Spring na inhoud

19 OKTOBER 2016
SUID-KOREA

Suid-Korea se appèlhof bevind gewetensbeswaardes onskuldig

Suid-Korea se appèlhof bevind gewetensbeswaardes onskuldig

Op 18 Oktober 2016 het die appèlafdeling van die Gwanjoe-distrikshof besluit dat die gewetensbeswaardes Hje-min Kim, Lak-hoon Tsjo en Hjeong-geun Kim nie skuldig is aan dienspligontduiking nie. Hierdie drie mans, wat almal Jehovah se Getuies is, is die eerste mans wat onskuldig bevind is aan hierdie aanklag in die appèlhof van Suid-Korea.

Regter Joeng-sjik Kim verduidelik: “Die hof meen dat hulle weier om diensplig te doen as gevolg van hulle godsdiensoortuigings en hulle gewete. Hierdie mans se godsdiens- en gewetensvryheid kan nie beperk word deur enige vorm van straf nie omdat dit hulle grondwetlike reg is.”

As die aanklaer teen hierdie uitspraak appelleer, sal die saak deur die Hooggeregshof hersien word. Die Hooggeregshof moet nog oor meer as 40 sake beslis in verband met mans wat aan hierdie aanklag skuldig bevind is. Philip Brumley, hoofregsadviseur vir Jehovah se Getuies, het gesê: “Die Hooggeregshof en die Konstitusionele Hof van Suid-Korea het tot nou toe geweier om die reg op gewetensbeswaar te erken. Maar die appèlhof het die internasionale standaard toegepas deur die reg te erken. Hierdie erkenning stem ooreen met die meer as 500 uitsprake deur die VN se Menseregtekomitee.”