Spring na inhoud

7 MEI 2018
SUID-KOREA

Jehovah se Getuies stal Bybelpublikasies uit by die Olimpiese- en Paralimpiese Spele vir 2018

Jehovah se Getuies stal Bybelpublikasies uit by die Olimpiese- en Paralimpiese Spele vir 2018

Die Olimpiese- en Paralimpiese Winterspele vir 2018 is in Pjeongtsjang gehou vanaf 9 tot 25 Februarie 2018 en 9 tot 18 Maart 2018. Broers en susters in Korea het hierdie geleentheid gebruik om deel te neem aan ’n spesiale kampanje om gratis Bybelpublikasies aan baie internasionale besoekers aan te bied.

Meer as 7 100 broers en susters van regoor die land het aan hierdie kampanje deelgeneem. Baie van hulle het uit stede soos Boesan, Gwangdjoe, Intsjeon, Seoel en Soewon gekom. Party het selfs van Djedjoe-eiland gekom, ’n beroemde bestemming vir toeriste omtrent 500 kilometer suid van Pjeongtsjang.

Ons broers het 152 lektuurtrollies op 48 plekke opgestel, insluitende die Gangneoeng Olimpiese Park en die Pjeongtsjang Olimpiese Plaza. Hulle is ook toegelaat om van hulle publikasies uit te stal by die ingang van een van die godsdienssentrums in die Olimpiese Dorp.

Twee lektuurtrollies naby die noordelike hek van die Gangneoeng Olimpiese Park.

Die owerheid het die broers ook toestemming gegee om lektuurtrollies by die Gangneoeng-stasie op te stel. Hierdie stasie is die laaste plek waar die KTX Gjeonggang-sneltrein stilhou, wat passasiers van Instjeon en Seoel na Pjeongtsjang vervoer. Op die eerste dag van die Olimpiese Spele het meer as 28 000 mense deur die Gangneoeng-stasie beweeg.

Om voorsiening te maak vir die ongeveer 80 000 buitelandse besoekers, het ons broers boeke, brosjures, tydskrifte en pamflette in meer as 20 tale aangebied. Dit het tale soos Chinees, Engels, Kazaks, Koreaans en Russies ingesluit. Broers en susters wat vlot in Koreaanse Gebaretaal is, het ook lektuurtrollies opgestel en gebaretaalvideo’s gebruik om baie dowe mense wat na die Paralimpiese Spele gekom het, te verwelkom. Hulle het meer as 71 200 publikasies versprei, insluitende meer as 22 000 Gedenkmaaluitnodigings.

Regoor die wêreld gebruik Jehovah se Getuies meer as 300 000 lektuurtrollies om hulle publikasies in meer as 35 lande uit te stal. Dit maak dit vir hulle moontlik om vir mense te preek waar ook al hulle gevind kan word en om hulle bediening ten volle uit te voer. — 2 Timoteus 4:5.