Spring na inhoud

13 JULIE 2016
SUID-KOREA

Jehovah se Getuies in Suid-Koreaanse tronke het bykomende klagtes ingedien

Jehovah se Getuies in Suid-Koreaanse tronke het bykomende klagtes ingedien

Sedert Januarie 2016 het meer as 50 Suid-Koreaanse mans wat gewetensbeswaardes is, klagtes ingedien by die VN se Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting (Werkende Groep). In Suid-Korea word gewetensbeswaardes opgesluit vir die regmatige beoefening van godsdiens- en gewetensvryheid. Op grond hiervan voer hulle aan dat die regering van Suid-Korea skuldig is aan arbitrêre opsluiting.

Grondslag vir die klagtes

Twee VN-groepe, die Werkende Groep en die VN se Menseregtekomitee het bepaal dat die opsluiting van gewetensbeswaardes teen militêre diensplig, “arbitrêre opsluiting” is. * Die Komitee se beslissing in verband met hierdie saak in 2014 het bepaal dat die regering van Suid-Korea moet ophou om gewetensbeswaardes onregverdig te straf, vergoeding moet gee aan diegene wat opgesluit is en hulle kriminele rekord moet skrap. Op grond van hierdie beslissing het altesaam 682 Suid-Koreaanse Getuies klagtes by die Werkende Groep ingedien. *

Noukeurige ondersoek—Internasionaal en plaaslik

Nadat die Werkende Groep die klagtes aan die regering van Suid-Korea oorgedra het en terugvoering van die regering ontvang het, sal dit sy menings lug. Indien die Werkende Groep met die klaers saamstem en bevind dat Suid-Korea skuldig is aan arbitrêre opsluiting, sal dit die regering versoek om die nodige stappe te doen om die feit dat gewetensbeswaardes as misdadigers beskou word, reg te stel en te vermy.

Die kwessie oor die grondwetlikheid van die Militêre Diens Wetgewing is tans hangende by die Grondwetlike Hof van Suid-Korea en ’n beslissing sal binnekort gelewer word. Die Hof is bewus van die feit dat meer as 600 klagtes by die Werkende Groep ingedien is. Die Hof is ook bewus daarvan dat die VN se Menseregtekomitee Suid-Korea herhaaldelik versoek het om die reg op gewetensbeswaar te erken en om ’n program vir alternatiewe burgerlike diens te voorsien. Die internasionale gemeenskap wag in spanning om te sien of Suid-Korea se hoogste hof die fundamentele reg op gewetensbeswaar teen militêre diens, sal handhaaf.

^ par. 4 Menseregteraad, Menings aangeneem deur die Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting, Mening Nr. 16/2008 (Turkye), UN Doc. A/HRC/10/21/Add.1, p. 145, par. 38 (9 Mei 2008). Menseregtekomitee, Views, Young-kwan Kim et al. v. Republic of Korea, Kommunikasie Nr. 2179/2012, UN Doc. CCPR/C/112/D/2179/2012, par. 7.5 (15 Oktober 2014).

^ par. 4 In 2015 het 631 gewetensbeswaardes klagtes ingedien, en nog 51 klagtes is tot dusver in 2016 bygevoeg.