Spring na inhoud

24 APRIL 2024
SUID-AFRIKA

Duisende Getuies deel die Bybel se boodskap van vertroosting met mense wat Xhosa in Suid-Afrika praat

Duisende Getuies deel die Bybel se boodskap van vertroosting met mense wat Xhosa in Suid-Afrika praat

Van 29 Januarie tot 11 Maart 2024 het meer as 11 000 broers en susters van regoor Suid-Afrika aan ’n Xhosa-predikingskampanje in die Oos-Kaap deelgeneem. Die meeste van die sewe miljoen mense wat in hierdie provinsie bly, praat Xhosa. As gevolg van die kampanje het meer as 2 700 mense ’n persoonlike Bybelstudie aangevra.

Gedurende die kampanje het twee susters ’n vrou ontmoet wie se broer twee weke vroeër in ’n tragiese ongeluk oorlede is. Die vrou het begin huil en die susters van haar broer se dood vertel, maar toe het hulle haar vertroos deur Openbaring 21:3, 4 vir haar te lees. Omdat sy meer wou leer oor die Bybel se belofte dat God ’n einde aan die dood en swaarkry sal maak, het die vrou gevra waar ons vergaderinge gehou word. ’n Bybelstudie is ook met haar begin.

’n Suster met die naam Zukiswa het ’n gesprek met ’n vrou wat erg artritis het, begin. Dit is vir haar moeilik om vir haar kinders kos te maak. Die vrou was bekommerd dat haar kinders daardie dag niks sou hê om te eet nie omdat sy nie die krag gehad het om deeg vir die brood te knie nie. Zukiswa het liefdevol aangebied om die deeg te knie terwyl die suster wat saam met haar was, die Bybel se boodskap met die vrou gedeel het. Die vrou was beïndruk deur hulle besorgdheid en liefdevolle ondersteuning, en daarom het sy opgewonde vir baie van haar vriende vertel wat die twee susters vir haar gedoen het. Kort daarna het sy die Bybel saam met die Getuies begin studeer.

Terwyl hulle aan die deur-tot-deur-bediening in die stad Gqeberha deelgeneem het, het twee broers ’n man ontmoet wie se been afgesit is. Hy het genoem dat hy al lank gewonder het hoekom God Satan toelaat om oor die wêreld te regeer, aangesien die mensdom aan God behoort (1 Johannes 5:19). Ons broers het die Bybel gebruik om sy vrae te beantwoord. Later daardie selfde dag, nadat die man en sy vrou na die video Hoekom laat God toe dat mense swaarkry? gekyk het, was hulle bly om ’n Bybelstudie te aanvaar.

Een van ons susters, wat ook in Gqeberha gepreek het, het ’n vrou gevra of sy Psalm 37:29 sal lees. Nadat sy die teks uit haar eie Bybel gelees het, het die vrou gesê dat sy dit nie verstaan nie. Die suster het toe die teks vir haar uit die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel in Xhosa gelees. Die vrou het uitgeroep: “Die Xhosa wat in hierdie Bybel gebruik is, klink so natuurlik. Ek verstaan dit beter as my eie Bybel!” Sy geniet nou ook ’n gereelde Bybelstudie.

Ons is baie bly dat so baie mense wat Xhosa praat, regdeur Suid-Afrika reageer op die boodskap van hoop wat “die God van alle vertroosting” in sy Woord, die Bybel, gee. – 2 Korintiërs 1:3.