27 MEI 2020
SPANJE
Getuie-paartjie in Spanje ontvang brief van waardering van verpleegster
Gedurende die pandemie skryf baie broers en susters aanmoedigende briewe vir hulle naaste om hulle te vertroos. Broer Josué Laporta en sy vrou, Vanesa, het briewe van vertroosting geskryf vir hospitaalwerkers en pasiënte met COVID-19 in ’n hospitaal in Barcelona, Spanje. Een verpleegster het vir hulle teruggeskryf. Hieronder is haar brief, waarvoor sy toestemming gegee het om gepubliseer te word, met ’n paar veranderinge. a
Ek is ’n verpleegster . . . wat ’n brief skryf namens [naam is verwyder], ’n 97-jarige ouma. Ons het jou brief vanoggend vir haar gelees. Enige hospitaalwerker kan briewe vir pasiënte aflewer, maar ek is seker dat dit nie toevallig is dat ek hierdie brief moes aflewer nie. Hierdie brief het ten minste twee mense, vir my en [die pasiënt] . . . , laat besef dat dit moontlik is om hoop te hê. [Die pasiënt] het dalk nie meer baie tyd oor om te lewe nie, en sy het vir my gesê dat sy nie hierdie wêreld wil verlaat sonder dat sy vir jou, Josué, hierdie vraag gevra het nie: “Al is ek 97 jaar oud, kan ek nog steeds baat vind by die beloftes wat in die Bybel belowe word?”
Ek kon vanoggend tien minute van my tyd neem om vir haar ’n bietjie op die webwerf te lees waarna jy verwys het. Haar gesig het verhelder en haar oë was vol emosie. Sy het lank laas so gelukkig en rustig gelyk. Toe het ons die video “Waarom het Jesus gesterf?” gekyk.
Ek het ook die tydskrif die [“Ontwaak!”] oor stres gelees, en dit help my deur hierdie moeilike situasie. Soos jy weet, is dit nie maklik nie.
Gesondheidswerkers hier het nie sielkundiges om mee te praat nie, maar die inligting wat julle vir ons aanbied, is 24 uur per dag beskikbaar. Hierdie inligting gee ons iets om oor na te dink. Wanneer hierdie pandemie verby is, wil ek graag meer weet. Ek hoop dat jy beskikbaar sal wees om my meer te leer en te verseker dat ’n beter wêreld moontlik is. Ek weet nie hoe om vir God dankie te sê dat jou brief op daardie dag gekom het, op presies dieselfde tyd as my skof nie, en dat ek die een was wat dit vir [die pasiënt] kon gee.
Ek hoop dat jy en jou gesin gesond is, en ek is seker dat julle hoop julle help om die huidige situasie beter te hanteer as die meeste van ons. Dankie vir die tyd wat jy vir mense soos ek en [die pasiënt] opoffer. Al ken ons mekaar nie, het julle vir ons die grootste glimlagte gegee wat ons in die afgelope ses weke gehad het.
Ek sê vir julle uit my hart uit dankie.
Briewe van waardering soos hierdie een moedig ons aan om aan te hou preek gedurende hierdie gesondheidskrisis. Ons bid dat die woorde wat ons kies om in die bediening te gebruik, ander sal vertroos. – Spreuke 15:23.
a Die oorspronklike brief is in Spaans geskryf.