Spring na inhoud

’n Gesin van Suid-Korea wat Getuies van Jehovah is en wat deelneem aan die petisie-kampanje

1 MAART 2018
SUID-KOREA

Getuies in Suid-Korea vra die president: Vind ’n oplossing vir die kwessie van gewetensbeswaar

Getuies in Suid-Korea vra die president: Vind ’n oplossing vir die kwessie van gewetensbeswaar

Onlangse gebeure in Suid-Korea laat dit lyk asof die regering dalk ’n groot verandering oorweeg as dit kom by respek vir basiese menseregte. Op 7 Desember 2017 het president Jae-in Moon van Suid-Korea met amptenare van die Nasionale Menseregtekommissie (NHRC) bymekaargekom. Hy het hulle gevra om voorstelle te maak sodat die land sy gebruike wat te doen het met menseregte, kan verbeter. Dit moet ook voldoen aan internasionale standaarde. President Moon het spesifiek gevra dat die NHRC oplossings moet voorstel wat die regering sal help om ’n einde daaraan te maak om mans tronk toe te stuur wat gewetensbeswaar teen militêre diens het.

Ná die vergadering wat baie aandag in die nuus gekry het, het Jehovah se Getuies in Suid-Korea ’n kampanje gereël om handtekeninge op petisies bymekaar te maak en dit na die president gestuur. Die regering se gebruik om gewetensbeswaardes tronk toe te stuur as straf, het ’n groot uitwerking op baie Getuies oor die jare gehad. President Moon het sy personeel gevra om te reageer op die petisies, waarin die president gevra word om ’n oplossing te vind vir die probleem waarmee gewetensbeswaardes al 70 jaar lank sukkel.

Die nasionale kantoor van Jehovah se Getuies het die petisies gereël

Binne vier weke nadat die kampanje begin het, is die petisies voltooi. Die mense wat die petisies geteken het, sluit meer as 14 000 mans in wat krimineel gestraf is as gevolg van gewetensbeswaar. En meer as 26 000 familielede wat swaargekry het as gevolg van die feit dat die mans skuldig bevind is en tronk toe gestuur is, het ook die petisies geteken.

Op 15 Januarie 2018 is die petisies by die Kantoor van die President ingedien

Op 15 Januarie 2018 het 6 verteenwoordigers van die 41 275 Getuies wat die petisies geteken het, dit by die Kantoor van die President ingedien. Die petisies het die president bedank dat hy in hierdie saak belangstel. Dit het aandag gevestig op die negatiewe uitwerking wat dit gehad het omdat gewetensbeswaardes oor die afgelope 70 jaar tronk toe gestuur is as straf. Die petisies het ook die voordele vir die land genoem as hierdie saak opgelos word. Op 16 Januarie 2018 het die Kantoor van die President die petisies na die Departement van Verdediging gestuur sodat hulle dit kan oorweeg.

Terwyl daar aan die petisies gewerk is, het verteenwoordigers van Jehovah se Getuies ook met amptenare van die NHRC bymekaargekom. Hulle het deur middel van die Bybel verduidelik hoekom Jehovah se Getuies weier om militêre diens te doen. As die jong Getuie-mans alternatiewe burgerlike diens kan doen en nie net in die tronk sit en niks doen nie, sal hulle deur die regering goed gebruik kan word en sal dit tot die land se voordeel wees. Die amptenare het vir die Getuies gesê dat die saak van gewetensbeswaar teen militêre diens ’n belangrike mensereg is waaraan die NHRC in 2018 beslis aandag sal gee.

Daar is meer gewetensbeswaardes in Suid-Korea in die tronk as in al die ander lande saam. Terwyl amptenare die kwessie van gewetensbeswaar heroorweeg, hoop Jehovah se Getuies dat hierdie optrede uiteindelik daartoe sal lei dat ’n einde gemaak word aan die meer as 36 700 jaar wat jong Getuie-mans altesaam in die tronk was omdat hulle geweier het om militêre diens te doen.