Spring na inhoud

Die verhoor op 9 Julie 2015 in die Grondwetlike Hof van Suid-Korea

20 DESEMBER 2016
SUID-KOREA

Grondwetlike Hof van Suid-Korea gaan binnekort ’n belangrike beslissing bekend maak

Grondwetlike Hof van Suid-Korea gaan binnekort ’n belangrike beslissing bekend maak

’n Geskiedkundige beslissing gaan binnekort deur die Grondwetlike Hof van Suid-Korea bekend gemaak word. Die hof heroorweeg tans of dit grondwetlik is om gewetensbeswaardes onder Suid-Korea se Dienspligwet te straf. In Julie 2015 was daar ’n openbare verhoor in verband met hierdie kwessie, en baie mense is sedertdien in afwagting van die hof se beslissing. Die president van die hof, Han-tsjoel Park, het onlangs bevestig dat ’n beslissing bereik sal word voordat sy ampstermyn op 30 Januarie 2017 eindig.

’n Besluit wat duisende raak

Die Grondwetlike Hof van Suid-Korea is die land se hoogste geregshof en het die reg om te bepaal of die wet met die grondwet ooreenstem. In Suid-Korea word persone, wat op grond van gewetensbeswaar weier om militêre diensplig te doen, onder die Dienspligwet tronkstraf opgelê. Die hof is gevra om hierdie voorsiening te heroorweeg. Daar word van die hof verwag om vas te stel of hierdie straf in stryd is met die Grondwet van Suid-Korea wat gewetensvryheid en godsdiensvryheid waarborg.

As die hof beslis dat die regering se jare lange gebruik om gewetensbeswaardes op te sluit, ongrondwetlik is, sal dit Suid-Korea dwing om die manier waarop gewetensbeswaardes behandel word te hersien. So ’n besluit sal waarskynlik daartoe lei dat die regering ophou om jong mans, wat weier om militêre diens te verrig omdat dit teen hulle gewete is, te vervolg, te vonnis en op te sluit.

Verwarring in die regterlike proses

Die Grondwetlike Hof het hierdie kwessie in 2004 en 2011 hersien. Al twee keer het die hof beslis dat die wette waaronder gewetensbeswaardes gestraf word, grondwetlik is. Die Hooggeregshof van Suid-Korea, die hoogste appèlhof in die land, het ook in 2004 en weer in 2007 beslis dat dit nie wetlik is om beswaar teen militêre diensplig te maak omdat dit teen jou gewete is nie. Ten spyte van die hooggeregshof se beslissings bly die toepassing van die wet ’n onopgeloste kwessie—selfs in die howe.

Verskeie howe in Suid-Korea meen dat dit onregverdig is om gewetensbeswaardes tronkstraf op te lê. Sedert die Grondwetlike Hof se beslissing in 2011 het die hof ingestem om 7 sake te verhoor wat deur streekhowe na hulle verwys is, asook 22 ander sake wat deur individue ingedien is. Die beslissings van die Hooggeregshof is ook betwis en meer as 40 sake oor gewetensbeswaar is op die oomblik hangende by die hof. Sedert Mei 2015 is nege gewetensbeswaardes al deur howe onskuldig bevind.

In Oktober 2016 het ’n appèlhof opgemerk dat sake in verband met hierdie kwessie vir verskeie howe moeilik is om te beslis, en gesê: “Daar was nog nooit soveel verwarring oor die toepassing van ’n wet nie.” Dieselfde appèlhof het ook drie gewetensbeswaardes onskuldig bevind. Dit was die eerste keer dat so ’n beslissing bereik is. Hierdie belangrike beslissing, is deur die Balieraad in Seoel verwelkom. Die president van die Balieraad, Han-kjoe Kim, het daarop gewys dat die Grondwetlike Hof nou die finale sê het.

“Daar was nog nooit soveel verwarring oor die betekenis en toepassing van ’n wetlike voorsiening nie.”—Gwangjoe Streekhof, Derde Kriminele Afdeling, verhoor van Lak-hoon Tsjo op 18 Oktober 2016

’n Kwessie wat al ’n lang pad kom, dalk binnekort opgelos

Mnr. Kim het verder gesê: “Die publiek wag gretig op [die Grondwetlike Hof se] positiewe besluit oor hierdie kwessie. Gewetensbeswaardes word steeds tronkstraf opgelê en word nie ’n kans gegun om alternatiewe diens te verrig nie. Die Grondwetlike Hof, wat die laaste hoop vir menseregte is, word gevra om so gou as moontlik uitspraak te lewer.

Oor die afgelope 60 jaar is amper elke gesin van Jehovah se Getuies in Suid-Korea deur hierdie kwessie geraak. Hulle pa’s, seuns en broers is tronkstraf opgelê omdat hulle geweier het om militêre diens te verrig. ’n Besluit ten gunste van gewetensbeswaardes sal die onproduktiewe tronkstraf en die feit dat baie jong mans as kriminele bestempel word tot ’n einde bring. Dit sal ook die gewetensvryheid en godsdiensvryheid van alle burgers verseker.

Almal is nou in afwagting van hierdie geskiedkundige beslissing deur die Grondwetlike Hof.