Spring na inhoud

25 JANUARIE 2017
SUID-KOREA

“Die beste hofbeslissing van die jaar”

“Die beste hofbeslissing van die jaar”

Die drie jong mans, Hje-min Kim, Lak-hoon Tsjo en Hjeong-geun Kim, het uit die appèlhof geloop, dankbaar dat hulle nie ’n tronkvonnis gekry het nie. In Suid-Korea is daar honderde mans in die tronk weens gewetensbeswaar teen militêre diens. Daarom het niemand hierdie uitspraak verwag nie, want hierdie jong mans het dieselfde standpunt ingeneem. Omdat hulle pa’s en 19 000 ander mans as gevolg van hierdie onopgeloste kwessie tronk toe gestuur is, het hierdie drie mans verwag dat hulle dieselfde straf sou kry. Dit was ’n geskiedkundige gebeurtenis toe die Gwanjoe-distrikshof die jong mans “onskuldig” bevind het. Hierdie beslissing het die grondslag gelê vir hoe hierdie kwessie in die toekoms hanteer sal word.

Die appèlhof lewer “die beste hofbeslissing van die jaar”

Omtrent 200 nuusagentskappe het oor die hofsaak verslag gelewer. Dit het nie net beklemtoon hoe belangrik dit is dat hierdie mans die eerstes is wat deur die appèlhof onskuldig bevind is nie, maar ook hoe belangstelling in hierdie kwessie toegeneem het. Een van die koerante het gesê dat dit “die beste hofbeslissing van die jaar” was, en ’n ander koerant het dit een van die vyf belangrikste hofbeslissings van 2016 in Suid-Korea genoem.

Die hof se beslissing wys hoe regsgeleerdes en regters se siening oor hierdie kwessie besig is om te verander. In ’n paar van die onlangse hofsake het die regters die mans se opregte en sterk sedelike oortuigings erken. Hulle het ook besef dat dit die mans se gewetensvryheid sou skend as hulle gedwing word om militêre diens te verrig of gestraf word omdat hulle weier om dit te doen. Hierdie regters het beslis dat die mans se weiering om militêre diens te verrig, “geregverdig” is. Daarom het regters oor die afgelope 20 maande in 16 gevalle die mans onskuldig bevind eerder as om hulle te beskou as persone wat militêre diens ontduik.

Doe-jin Oh, ’n regsgeleerde wat al baie gewetensbeswaardes verteenwoordig het, sê: “Die neiging is duidelik. Ek is bly om te sien dat al hoe meer mans in verhore, en selfs onlangs in die hooggeregshof, onskuldig bevind word. Ons verwag dat die aanklaer elkeen van hierdie beslissings sal appelleer. Maar die duidelike verandering in die denke van regters in Suid-Korea vestig al hoe meer aandag op die grondwetlike hof se hangende beslissing oor die reg tot gewetensbeswaar.”

Opsoek na ’n oplossing

Die land wag op die hooggeregshof van Suid-Korea om ’n beslissing te maak. Hierdie hoogste hof weeg die waarborg van gewetensvryheid onder die grondwet op teen die straf onder die Dienspligwet vir diegene wat hulle reg op gewetensvryheid beoefen en militêre diens weier as gevolg van hulle diepgewortelde godsdiensoortuigings.

Dae-il Hong, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Suid-Korea, sê: “Duisende gesinne in Suid-Korea wil graag ’n oplossing sien wat die geloofsbesware van jong manne wat nie gedwing kan word om teen hulle gewetens op te tree nie, respekteer. Ons sien uit na ’n positiewe beslissing deur die grondwetlike hof.”