.

Ons is saam met ons broers en susters in Sierra Leone bly en ons waardeer die nuwe Christelike Griekse Geskrifte in Krio. Dit is nog ’n ‘goeie gawe en volmaakte geskenk’ van ons hemelse Vader, Jehovah. – Jakobus 1:17.