Spring na inhoud

’n Gebou wat pas opgeknap is vir die Vertaalafdeling by die takkantoor in Spanje

19 SEPTEMBER 2022
SPANJE

Opknappingswerk by die takkantoor in Spanje help vertaalwerk

Opknappingswerk by die takkantoor in Spanje help vertaalwerk

Die takkantoor in Spanje het onlangs opknappingswerk aan een van sy kantoorgeboue voltooi. Die gebou sal hoofsaaklik deur die Vertaalafdeling gebruik word. Die opknapping aan die kantoor is deel van ’n groter opknappingsprojek by die takkantoor wat na verwagting teen 2025 voltooi sal wees.

Die fasiliteit het nou ook ’n biblioteek wat tot 4 000 naslaanwerke kan bevat wat met vertaling kan help. Daar is boeke in die biblioteek wat nie elektronies beskikbaar is nie.

Broer John Bursnall, ’n lid van die Takkomitee, sê: “Die werk by die takkantoor in Spanje het oor die afgelope 25 jaar soveel verander. In plaas van ’n takkantoor wat hoofsaaklik ’n drukkery en ’n pakhuis is, sorg die takkantoor nou vir vertaling in Spaans en Spaanse Gebaretaal, asook vir die transkripsie van braillepublikasies in baie Europese tale. En daarom het ons meer kantoorspasie nodig gehad. Hierdie opknappingswerk sal ons sonder twyfel help om ons wêreldwye broederskap beter te ondersteun.”

Daar is ook met opknappingswerk aan die vier woongeboue begin. Amper 200 konstruksievrywilligers sal met die werk help. Sewentig tydelike huise wat geskuif kan word, word op die oomblik op die takkantoor se eiendom opgerig sodat die werkers gedurende die projek daarin kan bly.

Tydelike huise wat gereed is om na die takkantoor in Spanje verskuif te word sodat die vrywillige werkers daarin kan bly gedurende die volgende fase van die opknappingsprojek

Die werk in Spanje hou aan groei. Daar is nou 120 530 verkondigers in die land, waarvan 23 565 op die oomblik as gewone pioniers dien. Spanje het agt opeenvolgende hoogtepunte in die aantal voltydse pioniers in die afgelope jaar gehad.

Ons weet dat Jehovah hierdie projek sal ondersteun sodat hierdie fasiliteite hulle doel sal bereik om eer op sy heilige naam te bring. – Psalm 61:8.