Spring na inhoud

9 FEBRUARIE 2016
SUID-KOREA

VN se Menseregtekomitee spoor Suid-Korea aan om gewetensbeswaardes se regte te erken

VN se Menseregtekomitee spoor Suid-Korea aan om gewetensbeswaardes se regte te erken

Die VN se Menseregtekomitee het Suid-Korea se menseregterekord deeglik nagegaan en het toe op 3 November 2015 hulle slotopmerkings aangeneem. Die Komitee het Suid-Korea se positiewe stappe ten opsigte van menseregte erken, maar het spesifiek melding gemaak van die feit dat hulle die Komitee se vorige besluite oor gewetensbeswaar teen militêre diens nie toegepas het nie.

Die reg tot gewetensvryheid en godsdiensvryheid

Hoewel gewetensbeswaar teen militêre diensplig internasionaal as ’n basiese mensereg beskou word, hou Suid-Korea aan om diegene te straf wat weens hulle gewete weier om militêre diens te verrig. Sedert 1950 het die howe daar meer as 18 000 van Jehovah se Getuies tot altesaam byna 36 000 jaar in die tronk gevonnis.

Die verslag van die VN se Menseregtekomitee het die regering aangespoor om:

  • Onmiddellik alle gewetensbeswaardes vry te laat wat opgesluit is omdat hulle geweier het om militêre diensplig te verrig.

  • Gewetensbeswaardes se kriminele rekord uit te wis, hulle voldoende skadevergoeding toe te ken en te verseker dat hulle persoonlike inligting nie bekend gemaak word nie.

  • Gewetensbeswaar teen militêre diens wetlik te erken en gewetensbeswaardes die geleentheid te gee om alternatiewe burgerlike diens te verrig.

Verantwoordelik om hulle ooreenkomsverpligtinge te implementeer

Sedert 2006 het die VN se Menseregtekomitee vyf Views uitgegee waarin hulle die regering van Suid-Korea teregwys omdat hulle versuim het om wetgewing te aanvaar wat die reg op gewetensbeswaar beskerm en omdat hulle diegene straf wat op hierdie reg aandring. * Die Komitee se onlangse verslag het die regering weer eens aangespoor om “meganismes en gepaste prosedure in plek te stel wat die Komitee se [beslissings] ten volle uitvoer”, insluitende die volle implementering van die [beslissings] wat die Komitee reeds uitgevaardig het.

Nadat die verslag vrygestel is, het Seong-ho Lee, die voorsitter van Korea se Nasionale Kommissie oor Menseregte, die menseregteskendings erken wat in die verslag geïdentifiseer is. In ’n openbare verklaring, het Mnr. Lee voorgestel dat die regering die Komitee se voorstelle gebruik, en hy het afgesluit deur te sê: “Die regering is verantwoordelik vir die volle implementering van die ICCPR [Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte].”

As ’n regeringsparty in daardie ooreenkoms, het Suid-Korea homself verplig om die regte te beskerm wat die ICCPR waarborg. Omdat die VN se Menseregtekomitee toesig hou oor die implementering van die ICCPR en die reg tot gewetensbeswaar erken, sal Suid-Korea aanhou om die ooreenkoms te skend totdat hulle die Komitee se beslissings en aanbevelings implementeer.

Die VN se Menseregtekomitee se onlangse verslag versterk die toenemende internasionale beswaar teen Suid-Korea se behandeling van gewetensbeswaardes. Talle in Suid-Korea en elders sal die regering se reaksie op die nakoming van sy verpligtinge in hierdie verband met groot belangstelling dophou.

^ par. 10 Die VN se Menseregtekomitee vaardig besluite uit wat as Views bekend staan wanneer hulle vasstel of ’n regeringsparty die regte skend wat in die ICCPR gewaarborg word. Die vyf Views wat bevind het dat Suid-Korea Artikel 18, “die reg tot vryheid van denke, gewete en godsdiens”, geskend het, is Nr. 1321-1322/2004, Yeo-bum Yoon en Myung-jin Choi v. Republiek van Korea, 3 November 2006; Nr. 1593-1603/2007, Eu-min Jung et al. v. Republiek van Korea, 23 Maart 2010; Nr. 1642-1741/2007, Min-kyu Jeong et al. v. Republiek van Korea, 24 Maart 2011; Nr. 1786/2008, Jong-nam Kim et al. v. Republiek van Korea, 25 Oktober 2012; Nr. 2179/2012, Young-kwan Kim et al. v.  Republiek van Korea, 15 Oktober 2014.