Spring na inhoud

14 FEBRUARIE 2014
SUID-KOREA

’n Gallup-meningspeiling bring ’n verandering in die beskouing van gewetensbeswaar in Suid-Korea aan die lig

’n Gallup-meningspeiling bring ’n verandering in die beskouing van gewetensbeswaar in Suid-Korea aan die lig

SEOEL, Korea—Volgens ’n onlangse Gallup-meningspeiling verkies ’n toenemende aantal Koreane nou dat hulle regering alternatiewe diens bied aan diegene wat gewetensbeswaar teen diensplig aanteken. Altesaam 1 211 Koreaanse mans en vroue het van 4 tot 7 November 2013 deelgeneem aan die meningspeiling, wat aan die lig gebring het dat 68% verkies het dat gewetensbeswaardes alternatiewe diens doen eerder as om tronkstraf uit te dien. Hierdie bevindings dui op ’n groot verandering in die openbare mening, aangesien ’n soortgelyke meningspeiling wat in 2008 gedoen is, getoon het dat net 29% alternatiewe diens verkies het.

Party in die Koreaanse regsgemeenskap verkies blykbaar ook dat gewetensbeswaardes nie tronkstraf gegee word nie. Han In-seop, ’n professor aan die regsfakulteit van die Nasionale Universiteit van Seoel, het in sy artikel, “Die dilemma in verband met gewetensbeswaar teen militêre diens”, gesê: “Geen regter sal hierdie [gewetens]beswaardes in dieselfde kategorie plaas as diegene wat ’n etiese of ’n maatskaplike oortreding begaan nie. Daar word nie eers ’n aanhoudingsbevel vir gewetensbeswaardes uitgereik nie omdat daar geen gevaar bestaan dat hulle sal vlug nie. Elke keer dat iemand skuldig bevind word, voel die regters ongemaklik en verleë.”

Die aandag is onlangs gevestig op hierdie geskil in verband met menseregte in ’n onafhanklike rolprent wat vervaardig is deur Korea se Nasionale Kommissie oor Menseregte. Die rolprent sluit ’n deel in met die titel “Ice River”, wat een van Jehovah se Getuies uitbeeld wat militêre diens geweier het. Die direkteur van die rolprent het gesê dat hy besluit het om die rolprent te maak nadat hy uitgevind het dat honderde Getuies elke jaar tronk toe gestuur word omdat hulle gewetensbeswaar aanteken. Volgens ’n verslag deur die Verenigde Nasies se Raad vir Menseregte wat in Junie 2013 uitgegee is, word 93% van alle Getuies wat regoor die wêreld weens gewetensbeswaar teen militêre diens tronkstraf opgelê word, in Suid-Korea aangehou.

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Republiek van Korea: Dae-il Hong, tel. +82 31 690 0055

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000