Spring na inhoud

19 FEBRUARIE 2015
SUID-KOREA

Suid-Korea skuldig bevind aan arbitrêre opsluiting van gewetensbeswaardes

Suid-Korea skuldig bevind aan arbitrêre opsluiting van gewetensbeswaardes

Die VN se Menseregtekomitee het die regering van Suid-Korea veroordeel weens die arbitrêre (eiemagtige en ongegronde) opsluiting van gewetensbeswaardes en weens die skending van hulle reg op gewetensvryheid. Dit is die vyfde beslissing wat die Komitee teen Suid-Korea gelewer het omdat hulle gewetensbeswaardes in die tronk sit, maar dit is die eerste keer dat die Komitee bevind het dat hierdie inhegtenisnemings “arbitrêr” is. *

In die vorige vier beslissings in verband met altesaam 501 gewetensbeswaardes het die Komitee bevind dat Suid-Korea hulle vryheid van denke, gewete en godsdiens geskend het, soos gewaarborg deur Artikel 18 van die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte (ICCPR). Hierdie jongste beslissing, waarby 50 jong Getuiemans * betrokke was en wat op 15 Oktober 2014 aanvaar is en op 14 Januarie 2015 aan die publiek bekend gemaak is, het selfs verder gegaan. Aangesien die regering hierdie mans opgesluit het omdat hulle ’n fundamentele reg beoefen het, het die Komitee bevind dat die regering ook Artikel 9 van die ICCPR geskend het, wat arbitrêre opsluiting verbied en die reg op skadevergoeding waarborg. Die Komitee het gesê dat “‘arbitrêre optrede’ ... verstaan moet word as optrede wat ook elemente van ongepastheid [en] ongeregtigheid insluit”. Dit het dus tot die slotsom gekom dat “opsluiting as straf vir die regmatige beoefening van godsdiens- en gewetensvryheid, soos gewaarborg deur artikel 18 van die Verdrag”, arbitrêr is.

Suid-Korea se verpligting

In sy beslissing het die Komitee ’n beroep gedoen op die regering van Suid-Korea om die 50 Getuies se kriminele rekord uit te wis en om voldoende skadevergoeding aan hulle te voorsien. Dit het verder gesê dat die regering “onder verpligting is om ... wetgewing [aan te neem] wat die reg op gewetensbeswaar waarborg”. Suid-Korea moet binne 180 dae nadat hierdie beslissing aanvaar is, “inligting voorsien oor die maatreëls wat in ooreenstemming met die huidige beskouings getref is”.

Suid-Korea het herhaaldelik beweer dat dit nie ’n program vir alternatiewe diens kan instel nie weens bedreigings vir sy nasionale veiligheid en omdat daar nog nie ’n nasionale konsensus bereik is nie. Die Komitee het ’n vyfde keer die regering se redenasie oor hierdie punte verwerp en verwys na die standpunt wat dit al in 2006 ingeneem het. Die Komitee het destyds gesê dat Suid-Korea “nie daarin geslaag het om te toon presies hoe dit die land sal benadeel as die regte van gewetensbeswaardes ten volle gerespekteer word nie”. Wat maatskaplike samehorigheid en onpartydigheid betref, het die Komitee gesê dat “die respek wat die staat toon vir gewetensake en die manier waarop mense dit uitleef, ’n belangrike rol daarin speel om die samehorigheid en stabiliteit van ’n diverse samelewing te verseker”. Die Komitee hou dus vol dat Suid-Korea geen rede het om gewetensbeswaardes in die tronk te sit nie.

Suid-Korea se arbitrêre opsluiting van gewetensbeswaardes is duidelik in stryd met internasionale regsgeleerdheid en regsbeoefening in verband met hierdie saak.

Hoewel Suid-Korea in 1990 ’n ondertekenaar van die ICCPR geword het, het dit nog altyd geweier om die verpligtinge in verband met gewetensbeswaardes na te kom wat in hierdie verdrag uiteengesit word. Trouens, die Koreaanse owerheid sit steeds elke jaar honderde jong Getuies in die tronk. Die VN se Menseregtekomitee het hulle herhaaldelik ten behoewe van gewetensbeswaardes in Suid-Korea uitgespreek. Net die tyd sal leer of toenemende internasionale druk die regering sal beweeg om die arbitrêre inhegtenisnemings te beëindig en wetgewing aan te neem wat respek toon vir die gewete van sy burgers.

^ par. 2 Sien CCPR Kommunikasie Nr. 2179/2012, Joeng-kwan Kim en ander teen die Republiek van Korea, beskouings aanvaar op 15 Oktober 2014, par. 7.5.

^ par. 3 In die foto hierbo staan 30 van die 50 jong Getuiemans voor die Hooggeregshof van Suid-Korea, waar hulle vir die eerste keer geappelleer het.