Spring na inhoud

Gjeong-tsjan Park is een van 140 mans wat verkeerdelik deur die MMAO geïdentifiseer is as persone wat militêre diens ontduik

9 JUNIE 2017
SUID-KOREA

Hof in Suid-Korea ondersoek moontlike skending van gewetensbeswaardes se menseregte

Hof in Suid-Korea ondersoek moontlike skending van gewetensbeswaardes se menseregte

Op 1 Mei 2017 het die administratiewe hof in Seoel beslis dat die optrede van die Administrasiekantoor van Militêre Mannekrag (MMAO) om gewetensbeswaardes in die openbaar te verneder as persone wat militêre diens ontduik, hierdie mense permanent kan benadeel. Die hof het beslis dat die MMAO nie meer persoonlike inligting op hulle amptelike webwerf mag plaas wat gewetensbeswaardes identifiseer nie. Hierdie beslissing is van krag totdat ’n administratiewe klag teen die MMAO se optrede afgehandel is. Die MMAO het voldoen aan hierdie vereiste.

Hulle ontduik nie militêre diens nie

Vroeg in 2015 het hoofbeamptes van die MMAO gewetensbeswaardes in kennis gestel dat hulle persoonlike inligting as persone wat militêre diens ontduik, gepubliseer gaan word. Die MMAO was slegs bewus van hierdie mans omdat hulle almal die MMAO skriftelik in kennis gestel het voordat hulle vir militêre diens opgeroep is, dat hulle gewetensbeswaar aanteken teen militêre diens. Hulle het verduidelik dat hulle wel bereid is om alternatiewe burgerlike diens te verrig. Maar op 20 Desember 2016 het die MMAO in elk geval die naam, ouderdom, adres en ander inligting van hierdie mans op hulle webwerf gepubliseer en hulle as persone geïdentifiseer wat militêre diens ontduik.

Gjeong-tsjan Park, ’n gewetensbeswaarde en een van Jehovah se Getuies, was geskok toe hy sy naam op die webwerf sien. Sy naam was op ’n lys met 237 name van persone wat militêre diens ontduik. Hy het gesê: “Ek het gewetensbeswaar aangeteken teen militêre diens en verwag dat party mense my sal kritiseer. Maar dit ontstel my nog steeds dat die regering my as ’n ‘ontduiker’ behandel. Die MMAO is goed bekend met die Getuies en die redes waarom ons gewetensbeswaar aanteken en hulle weet dat ons nie net selfsugtig is en weier om ons burgerlike plig te doen nie.” Hy het ook gesê: “Ek moet erken toe ek my naam en adres op die lys sien, was ek bang dat iemand na my huis toe sou kom en my sou aanval.”

Die 140 Getuie-mans wat op die webwerf geïdentifiseer is, het ’n aansoek ingedien om te keer dat hulle inligting bekendgemaak moet word. In die aansoek het hulle gesê dat die Dienspligwet ’n persoon wat militêre diens ontduik, definieer as iemand wat “sonder geldige redes” weier om te reageer wanneer hy opgeroep word. Volgens die wet in Suid-Korea asook hulle internasionale verpligtinge moet die regering die reg op gewetensbeswaar teen militêre diens erken. Op grond hiervan het die mans gesê dat hulle nie militêre diens ontduik nie en ook nie weier om diensplig te doen “sonder geldige redes” nie. ’n Beslissing in verband met die erkenning van hierdie reg in Suid-Korea moet nog deur die konstitusionele hof gelewer word.

Misbruik van mag lei tot erger straf

Die Getuie-mans het ook gesê dat hulle groot druk en kritiek van die gemeenskap ervaar, en hoewel dit baie ontstellend is en oneer op hulle naam bring, is dit nog steeds teen hulle gewete om militêre diens te verrig. Meer as 19 000 Getuies van Jehovah in Suid-Korea het al hierdie druk weerstaan en saam het hulle meer as 36 000 jaar se tronkstraf oor die afgelope 60 jaar uitgedien. Die mans wie se inligting gepubliseer is, beskou dit as nog ’n manier om hulle te straf. Die feit dat hierdie inligting algemeen bekend is, is vir hulle net so erg soos die kriminele rekord wat die regering in Suid-Korea op hulle afdwing omdat hulle volgens hulle gewete optree.

Hulle sien daarna uit om hulle saak te stel

Jehovah se Getuies in Suid-Korea is dankbaar dat die hof besef het dat menseregte dalk geskend word en hoop dat hierdie beslissing ’n positiewe uitwerking op die administratiewe klag sal hê wat binnekort deur die hof ondersoek sal word. Hulle is ook van plan om Suid-Korea se Nasionale Kommissie vir Menseregte te versoek om ’n amptelike opinie oor hierdie saak in die hof te lewer. Die saak sal op 28 Junie 2017 verhoor word.