27 NOVEMBER 2012
SUID-KOREA
Jehovah se Getuies herdenk 100 jaar in Korea
SEOEL, Korea—November 2012 is ’n spesiale maand vir die meer as 100 000 Getuies van Jehovah in Suid-Korea, aangesien hulle die 100ste jaar herdenk dat hulle hulle Bybelonderrigtingswerk in die land doen. Die Getuies herdenk hierdie mylpaal deur aan ’n landwye kampanje deel te neem om ’n gedenktraktaat aan die publiek te versprei. Die kleurvolle traktaat met vier bladsye bied ’n kort oorsig van die geskiedenis van Jehovah se Getuies in Suid-Korea en hulle huidige bedrywighede in die gemeenskap.
In 1912 het verteenwoordigers van Jehovah se Getuies hulle openbare Bybelonderrigtingswerk in Korea begin. Tot op hede het die Getuies byna 700 000 Bybels in Koreaans gedruk, en elke week hou hulle meer as 70 000 gratis tuisbybelstudies. In meer as 1 300 gemeentes in die land hou die Getuies weeklikse vergaderinge waar Bybelonderrig voorsien word en wat die publiek welkom is om by te woon. Hulle het ook ’n lang geskiedenis van jaarlikse streekbyeenkomste in Korea, waarvan die eerste in 1954 gehou is. Hierdie programme word nie net in Koreaans vir die publiek aangebied nie, maar sedert 1997 ook in Koreaanse Gebaretaal. In 2009 het Jehovah se Getuies ’n internasionale byeenkoms in Seoel gehou, wat deur meer as 58 000 bygewoon is, insluitende meer as 6 500 afgevaardigdes uit 11 lande. Die Getuies se takkantoor in Seoel is in 1953 geopen.
Dae-il Hong, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Korea, sê: “Dit is ’n herdenking van 100 jaar se diens aan ons bure.” Hy verduidelik: “Ons glo dat die toepassing van Bybelbeginsels tot sterk huwelike en groter gesinsgeluk lei en gemeenskappe versterk. Ons sien uit na nog baie jare van diens aan die gemeenskap.”
Mediaverteenwoordigers:
J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000
Republiek van Korea: Dae-il Hong, tel. +82 10 3951 0835
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000