Spring na inhoud

Lee Gio-won, een van Jehovah se Getuies, is op die oomblik besig om ’n tronkstraf van 18 maande uit te dien in die Daegoe-gevangenis omdat hy weier om militêre diens te doen. Hy en meer as 100 ander mense wag in die tronk vir die openbare verhoor in die Hooggeregshof op 30 Augustus wat die saak oor gewetensbeswaar sal hanteer.

24 AUGUSTUS 2018
SUID-KOREA

’n Gewetensbeswaarde word al hoe meer optimisties terwyl verhoor in Hooggeregshof nader

’n Gewetensbeswaarde word al hoe meer optimisties terwyl verhoor in Hooggeregshof nader

SEOEL, Suid-Korea — In Januarie 2017 het Lee Gio-won, wat op daardie tyd 21 jaar oud was, voor ’n Suid-Koreaanse regter gestaan. Hy het baie goed voorberei en gehoop dat hy van militêre diens vrygespreek sou word. Hy wou die regter oortuig dat hy militêre diens weier omdat hy vas glo dat ’n mens nie gewelddadig moet wees nie, en nie omdat hy die land se wet wou teëstaan nie.

Mnr. Lee, ’n lid van die Christengemeenskap van Jehovah se Getuies, het min rede gehad om optimisties te wees. Toe sy verhoor begin het, was daar 392 Getuies wat gewetensbeswaardes is, in die tronk met vonnisse van altesaam 588 jaar. Vanaf 1950 is meer as 19 340 Getuies van Jehovah in Suid-Korea tot altesaam 36 800 jaar tronkstraf gevonnis. Volgens die Koreaanse wet is ’n persoon se godsdiensoortuigings nie ’n geldige rede om militêre diens te weier nie.

Maar vanaf 2004 het party regters nie meer saamgestem met die gebruik om gewetensbeswaardes outomaties tronk te stuur nie. Daarom het hierdie regters 90 van hulle onskuldig bevind. Een van hulle, regter Tjoi Jong-doe van die Boesan-appèlhof, het bevind dat die persoonlike besluit om militêre diens te weier, “op ’n sterk en opregte ‘gewete’ gebaseer is wat deur godsdiensoortuigings gevorm is”.

In Junie 2018 het Suid-Korea se konstitusionele hof uiteindelik beslis dat die Dienspligwet verander moet word om voorsiening te maak vir gewetensbeswaardes sodat hulle alternatiewe diens kan doen. a Maar hierdie belangrike beslissing het te laat vir Mnr. Lee gekom. Hy verduidelik: “Nadat ek alle moontlike regstappe geneem het, is ek na Daegoe-gevangenis gestuur om my vonnis uit te dien.” Hy is op die oomblik besig om ’n tronkstraf van 18 maande uit te dien.

Mnr. Lee is een van baie Koreaanse Getuies wat tronk toe gegaan het omdat hulle geweier het om militêre diens te doen. Dit het begin toe die Japannese nog oor Korea regeer het. In 1939, toe twee jong Getuies in Japan tronk toe gestuur is omdat hulle geweier het om in die weermag te dien, het die Japannese owerheid ander Getuies in Japan, Taiwan en Korea (destyds bekend as Tsjosoen) gearresteer. Die 38 Getuies wat in Korea opgesluit is, het geweier om die Japannese keiser te vereer en om die oorlog te ondersteun. Vyf van die Getuies wat opgesluit is, het as gevolg van die wrede toestande gesterf. Die meeste van hulle is eers vrygelaat toe Japan die oorlog in 1945 verloor het.

’n Paar van die 19 340 Getuies van Jehovah wat in die tronk is vir gewetensbeswaar.

Die Getuies weier al meer as 100 jaar lank om militêre diens te doen as gevolg van hulle gewete. Op grond van wat die Bybel leer en die voorbeeld van die vroeë Christene glo die Getuies dat Christene nie aan oorlog moet deelneem nie omdat hulle nie die reg het om ander mense dood te maak nie. Wat meer is, die Getuies raak nie betrokke by die politiek nie omdat hulle God se Koninkryk, of regering, ondersteun.

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die Getuies (wat toe as die Internasionale Bybelstudente bekend gestaan het) vir die eerste keer geweier om aan oorlog deel te neem as gevolg van hulle godsdiensoortuigings. Hulle is daarvoor opgesluit. In Brittanje het omtrent 400 Getuies geweier om in die weermag te dien toe hulle opgeroep is. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog, was Jehovah se Getuies in die Verenigde State die grootste groep gewetensbeswaardes wat tronk toe gestuur is omdat hulle geweier het om oorlog te voer. Omtrent 4 440 van hulle is tronk toe gestuur.

Daar is baie voorbeelde wat wys dat die Getuies absoluut vasbeslote was om neutraal te bly. Die grootste voorbeeld hiervan is moontlik dié van die Getuies wat baie swaargekry het toe die Nazi’s regeer het. Die Nazi’s het omtrent 400 Getuies doodgemaak. Die meeste van hulle het gesterf omdat hulle gewete hulle nie toegelaat het om militêre diens te doen nie. Meer as 1 000 ander Getuies het gesterf nadat hulle gemartel is en onder wrede toestande in kampe en tronke opgesluit is as gevolg van hulle geloof. Volgens die geskiedkundige Robert Gerwarth was hulle “die enigste groep in die Derde Ryk wat net op grond van hulle godsdiensoortuigings vervolg is”.

Alhoewel Getuies in ander lande ook baie swaargekry het, is die Getuies in Korea dié wat al die meeste aantal jare in die tronk deurgebring het as gevolg van hulle gewetensbeswaar. Lee Gio-won se pa het in ’n ongeluk gesterf toe hy maar net agt jaar oud was, en sy ma het hom oor die Bybel geleer en hoe belangrik dit is dat hy na sy gewete luister. Mnr. Lee sê: “Toe ek verstaan het hoekom ons geskep is, kon ek nie anders as om vir my God, Jehovah, lief te wees nie. Van daardie tyd af was ek vasbeslote om Jehovah my hele lewe lank te dien, en dit was vir my die belangrikste ding in die lewe.”

Toe mnr. Lee besef dat hy heel moontlik tronk toe sou gaan, het hy besluit om binnehuis-konstruksie as ’n loopbaan te kies. Hy het vooraf beplan om ná sy tronkstraf vir homself te werk, want hy het geweet dat dit moeilik sou wees om ’n werk te kry as gevolg van sy kriminele rekord.

Mnr. Lee beskryf hoe hy gevoel het op die dag van sy verhoor. Hy sê: “Ek wou graag bewys dat ek onskuldig is omdat dit ’n opregte besluit was op grond van my geloof en gewete.” Hy het gedink aan die voorbeeld van die vroeë Christendissipels Stefanus en Paulus, wat hulle geloof met oortuiging verdedig het toe hulle verhoor is. Mnr. Lee sê: “Ek dink ek het twee keer so goed gepraat as toe ek geoefen het.”

Op 30 Augustus 2018 sal die Hooggeregshof in Suid-Korea ’n openbare verhoor hou om die konstitusionele hof se beslissing te oorweeg om vir gewetensbeswaardes voorsiening te maak. Die hoogste hof se beslissing sal ’n groot uitwerking hê op 900 sake wat op die oomblik in verskillende howe nog afgehandel moet word. En 117 Getuies wat gewetensbeswaardes is, insluitende mnr. Lee, moet in die tronk bly en wag om deur die president van Suid-Korea vrygespreek te word. Hoewel mnr. Lee dalk nog op 30 Augustus in die Daegoe-gevangenis sal wees, sal hy die verhoor in die Hooggeregshof met groot belangstelling dophou.

Al is mnr. Lee tronk toe gestuur en is sy appèlsaak verwerp, bly hy positief oor hoe dinge sal uitwerk. Hy sê: “Ek hoop dat ek een van die laaste Getuies sal wees wat vir my geloof tronk toe moes gaan. Ek is tronk toe as gevolg van my liefde vir ander en, nog belangriker, my liefde vir God en sy beginsels.”

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: Paul S. Gillies, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Suid-Korea: Hong Dae-il, +82-31-690-0055

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000