Spring na inhoud

9 DESEMBER 2013
SUID-KOREA

Suid-Korea skei honderde gewetensbeswaardes van misdadigers

Suid-Korea skei honderde gewetensbeswaardes van misdadigers

Die regering van Suid-Korea het ’n mate van verligting voorsien aan honderde van Jehovah se Getuies wat in die tronk is omdat hulle gewetensbesware teen diensplig het. Hoe so? Deur Getuiegevangenes van die gewone tronkbevolking te skei.

Hierdie verandering is die positiewe gevolg van ’n vergadering in Desember 2012 tussen Koreaanse verteenwoordigers van Jehovah se Getuies en ’n hooggeplaaste amptenaar in die Koreaanse Korrektiewe Diens. Die Getuie-afvaardiging, wat ’n bekommerde vader ingesluit het wie se seun tans ’n tronkvonnis uitdien, het hulle kommer daaroor uitgespreek dat die jong Getuiemans dikwels in dieselfde selle aangehou word as ernstige oortreders. Binne vyf maande ná hierdie vergadering is meer as 70 persent van die Getuiegevangenes van die ander gevangenes geskei en in selle saam met mede-Getuies geplaas.

’n Lang geskiedenis van inhegtenisneming van gewetensbeswaardes. Suid-Korea sit Jehovah se Getuies al lank in die tronk weens hulle skriftuurlike weiering om die wapen op te neem. Tans word ongeveer 600 Getuies weens gewetensbesware aangehou. Oor die afgelope 60 jaar het meer as 17 000 Getuies tronkvonnisse uitgedien omdat hulle geweier het om verpligte militêre diens te doen—’n vereiste vir mans tussen die ouderdom van 19 en 35.

Dit is nie ongewoon dat etlike geslagte van ’n Getuiegesin dieselfde ondervinding van skuldigbevinding, vonnisoplegging en opsluiting as misdadigers deurmaak nie. “Ek is na dieselfde tronk gestuur waarheen my pa gestuur is toe hy jonk was—en die toestande in daardie tronk het sedert my pa se tyd nie verander nie”, het Seungkuk Noh gesê, ’n Getuie van die tweede geslag wat sy tronkvonnis van drie jaar in 2000 voltooi het. Vandag is die gemiddelde tronkvonnis vir ’n gewetensbeswaarde 18 maande, en Suid-Korea het geen voorsiening vir niemilitêre alternatiewe diens gemaak nie.

Ho Gyu Kang was 21 jaar oud toe hy tronk toe gestuur is omdat hy diensplig geweier het. Dit was die eerste keer dat hy van sy gesin geskei is. “Ek was baie bang en senuweeagtig”, vertel mnr. Kang. Hy en nog ’n jong Getuie is aangehou saam met ’n groep ouer gevangenes wat deur die tronk as geharde misdadigers beskou is. Party van hierdie gevangenes was veroordeelde moordenaars en bendelede.

Van die begin van hulle aanhouding tot hulle vrylating word Getuiegevangenes—wat gewoonlik jonger as die meeste ander gevangenes is—aan fisiese en emosionele mishandeling blootgestel. Gevangenes mishandel dikwels hulle Getuieselmaats, wat dit vir die Getuies moeilik maak om hulle godsdiens vryelik te beoefen, soos deur gebed en persoonlike Bybelstudie te doen. Jaar ná jaar, dekade ná dekade, het talle jong Getuies in stilte die vernederings daarvan verduur om saam met veroordeelde misdadigers opgesluit te wees.

Die skeiding van gevangenes kom ooreen met internasionale standaarde. Deur die meeste Getuiegevangenes van misdadigers te skei, het Suid-Korea opgetree in ooreenstemming met die universele beginsels oor die behandeling van gevangenes soos dié in Artikel 8 van die VN se Minimum Standaardreëls vir die Behandeling van Gevangenes. Suid-Korea volg die voorbeeld wat meer as 20 jaar gelede gestel is deur Griekeland, ’n lidland van die Europese Unie, toe sy Departemente van Verdediging en Justisie maatreëls goedgekeur het om Getuie-gewetensbeswaardes heeltemal van ander gevangenes te skei. In 1992 het die Departement van Verdediging ’n militêre kamp in Sindos, Tessalonika, omskep in ’n tronk uitsluitlik vir Jehovah se Getuies. ’n Amptelike verslag het gesê dat “die sensitiwiteit wat deur die Departement van Verdediging geopenbaar is, weens die uitsonderlike geaardheid van die gevangenes [Jehovah se Getuies],” tot die besluit gelei het om die Getuiegevangenes van ander te skei en hulle in een tronk aan te hou. Griekeland het in 1998 opgehou om Getuiegewetensbeswaardes in die tronk te sit.

Toe Suid-Korea die meerderheid Getuiegevangenes van ander gevangenes geskei het, het hulle ook sensitiwiteit geopenbaar teenoor jong mans wat in die tronk is omdat hulle by diepgewortelde, persoonlike godsdiensoortuigings bly. * Etlike aanhoudingsentrums en tronke met die grootste aantal Getuies het die inisiatief met welslae toegepas en ’n veiliger omgewing aan gevangenes met gewetensbesware voorsien. ’n Getuiegevangene by die Gunsan-tronk het aangaande die voordele van hierdie skeiding gesê: “Ons is vry van negatiewe invloede, soos onsedelikheid en vuil taal. Ons kan heilsame geestelike gesprekke met ons Getuiebroers geniet.”

‘Ons is vry van negatiewe invloede en kan heilsame gesprekke geniet’

Die onopgeloste kwessie van die inagneming van gewetensbesware. Hoewel hulle onlangse inisiatief om Getuiegevangenes van ander te skei, prysenswaardig is, het Suid-Korea nog nie die voorbeeld van ander nasies gevolg wat hierdie kwessie al lank gelede opgelos het nie. Byvoorbeeld, Griekeland bied al sedert 1997 alternatiewe burgerlike diens aan gewetensbeswaardes. Duitsland het voorheen alternatiewe burgerlike diens aan gewetensbeswaardes gebied, maar verleen sedert die beëindiging van diensplig in 2011 algehele vrystelling. Taiwan het in 2000 ’n wet oor alternatiewe diens vir gewetensbeswaardes uitgevaardig.

Jong Getuiemans en hulle families in Suid-Korea hoop dat hulle land ook vandag se internasionale standaarde aangaande die fundamentele mensereg op gewetensvryheid sal toepas.

^ par. 9 Internasionale wet, wat Suid-Korea verplig is om te onderhou, erken dat gewetensbeswaar ’n mensereg is. Sien die artikel “Internasionale verontwaardiging oor onreg in Suid-Korea”.