Oorsig van Suid-Korea
Jehovah se Getuies is al meer as 100 jaar lank in Korea en kan hulle godsdiens vryelik beoefen. Die enigste noemenswaardige uitdaging waarmee die Getuies in Suid-Korea te kampe het, is die regering se onverbiddelike vervolging van dié wat ’n gewetensbeswaar teen diensplig het.
Suid-Korea erken nie die reg op gewetensbeswaar nie en hulle wet maak nie voorsiening vir alternatiewe burgerlike diens nie. Jong Getuiemans wat gewetensbeswaardes is, word dus gewoonlik 18 maande tronkstraf opgelê. Tussen 40 en 50 Getuiemans word elke maand opgesluit. Nadat hierdie mans vrygelaat is, kry hulle nog steeds swaar omdat hulle ’n kriminele rekord het en dit kom voor of hulle diensplig ontwyk het. ’n Getuie sal dit dalk moeilik vind om ’n werk te kry en kan ook sosiaal daaronder ly.
Mans wat hulle diensplig voltooi het, maar die Bybelleringe aangeneem het om hulle naaste lief te hê en nie meer oorlog te leer nie, ondervind ook probleme. Terwyl hulle nog opgeroep kan word om in die reserwemag te dien, word hulle herhaaldelik aangekla en beboet omdat hulle weier om verdere militêre opleiding te ontvang.
Die VN se Menseregtekomitee het meer as 500 uitsprake gelewer teen Suid-Korea omdat hulle die regte van gewetensbeswaardes skend, en die komitee beskou hulle tronkstraf as “arbitrêre aanhouding”. Hulle het ook gesê dat Suid-Korea in die toekoms “verplig is om soortgelyke skendings te vermy”. As hierdie kwessie opgelos word, sal dit toon dat Suid-Korea ware respek het vir gewetensvryheid en godsdiensvryheid.