Spring na inhoud

Links: ’n Gebou in Khartoem, Soedan, is heeltemal verwoes as gevolg van die onlangse geweld. Regs: ’n Getuiegesin wat as gevolg van die geweld gevlug het, word deur broers in die stad Kosti, Soedan, verwelkom

3 AUGUSTUS 2023
SOEDAN

Geestelike voorsienings versterk ons broers en susters wat vlug vir die geweld in Soedan

Geestelike voorsienings versterk ons broers en susters wat vlug vir die geweld in Soedan

Soos voorheen op 12 Mei 2023 berig is in die “Nuus”-gedeelte van jw.org, het hewige gevegte tussen twee groepe in Khartoem, die hoofstad van Soedan, tot die dood of besering van duisende mense gelei. Party van ons broers en susters wat in of naby Khartoem bly, het die persoonlike besluit gemaak om uit die stad te vlug. Terwyl hulle gevlug het, is hulle versterk en aangemoedig deur die geestelike voorsienings van Jehovah se organisasie.

Ajoeja (voorste ry, links) woon ’n gemeentelike vergadering by in Kassala, Soedan

Byvoorbeeld, ’n paar dae nadat die gevegte begin het, het Ajoeja, ’n 23-jarige pioniersuster van Khartoem, ’n vergadering deur middel van videoverbinding bygewoon waar die Wagtoring-artikel “Bly helder van verstand, bly wakker!” bespreek was. Sy sê: “Hierdie artikel het my herinner dat die dinge wat besig is om om my te gebeur, in die Bybel voorspel is. Dit was net die aanmoediging wat ek op daardie stadium nodig gehad het.” Soos wat toestande versleg het, het Ajoeja besluit om die stad te verlaat. Sy sê: “Gedurende die reis het ek nog meer vertroosting gekry deur na ons Broadcasting-liedjies en ander oudio-opnames te luister. Ek het tot Jehovah gebid dat ons veilig moet aankom.” Ajoeja het veilig aangekom en was hartlik deur haar broers en susters in Kassala verwelkom.

Eli (middel) hou aan om in Kosti, Soedan, die Bybel se boodskap van hoop met ander te deel

Eli, ’n 24-jarige ouerman en pionier van El Hadj Joesif, wat naby die geweld in Khartoem was, het ongeveer 330 kilometer na die stad Kosti gevlug. Hy is deur sy broers en susters verwelkom wat vir hom kos en ’n blyplek gegee het. Later het Eli besef dat die dagteks wat hy elke dag gelees het in die week wat hy gevlug het, hom baie aangemoedig het. Byvoorbeeld, Psalm 91:2 het Eli daaraan herinner om Jehovah sy skuilplek en vesting te maak. Eli sê: “Daar is nie regtig vrede in die wêreld wat so vol probleme is nie, en politieke en militêre leiers kan nie ons probleme oplos nie. Ons ware hoop is in God se Koninkryk, wat al ons probleme sal oplos.”

Tia en sy vrou, Joelia, is pioniers van Omdoerman, wat ook naby Khartoem is. Terwyl die geweld erger geword het, het hulle gedink aan ’n onlangse artikel in Die Wagtoring wat Christene aangemoedig het om dadelik op te tree wanneer persoonlike besluite geneem word. Daarom het Tia en Joelia, toe hulle sien hoe die geweld in hulle stad erger word, besluit om vinnig op te tree en die stad te verlaat. Nadat Tia en Joelia veilig by hulle nuwe bestemming aangekom het en hartlik deur die broers en susters verwelkom is, was hulle baie dankbaar vir die inligting wat hulle in Die Wagtoring gekry het. Joelia sê: “Ons is trots om deel te wees van hierdie liefdevolle organisasie. Dit is regtig waar dat Jehovah se hand nie te kort is om te red nie.”

Tia en Joelia (regs) hou ’n Bybelstudie met mense wat belangstel nadat hulle van die geweld gevlug het

Al die broers en susters wat in hierdie artikel genoem is, het aangehou met hulle geestelike roetine in hulle nuwe blyplekke. Dit sluit in om gereeld deel te neem aan die vergaderinge, uit te gaan in die bediening en selfs Bybelstudies te begin. Al hierdie geestelike aktiwiteite en ook om nader aan die broers en susters in hulle nuwe gemeentes te kom, het stabiliteit en vreugde aan hulle gegee.

Dit is baie aanmoedigend om te sien hoe ons broers en susters in Soedan aanhou om vertroosting en hoop by Jehovah en uit die Skrif te kry. – Romeine 15:4, 5.