Spring na inhoud

27 NOVEMBER 2015
SUID-KOREA

Honderde Getuies in Korea dien klagtes in by VN se Werkgroep oor Arbitrêre Opsluiting

Honderde Getuies in Korea dien klagtes in by VN se Werkgroep oor Arbitrêre Opsluiting

In Julie en Augustus 2015 het meer as 600 jong mans wat in Suid-Korea opgesluit is, klagtes by die VN se Werkgroep oor Arbitrêre Opsluiting (Werkgroep) ingedien. Elkeen van die mans is aangekla omdat hulle geweier het om diensplig te doen weens hulle persoonlike godsdiensoortuigings, en hulle is skuldig bevind en tot 18 maande tronkstraf gevonnis.

Die grondslag vir die klagtes

Op 15 Oktober 2014 het die VN se Menseregtekomitee die besluit aanvaar dat Suid-Korea hulle aan arbitrêre opsluiting skuldig gemaak het toe hulle gewetensbeswaardes tronkstraf opgelê het. Hierdie besluit is geneem op grond van die klagtes wat die veroordeelde mans by die Werkgroep ingedien het.

Doe-jin Oh, die prokureur wat die klaers verteenwoordig, verduidelik waarom die opsluiting van die gewetensbeswaardes arbitrêr is.

Die internasionale standaard is dat regerings aanvaarbare alternatiewe voorsien aan burgers wat weens gewetensbesware weier om diensplig te doen. Dit is omdat die reg op gewetensbeswaar teen diensplig deel vorm van die reg op gewetensvryheid en godsdiensvryheid. Maar die regering van Suid-Korea weier om ag te slaan op beroepe deur die internasionale gemeenskap om alternatiewe burgerlike diens te voorsien.

’n Onpartydige waarnemer het goeie rede om te dink dat Suid-Korea se optrede “arbitrêr” is omdat dit hardnekkig weier om ’n probleem op te los wat al 60 jaar bestaan en die lewe van meer as 18 000 mans en hulle families raak. Die regering kon nie vir die mans ’n “bevredigende oplossing” voorsien wat voldoen het aan die beroepe van vyf afsonderlike besluite deur die VN se Menseregtekomitee nie. Dit is beslis onregverdig en ongepas om mans as misdadigers tronk toe te stuur omdat hulle volstrek weier om enigiemand leed aan te doen.

Die versoek aan die Werkgroep

Die Suid-Koreaanse mans wat klagtes ingedien het by die Werkgroep, vra dat dit ten behoewe van hulle optree deur:

  • “Te erken dat die opsluiting van die klaers weens hulle gewetensbeswaar teen diensplig arbitrêre opsluiting is.”

  • “Die Republiek van Korea aan te sê om die klaers onmiddellik vry te laat en hulle kriminele rekord te skrap.”

Opgesluit weens sy geloof

Een van die klaers wat opgesluit is, is Joen-hieok An. Soos die ander, beskou hy homself nie as ’n misdadiger nie. Sy ma het hom van kleins af geleer om Bybelbeginsels te verstaan en toe te pas. Terwyl hy nog ’n jong man was, het hy ’n persoonlike besluit geneem dat diensplig nie in ooreenstemming met sy godsdiensoortuigings is nie en dat dit sy gewete sou skend. * Omdat hy bewus was van die situasie in Suid-Korea en geweet het wat die gevolge sou wees as hy weier om diensplig te doen, het hy goed oor sy besluit nagedink. Hy het gesê:

Ek dink nie dat ek tronk toe gestuur moet word omdat ek weier om my persoonlike godsdiensoortuigings prys te gee nie. As die regering voorsiening maak vir alternatiewe burgerlike diens, sal ek dit aanvaar. My opregte persoonlike besluit om niemand leed aan te doen nie, is beslis nie ’n goeie rede om my as ’n misdadiger skuldig te bevind en te straf nie.

Hoe sal Suid-Korea reageer op die druk om te verander?

Die Werkgroep sal altesaam 631 klagtes aan die regering in Suid-Korea stuur vir kommentare en opmerkings. Sodra die regering reageer, sal die Werkgroep ’n opinie lewer en sy aanbevelings aan die VN se Raad vir Menseregte voorlê. As die raad saamstem dat die opsluiting van gewetensbeswaardes arbitrêr is, sal Suid-Korea hewige kritiek in die gesig staar omdat dit versuim het om verpligtinge ten opsigte van menseregte na te kom as ’n lid van die internasionale gemeenskap. Mnr. Oh het verder gesê:

Suid-Korea het tot dusver geweier om te reageer op internasionale druk om wetgewing te aanvaar wat voorsiening maak vir ’n aanvaarbare program vir alternatiewe diensplig vir gewetensbeswaardes. Terselfdertyd neem die druk van plaaslike howe toe. In onlangse maande het twee regters van die distrikshowe gewetensbeswaardes in ses sake onskuldig bevind.

Sedert 2012 het plaaslike regters sewe sake verwys na die Konstitusionele Hof, wat die saak in Julie 2015 aangehoor het.

Sowat 40 tot 50 Getuies word tans elke maand deur die regering in Suid-Korea skuldig bevind en tronk toe gestuur, in stryd met internasionale wetgewing. Mnr. An en al die Getuies wat in tronke in Suid-Korea is weens gewetensbeswaar, wag op die beslissings van die Konstitusionele Hof en die VN se Raad vir Menseregte.

Die mandaat van die Werkgroep oor Arbitrêre Opsluiting is om “ondersoek in te stel na die eiemagtige ontneming van vryheid of waar vryheid op ’n wyse ontneem is wat in stryd is met internasionale regsinstrumente wat deur die betrokke State aanvaar word”.