Spring na inhoud

9 MEI 2016
SUID-KOREA

Sal Suid-Korea gewetensvryheid beskerm?

Sal Suid-Korea gewetensvryheid beskerm?

Seon-hyeok Kim ondervind een van die grootste uitdagings in sy lewe. Vroeg in 2015 het hierdie 28-jarige getroude man en pa in die hof verskyn op kriminele aanklagte van dienspligontduiking weens sy gewetensbeswaar. In ooreenstemming met internasionale standaarde het die Gwangjoe-distrikshof hom onskuldig bevind. Dit was buitengewoon, want in Suid-Korea word duisende gewetensbeswaardes al dekades lank skuldig verklaar en tronkstraf opgelê. Maar die appèlhof het die uitspraak tersyde gestel en Mr. Kim tot 18 maande tronkstraf gevonnis. Hy het weer appèl aangeteken en die saak is nou hangende by die Hooggeregshof van Suid-Korea.

In onlangse jare is daar toenemende verdeeldheid in Suid-Korea oor die weiering om die reg op gewetensbeswaar te erken. Regters wat moedig besluit het om internasionale standaarde ten opsigte van hierdie kwessie te handhaaf, se beslissings is tersyde gestel wanneer appèl aangeteken is.

Die verhoorhof handhaaf die reg op gewetensvryheid

Op 12 Mei 2015, toe regter Tjang-seok Tsjoi van die Gwangjoe-distrikshof Mr. Kim vrygespreek het van dienspligontduiking, het hy aangevoer dat Mr. Kim nie sy nasionale plig geïgnoreer het nie. Hy het eerder erken dat Mr. Kim, wat een van Jehovah se Getuies is, ’n baie godsdienstige man is wie se sedelike oortuigings hom nie toelaat om militêre diens te verrig nie. Die regter het ook gemeld dat Mr. Kim gewillig was om alternatiewe burgerlike diens te verrig wat nie met militêre diens verband hou nie. *

In sy uitspraak het regter Tsjoi ook gesê dat Mr. Kim sy reg op gewetensvryheid uitgeoefen het toe hy geweier het om militêre diens te verrig en dat “gewetensvryheid ten alle koste beskerm moet word”. Regter Tsjoi het Mr. Kim se innerlike sedelike oordeel moedig gerespekteer. Sy beslissing was teenstrydig met vorige beslissings van sy land se regstelsel maar dit was in ooreenstemming met internasionale standaarde vir gewetensbeswaardes.

“Gewetensvryheid moet ten alle koste beskerm word, wat heel moontlik is om te doen sonder om die plig van landsverdediging, fundamenteel te ondermyn.”—Regter Tjang-seok Tsjoi, Gwangjoe-distrikshof

In vyf afsonderlike beslissings wat meer as 500 klagtes ingesluit het, het die VN se Menseregtekomitee (CCPR) Suid-Korea veroordeel omdat hulle gewetensbeswaardes straf. In ’n onlangse beslissing het die CCPR tot die gevolgtrekking gekom dat die opsluiting van gewetensbeswaardes volgens Artikel 9 van die Internasionale Verbond op Burgerlike en Politieke Regte (ICCPR) arbitrêre opsluiting is. * Die CCPR en ander internasionale liggame het Suid-Korea versoek om wetgewing te aanvaar wat dit vir gewetensbeswaardes moontlik sal maak om alternatiewe burgerlike diens te verrig. Al het Suid-Korea hom in 1990 vrywilliglik onderwerp aan die ICCPR en die Eerste Opsionele Protokol van hierdie liggaam, weier dit om verdere stappe te doen om hierdie beslissings te implementeer.

Skuldig of onskuldig?

Die aanklaer het die appèlhof versoek om Mr. Kim se vryspreking tersyde te stel en aangevoer dat sy gewetensbeswaar teen militêre diens ’n bedreiging vir die land se veiligheid inhou. * Op 26 November 2015 het die appèlhof die verhoorhof se onskuldigbevinding tersyde gestel, en Mr. Kim ’n vonnis van 18 maande tronkstraf opgelê vir beweerde dienspligontduiking.

Hoewel die appèlhof die beslissings van die CCPR erken het, het dit aangevoer dat die gesag van die howe in Suid-Korea in hierdie geval die gesag van internasionale wetgewing vervang. Mr. Kim het onmiddellik appèl aangeteken by die Hooggeregshof en ook ’n dringende versoek by die VN se Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting (WGAD) ingedien. * Hy wag tans op die uitslag van beide hierdie beslissings.

Die Hooggeregshof en die Konstitusionele Hof het deurgaans geweier om die regte van gewetensbeswaardes te erken. In 2004 en ook in 2011 het die Konstitusionele Hof bevind dat die Militêre Diens Wetgewing grondwetlik is. Die Konstitusionele Hof is tans besig om die grondwetlikheid van die Militêre Diens Wetgewing vir ’n derde keer te hersien en ’n uitspraak word binnekort verwag.

Sedert 1953 het howe in Suid-Korea meer as 18 000 Jehovah se Getuies tot tronkstraf gevonnis omdat hulle geweier het om militêre diens te doen

Sal Suid-Korea uiteindelik erkenning verleen aan internasionale standaarde erken?

Indien die Hooggeregshof Mr. Kim se appèl verwerp, sal hy onmiddellik tronk toe gestuur word. Hy is baie bekommerd hieroor, want hy weet dat sy 18 maande lange tronkstraf sy gesin emosioneel en finansieel sal benadeel. Sy vrou sal alleen vir hulle twee jong kinders moet sorg en ook in hulle fisiese behoeftes moet voorsien. Nadat hy vrygelaat is, sal hy ’n kriminele rekord hê wat dit vir hom baie moeilik sal maak om weer ’n werk te kry.

Jehovah se Getuies is dankbaar dat regerings regoor die wêreld die internasionale standaard aangeneem het om die reg op gewetensbeswaar te erken. Jehovah se Getuies in Suid-Korea en Seon-hyeok Kim maak staat op die howe om hierdie saak op te los. Sal die Hooggeregshof en die Konstitusionele Hof die internasionale standaarde handhaaf waaraan hulle hulle vrywilliglik onderwerp het? Sal Suid-Korea gewetensvryheid as ’n fundamentele reg van sy burgers erken?

^ par. 5 In 2015 het die Gwangjoe-distrikshof drie ander Getuies onskuldig bevind. Die Suwon-distrikshof het ook twee Getuies vrygespreek toe hulle aangekla is van dienspligontduiking

^ par. 7 Menseregtekomitee, Views, Young-kwan Kim et al. v. Republic of Korea, Kommunikasie Nr. 2179/2012, UN Doc. CCPR/C/112/D/2179/2012 (15 Oktober 2014).

^ par. 9 Die aanklaer het aangevoer dat ’n gewetensbeswaarde se weiering om diensplig te verrig ’n negatiewe uitwerking op die landsveiligheid sou hê. Maar ander regsgeleerdes stem nie saam nie. Regter Gwan-goe Kim van die Tjangwon Masan-distrikshof het byvoorbeeld gesê: “Daar is geen wesenlike en spesifieke bewyse of data beskikbaar wat toon dat die aanvaarding van ’n stelsel van alternatiewe burgerlike diens die landsveiligheid sal ondermyn nie.”

^ par. 10 Die WGAD voorsien ’n manier waarop daar versoek kan word dat ingegryp word teen inhegtenisneming, wanneer die rede vir die inhegtenisname en aanhouding as gevolg van die persoon se beoefening van fundamentele regte of vryhede is, soos gewaarborg deur internasionale wetgewing oor menseregte.