24 MEI 2023
SPANJE
Spanje gee geskiedkundige belastingvrystelling aan Jehovah se Getuies
Op 26 April 2023 het die Spaanse regering ’n belangrike verandering aan die land se belastingwet goedgekeur. Hierdie besluit sal Jehovah se Getuies in Spanje op baie maniere bevoordeel.
Die regering se besluit beteken dat ons organisasie nie eiendomsbelasting op teokratiese fasiliteite in die land hoef te betaal nie. Dit laat mense in Spanje ook toe wat die werk van Jehovah se Getuies finansieel ondersteun, om belastingaftrekkings op hulle bydraes te kry. Hierdie verandering bevestig ook dat Jehovah se Getuies ’n bekende godsdiens is soos erken word deur die Europese Hof van Menseregte.
Alhoewel Jehovah se Getuies in Spanje in Junie 2006 as ’n goed gevestigde godsdiens erken is, moes hulle aanhou om belasting te betaal al was dit nie van ander godsdienste in Spanje vereis om dit te doen nie. Ons broers het aangehou om aansoek te doen om dieselfde regte as ander godsdienste te hê. Op 24 April 2023 het amptenare van die Kantoor van die President onverwags verteenwoordigers van Jehovah se Getuies in Spanje vir ’n vergadering genooi. By hierdie vergadering is ons broers in kennis gestel dat die belastingwet wat van toepassing is op niewinsgewende organisasies, aangepas sal word en dat dit nou op Jehovah se Getuies van toepassing sal wees. Twee dae later, op 26 April 2023, het die Kongres van Afgevaardigdes die aanpassing aan die wet goedgekeur. Hierdie verandering aan die wet sal vanaf Junie 2023 geldig wees.
Ons is baie opgewonde oor hierdie belangrike besluit wat die godsdiensvryheid van Jehovah se Getuies in Spanje bevestig. – Filippense 1:7.