Spring na inhoud

7 JULIE 2015
SUID-KOREA

Is regters in Suid-Korea gereed om internasionale standaarde vir gewetensbeswaardes te aanvaar?

Is regters in Suid-Korea gereed om internasionale standaarde vir gewetensbeswaardes te aanvaar?

Die Grondwetlike Hof van Suid-Korea sal weer eens ondersoek of die regering se weiering om die reg op gewetensbeswaar te erken, grondwetlik is. * Slegs vier jaar gelede, in 2011, het die Hof beslis dat dit nie ongrondwetlik is om gewetensbeswaardes onder Suid-Korea se Dienspligwet te straf nie. Dit het in ’n beslissing in 2004 by hierdie beskouing gebly.

Nou sal die Hof van sy gewone gebruik afwyk deur hierdie saak weer te ondersoek tydens die gesamentlike verhoor van drie gewetensbeswaardes op 9 Julie 2015. Verskeie organisasies het hulle teenoor die Hof as amicus curiae (vriende van die hof) uitgespreek ten gunste van hierdie reg. Aangesien gewetensbeswaar teen diensplig nou deur internasionale wetgewing erken word, trek Suid-Korea se weiering om te verander, tans internasionale aandag.

Regoor die wêreld in die kollig

Die VN se Menseregtekomitee voel sterk dat Suid-Korea moet verander. Sedert 2006 het hierdie komitee vyf beslissings gelewer waarby meer as 500 gewetensbeswaardes * betrokke was, en dit het besluit dat Suid-Korea wetgewing moet aanvaar wat die reg op gewetensbeswaar waarborg.

Amnestie Internasionaal, ’n menseregte-organisasie wat vanuit Londen funksioneer, het op die Internasionale Dag van Gewetensbeswaardes die aandag gevestig op Suid-Korea se behandeling van gewetensbeswaardes in ’n artikel gedateer 13 Mei 2015. Die artikel het hoofsaaklik gehandel oor jong Getuies wat dienspligtig is en oor hulle moeilike situasie onder die huidige wetgewing in Suid-Korea. Daardie selfde week het verskeie internasionale nuusbronne, soos CNN en The Washington Post, verslag gelewer oor gewetensbeswaar en jong Getuies wat hierdie standpunt inneem.

Die uitdaging waarvoor regters te staan kom

Wanneer Getuies van Jehovah in Suid-Korea diensplig weier, bevind regters hulle as ’n reël skuldig aan dienspligontduiking. Maar al hoe meer regters voel verontrus wanneer hulle ’n vreedsame jong man tot tronkstraf moet vonnis wat geen ander “misdaad” gepleeg het as om by sy opregte godsdiensoortuigings te bly nie. * In een geval het die voorsittende regter van die Soewon-distrikshof gehuil terwyl sy ’n Getuie gevonnis het omdat die wet haar gedwing het om hom skuldig te bevind.

Op 12 Mei 2015 het ’n regter van die Gwangdjoe-distrikshof drie Getuies van Jehovah onskuldig bevind. Hierdie regter het in stryd met vorige beslissings opgetree omdat hy nie gevoel het dat dit reg is om hierdie jong mans te vonnis nie. Hy het sy begeerte getoon om verandering te bevorder, toe hy gesê het: “Al wat ek vir julle kan doen, is om ’n klein vuurhoutjie aan te steek en te hoop dat julle dit in ’n groot vuur kan verander.” Die aanklaer het appèl aangeteken.

In plaas daarvan om gewetensbeswaardes te vonnis, het sewe regters van distrikshowe sake na die Grondwetlike Hof verwys, ten spyte van die Hof se beslissings in verband met hierdie saak in 2004 en 2011. Hierdie regters weier om ’n jong man te vonnis bloot omdat hy sy gewete volg. In een van hierdie sake het die regter Joeng-hoon Kang van die distrikshof van Noord-Seoel gesê dat die bestrawwing van gewetensbeswaardes “sou neerkom op ’n ontneming van hulle regte en identiteit. Dit is beslis ’n skending van menswaardigheid.”

Regters word aangespoor om “druk op die howe te plaas”

In Desember 2014 het die Koreaanse balieraad ’n konferensie oor gewetensbeswaar gehou. Gedurende die hooftoespraak het ’n voormalige regter van die Hooggeregshof Soe-an Tsjeon die beslissings deur die VN se Menseregtekomitee en die resolusies van die VN se Menseregteraad teen Suid-Korea “’n nasionale skande” genoem. Sy het gesê dat “die opsluiting van honderde jong mans nie geregverdig kan word nie” en het die regters en prokureurs daar teenwoordig aangespoor om “druk op die howe te plaas” om beslissings in ooreenstemming met internasionale standaarde te lewer.

Me. Tsjeon het haar toespraak afgesluit deur te sê: “Ons moet so gou as moontlik alternatiewe diens instel. ... Dit sal ’n mylpaal in die Koreaanse geskiedenis wees en ’n groot prestasie op die gebied van menseregte onder die leierskap van die eerste vroulike president. Slegs daardeur kan ons die smaad daarvan verwyder om ’n agterlike land te wees ten opsigte van menseregtekwessies.”

Sal die Grondwetlike Hof by internasionale standaarde bly?

Oor dekades heen is duisende Getuies van Jehovah in Suid-Korea weens gewetensbeswaar opgesluit. Hulle sien met afwagting uit na die Hof se beslissing en wonder: Is die regters van die Grondwetlike Hof gereed om ten behoewe van gewetensbeswaardes op te tree? Sal Suid-Korea in ooreenstemming met internasionale menseregtestandaarde optree?

^ par. 2 Die Republiek van Korea erken nie die reg op gewetensbeswaar teen diensplig nie. In die afgelope 60 jaar het dit meer as 18 000 Getuies van Jehovah opgesluit wat weens hulle opregte godsdiensoortuigings diensplig geweier het. Vir ’n lys van Getuies wat tans in Suid-Korea in die tronk is, sien “In die tronk weens hulle geloof—Suid-Korea”.

^ par. 5 Kommunikasie nr. 1321/2004 en 1322/2004, VN dok. CCPR/C/88/D/1321-1322/2004, 3 November 2006; kommunikasie nr. 1593 tot 1603/2007, VN dok. CCPR/C/98/D/1593-1603/2007, 23 Maart 2010; kommunikasie nr. 1642-1741/2007, VN dok. CCPR/C/101/D/1642-1741/2007, 24 Maart 2011; kommunikasie nr. 1786/2008, VN dok. CCPR/C/106/D/1786/2008, 25 Oktober 2012; kommunikasie nr. 2179/2012, VN dok. CCPR/C/112/D/2179/2012, 15 Oktober 2014.