Spring na inhoud

Susters staan by ’n lektuurtrollie naby ’n stadion wat gebruik is gedurende die Olimpiese Jeug-winterspele

29 FEBRUARIE 2024
SUID-KOREA

Getuies preek vir mense van verskillende tale en nasionaliteite by die Olimpiese Jeug-winterspele vir 2024 in Suid-Korea

Getuies preek vir mense van verskillende tale en nasionaliteite by die Olimpiese Jeug-winterspele vir 2024 in Suid-Korea

Die Olimpiese Jeug-winterspele vir 2024 is vanaf 19 Januarie tot 1 Februarie 2024 in vier stede in Suid-Korea gehou. Duisende atlete, joernaliste en toeskouers uit meer as 70 lande het die geleentheid bygewoon. Meer as 2 600 Getuies van Jehovah het aan ’n spesiale predikingskampanje gedurende die spele deelgeneem. Lektuurtrollies is in 34 plekke opgestel, en Bybelpublikasies was in vier tale beskikbaar.

Twee van die lektuurtrollies wat op verskillende plekke in Gangneung, Suid-Korea, gebruik is

’n Jong man wat Mandaryns praat, het na twee broers toe gekom en vir hulle gesê dat hy ons trollies op verskillende plekke in die stad gesien het. Maar nadat hy die plakkaat oor gesinsgeluk by een spesifieke trollie gesien het, het hy besluit om te stop en meer uit te vind. Die broers het verduidelik hoe hy die brosjure Julle gesin kan gelukkig wees in Mandaryns van jw.org kan aflaai. Die man het dadelik na ons webwerf op sy toestel gegaan en die broers vir hulle hulp bedank.

Een Getuiepaartjie het ’n informele gesprek met ’n man van Oekraïne begin. Omdat hulle nie sy taal kon praat nie, het hulle ’n vertaal-app op hulle slimfone gebruik om met hom te kommunikeer. Terwyl hulle met hom gepraat het, het die man vir hulle ’n foto gewys van die verwoesting nadat sy tuisdorp deur ’n missiele getref is. Die paartjie het vir hom gesê hoe jammer hulle oor sy situasie is en vir hom ’n teks in die Bybel gewys wat verduidelik dat oorloë binnekort sal ophou. Dit het die man diep geraak om hierdie belofte in die Bybel in sy eie taal te lees. Reëlings is getref om hom weer te kontak om hulle gesprek voort te sit.

’n Suster praat informeel met ’n paartjie by die Olimpiese Park in Gangneung

’n Suster met die naam In-Sook het ’n gesprek in Engels met ’n jong atleet van Europa en haar ma begin. Tydens hulle gesprek het ons suster ’n paar keer na onderwerpe op ons webwerf onder die deel “Hoe om tieners groot te maak” verwys. Die ma was bly oor hierdie inligting en het gesê dat sy ons webwerf weer sal besoek.

Ons is bly dat ons broers en susters in Suid-Korea die geleentheid gehad het om soveel mense te bereik gedurende hierdie internasionale geleentheid en om “die naam van Jehovah [te] loof”. – Psalm 148:13.