12 DESEMBER 2019
SUID-KOREA
Uitstalling in Nasionale Museum oor onvertelde verhaal oor Getuies in Korea
Min mense weet dat Jehovah se Getuies lank gelede in Korea vervolg is. In Boesan, die tweede grootste stad in Korea, word ’n uitstalling gehou oor hierdie onbekende periode in die geskiedenis van Jehovah se Getuies. Dit was in die Nasionale Herdenkingsmuseum van Gedwonge Mobilisasie onder Japannese Besetting. Hierdie spesiale openbare uitstalling met die naam “Veranderende geskiedenis, onveranderlike gewete” het op 12 November 2019 begin en het op 13 Desember 2019 klaargemaak. Hierdie uitstalling het verduidelik hoe die Getuies vasgestaan het vir hulle geloofsoortuigings meer as 80 jaar gelede toe Japan oor Korea regeer het. Dit verduidelik ook hoe die regering hulle toe vervolg het.
Dieselfde uitstalling is eers in September 2019 by die museum van die Seodaemoen-tronk in Seoel gehou. a Altesaam het 51 175 mense die uitstalling besoek. Dit sluit 5 700 broers en susters in wat internasionale besoekers was by die Seoel-internasionale byeenkoms.
Die Deoengdaesa-voorval het tussen Junie 1939 en Augustus 1945 plaasgevind toe Jehovah se Getuies en mense wat in die Bybel se boodskap belanggestel het, gearresteer en in die tronk gesit is. Hierdie mense is tronk toe gestuur omdat hulle geweier het om die keiser te aanbid en omdat die regering geglo het dat hulle lektuur vir mense sê om teen die regering te draai en om nie oorlog toe te gaan nie. Ses-en-sestig mense is gearresteer, wat amper al Jehovah se Getuies op daardie tyd in Korea ingesluit het. Hulle is wreed ondervra en gemartel. Ses Getuies het van siektes gesterf as gevolg van die aaklige toestande in die tronk.
Broer Hong Dae-il, wat saam met die Openbare Inligtingsafdeling in Korea werk, het gesê: “Baie mense in Korea weet nie dat die onregverdige vervolging van mense wat militêre diens geweier het as gevolg van hulle godsdiensoortuigings, 80 jaar gelede begin het toe Japan oor Korea regeer het nie. Hierdie spesiale uitstalling gee ’n goeie geleentheid om vir mense vir die eerste keer van hierdie ongelooflike verhaal te vertel.
Professor Han Hong-goe is ’n geskiedkundige wat die openingseremonie bygewoon het. Hy het oor die Getuies wat geweier het om hulle geloof prys te gee, gesê: “Ek glo dat hulle die beste voorbeeld stel van mense wat na hulle gewete luister en vasstaan vir hulle geloofsoortuigings. . . . Terwyl ons gemeenskap mense al hoe meer respekteer wat na hulle gewete luister, moet daar eerste aan [die Getuies] gedink word.”
Geskiedkundiges en joernaliste het baie belanggestel in hierdie uitstalling. As gevolg hiervan het baie mense meer geleer oor die geskiedenis van diegene wat geweier het om militêre diens te doen as gevolg van hulle geloofsoortuigings. Hierdie onderwerp het oor die afgelope jaar al hoe meer aandag getrek in Korea. Op 28 Junie 2018 het die konstitusionele hof beslis dat dit onwettig is om nie ’n vorm van alternatiewe diens in Suid-Korea te hê nie. Op 1 November, net vier maande later, het die Hooggeregshof beslis dat gewetensbeswaar nie ’n misdaad is nie. As gevolg van hierdie regsbeslissings is ons broers in Suid-Korea wat in die tronk vir gewetensbeswaar was, vrygelaat. Dit het ook wetgewing moontlik gemaak vir alternatiewe burgerlike diens.
Die sterk geloof van ons Koreaanse broers en susters uit die verlede wat in die uitstalling uitgebeeld is, herinner ons aan die gerusstellende woorde: “Jehovah is aan my kant. Ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?” – Psalm 118:6.
a Voordat hierdie plek as ’n museum gebruik is, was dit in die 1960’s tot die 1980’s ’n tronk waar mense wat gewetensbeswaar teen militêre diens gehad het, aangehou is, sowel as Jehovah se Getuies toe Japan oor Korea regeer het.
Die museum van die Seodaemoen-tronk in Seoel, Korea. Die uitstalling is eers hier in September 2019 gehou
’n Groep jong studente by die ingang van die museum met die uitstalling van die Deoengdaesa-voorval. Altesaam 51 175 mense het dit besoek
Deel van die uitstalling is ’n voorbeeld van die wagtoring wat in hierdie tronk gebruik is
’n Tronksel met vyf figure wat wys hoe moeilik tronklewe was vir die Getuies
Die uitstalling was in Boesan te sien by die Nasionale Herdenkingsmuseum van Gedwonge Mobilisasie onder Japannese Besetting
Aan die einde van die uitstalling is ’n muur met foto’s en die verhale van party van die 66 persone wat vervolg is as gevolg van hulle politieke neutraliteit