Spring na inhoud

1 OKTOBER 2013
SUID-KOREA

Internasionale verontwaardiging oor onreg in Suid-Korea

Internasionale verontwaardiging oor onreg in Suid-Korea

Suid-Korea sit honderde jong mans in die tronk wat nie misdadigers is nie. Waarom? Hulle is Jehovah se Getuies en het besluit om hulle gewete te gehoorsaam deur te weier om diensplig te verrig. Omdat Korea nie die regte van gewetensbeswaardes beskerm nie, word dienspligtige Getuies tot tronkstraf gevonnis. Trouens, oor die afgelope 60 jaar is meer as 17 000 Getuies van Jehovah weens hulle gewetensbeswaar teen diensplig opgesluit.

Om die aandag op hierdie saak te rig, het die nasionale takkantoor van Jehovah se Getuies in Suid-Korea ’n brosjure saamgestel met die titel  Conscientious Objection to Military Service in Korea. Die brosjure beklemtoon dat Korea versuim om internasionale standaarde te handhaaf en gewetensbeswaardes te beskerm. Dit voorsien ook ’n kort geskiedenis van jong Getuiemans wat tronkstraf verduur het omdat hulle nie hulle gewete wou skend nie. Mnr. Dae-il Hong, verteenwoordiger van die Koreaanse takkantoor van Jehovah se Getuies, en Philip Brumley, hoofregsadviseur van Jehovah se Getuies in New York, voorsien verdere insig in hierdie lang bestaande onreg.

Hoe het die internasionale gemeenskap op die duidelike onreg in Suid-Korea gereageer?

Philip Brumley: ’n Aantal lande het hulle uitgespreek teen Korea se versuim om die fundamentele reg van gewetensbeswaardes te erken. Gedurende ’n onlangse wêreldwye periodieke hersieningsessie deur die VN het agt lande—Australië, Duitsland, Frankryk, Hongarye, Pole, Slowakye, Spanje en die Verenigde State—Korea aangespoor om die vervolging van gewetensbeswaardes te staak en om niemilitêre burgerlike diens vir hulle in te stel. *

Dae-il Hong: In vier hofsake het die VN se Menseregtekomitee (CCPR) beslis dat die Republiek van Korea die regte van altesaam 501 gewetensbeswaardes geskend het toe dit hulle skuldig bevind en opgesluit het. Die Komitee het gesê dat “die reg op gewetensbeswaar teen diensplig onafskeidelik verbonde is aan die reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens. Dit gee enige persoon die reg op vrystelling van verpligte militêre diens as laasgenoemde nie met die persoon se godsdiens of oortuigings versoen kan word nie. Hierdie reg mag nie deur die uitoefening van druk geskend word nie.” *

Die Raad vir Menseregte, nog ’n liggaam van die VN, het ook die aandag op hierdie geskil gevestig in ’n onlangse analitiese verslag oor gewetensbeswaar teen diensplig. Hierdie dokument sit die internasionale regsraamwerk uiteen wat die reg op gewetensbeswaar erken en ook die uitoefening van druk deur herhaalde hofsake of straf van gewetensbeswaardes verbied. *

Hoe het die Koreaanse regering op die aandrang van die internasionale gemeenskap gereageer?

Hooggeregshof

Philip Brumley: Die Koreaanse regering het nie die beslissings van die CCPR geïmplementeer nie. Dit het dus versuim om die verpligtinge na te kom van die internasionale verdrag wat dit onderteken het en het geweier om die fundamentele regte van gewetensbeswaardes te erken. Verder het Suid-Korea se Hooggeregshof en Konstitusionele Hof die beslissings van die CCPR geïgnoreer toe hulle die gewetensbeswaardes se aansoeke om appèl afgewys het. Die Koreaanse Nasionale Vergadering het geen alternatiewe vorm van burgerlike diens vir gewetensbeswaardes ingestel nie en het geen voorsiening gemaak om hulle te beskerm nie.

Watter uitwerking het gevangenskap oor die algemeen op hierdie jong Getuies van Jehovah gehad?

Dae-il Hong: Hulle is dapper jong mans. Hulle reageer op die regering se oproep tot diensplig met die wete dat hulle onder die huidige stelsel tot tronkstraf gevonnis sal word. Hulle probeer dit nie ontduik nie. Hulle is voorbeeldige burgers voor hulle opsluiting, en hulle is voorbeeldige gevangenes. Ongelukkig het hulle ná hulle vrylating ’n kriminele rekord, wat dit vir hulle byna onmoontlik maak om werk te vind in die openbare sektor of by groter maatskappye. Die tronkstraf beroof hulle van ’n jaar en ’n half van hulle lewe. Hulle gesinne moet gedurende hierdie tyd sonder hulle klaarkom. Dit is onnodige ontberinge.

Verdien Jehovah se Getuies in Korea dit om as misdadigers veroordeel en opgesluit te word omdat hulle verpligte militêre diens weier?

Dae-il Hong: Beslis nie! Hierdie jong mans is nie misdadigers nie. Jehovah se Getuies staan in Korea en wêreldwyd bekend as vreedsame, wetsgehoorsame burgers wat bereid is om hulle gemeenskap te dien. Hulle respekteer regeringsowerhede, gehoorsaam die wet, betaal belasting en ondersteun regeringsinisiatiewe vir die openbare belang. Onlangs het die regter van ’n Koreaanse streekshof ’n jong Getuie tot tronkstraf gevonnis weens sy gewetensbeswaar teen diensplig. Nadat die regter gesê het dat geen ander beslissing as skuldigbevinding moontlik is nie, het sy die uitspraak voorgelees. Skielik het die regter haar gesig agter die dokument verberg en gesnik. Die feit dat die jong man ten onregte skuldig bevind is, het die regter blykbaar so ontstel dat sy vir ’n oomblik haar selfbeheersing verloor het. Ander teenwoordiges het ook die onreg erken en trane gestort.

Philip Brumley: Dit nou beslis tyd dat die Koreaanse owerheid hierdie lang bestaande geskil oplos en ’n stelsel implementeer wat die fundamentele menseregte van gewetensbeswaardes in ag neem.

^ par. 5 Raad vir Menseregte se “Report of the Working Group on the Universal Periodic Review”, 12 Desember 2012, A/HRC/22/10, bladsye 7 en 22, paragrawe 44 en 124.53.

^ par. 6 Jong-nam Kim et al. v. The Republic of Korea, kommunikasie nr. 1786/2008, Beskouings aangeneem deur die Komitee op 25 Oktober 2012, bladsy 8, paragraaf 7.4

^ par. 7 Raad vir Menseregte se “Analytical report on conscientious objection to military service”, 3 Junie 2013, A/HRC/23/22, bladsye 3-8, paragrawe 6-24; bladsye 9, 10, paragrawe 32, 33.