Spring na inhoud

Die konstitusionele hof in Suid-Korea op die dag toe die belangrike beslissing gelewer is.

13 JULIE 2018
SUID-KOREA

’n Onreg teen gewetensbeswaardes word reggestel: Langverwagte beslissing deur konstitusionele hof in Suid-Korea

’n Onreg teen gewetensbeswaardes word reggestel: Langverwagte beslissing deur konstitusionele hof in Suid-Korea

Die afgelope 65 jaar is jong Christenmans in Suid-Korea tronk toe gestuur omdat hulle gewete hulle nie toelaat om militêre diens te doen nie. Op Donderdag 28 Junie 2018 het die konstitusionele hof ’n belangrike beslissing gelewer. Die hof het gesê dat artikel 5, paragraaf 1 van die Militêre Dienspligwet ongrondwetlik is omdat die regering geen voorsiening maak vir alternatiewe burgerlike diens nie.

Joernaliste buite die konstitusionele hof. Die internasionale media het die saak fyn dopgehou.

Die paneel van nege regters, met Lee Jin-soeng as hoofregter, het ’n uitspraak gelewer waarvan 6 regters ten gunste van die beslissing was en 3 daarteen. Dit bring die land in lyn met internasionale standaarde en erken vryheid van gewete, denke en geloofsoortuigings.

Verteenwoordigers van Jehovah se Getuies in Korea binne die konstitusionele hof oomblikke voor die hof se beslissing.

Suid-Korea het meer gewetensbeswaardes elke jaar in die tronk gesit as al die ander lande saam. Op een stadium het gemiddeld 500 tot 600 van ons broers elke jaar tronk toe gegaan. Wanneer die gewetensbeswaardes vrygelaat word, het hulle ’n kriminele rekord gehad, en dit het hulle reputasie negatief geraak. Een van die uitdagings was dat dit vir hulle moeilik was om werk te kry.

Maar party broers het van 2011 af klagtes by die konstitusionele hof ingedien omdat hulle volgens die wet reguit tronk toe gestuur is as gevolg van hulle gewetensbeswaar. En sedert 2012 het party regters wat gedink het dat dit verkeerd is om opregte gewetensbeswaardes te straf, selfs hulle sake na die konstitusionele hof verwys sodat die Militêre Dienspligwet hersien kon word.

’n Onderhoud word met Hong Dae-il, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Korea, buite die hof gedoen nadat die beslissing gelewer is

Die doel van die konstitusionele hof is om vas te stel of ’n wet ooreenkom met Korea se grondwet of nie. Nadat die konstitusionele hof twee keer (in 2004 en 2011) beslis het om die Militêre Dienspligwet te handhaaf, het dit uiteindelik erken dat ’n verandering nodig is. Die hof het die regering van Suid-Korea beveel om die wet te verander en om teen die einde van 2019 voorsiening te maak vir alternatiewe burgerlike diens. Verskillende tipes alternatiewe diens wat hulle kan instel, kan hospitaalwerk en ander niemilitêre gemeenskapsdiens insluit wat tot die verbetering van die gemeenskap lei.

Om ons te help om te verstaan hoe belangrik hierdie beslissing regtig is, het broer Hong Dae-il, ’n verteenwoordiger vir Jehovah se Getuies in Korea, gesê: “Die konstitusionele hof, wat die magtigste hof in die land is en wat menseregte beskerm, het die grondslag voorsien om hierdie probleem op te los. Ons broers sien daarna uit om hulle gemeenskap deur middel van alternatiewe burgerlike diens te dien wat nie in stryd is met hulle gewete nie en wat in lyn is met internasionale standaarde.”

Daar is nog steeds 192 broers in die tronk, en daar is omtrent 900 van hierdie soort kriminele sake wat in verskillende howe nog afgehandel moet word. Hulle moet ook wag en sien hoe hierdie beslissing hulle sal raak.

Die geskiedkundige beslissing deur die konstitusionele hof voorsien ’n beter grondslag vir die hooggeregshof om persone toe te laat om militêre diens te weier op grond van hulle gewete. ’n Beslissing deur al die regters van die hooggeregshof sal ’n invloed hê op hoe hierdie individuele kriminele sake hanteer moet word.

Daar word verwag dat die hooggeregshof ’n openbare verhoor op 30 Augustus 2018 sal hou en dan sal die hof ’n besluit maak. Dit sal die eerste keer in 14 jaar wees dat al die regters van die hooggeregshof die kwessie oor gewetensbeswaar sal hersien.

Intussen is die Nasionale Vergadering, Korea se parlement, reeds besig met veranderinge aan die Militêre Dienspligwet.

Broer Mark Sanderson van die Bestuursliggaam sê: “Ons sien baie uit na die beslissing deur die hooggeregshof. Ons Koreaanse broers het hulle vryheid gewillig opgegee in die wete dat dit iets goeds is as ‘iemand, weens sy gewete teenoor God, uithou onder bedroewende dinge en onregverdig ly’ (1 Petrus 2:19). Ons is saam met hulle bly dat die onreg wat hulle deurgemaak het, uiteindelik raakgesien is, asook die feit dat hulle dapper was en vasgestaan het vir hulle gewete.”