Spring na inhoud

Broer Jowidon Bobojonof

31 MAART 2020
TADJIKISTAN

Broer Jowidon Bobojonof kan tronk toe gaan vir gewetensbeswaar in Tadjikistan

Broer Jowidon Bobojonof kan tronk toe gaan vir gewetensbeswaar in Tadjikistan

Op Woensdag 1 April 2020 sal ’n militêre hof in Tadjikistan se hoofstad, Doesjanbe, sy uitspraak gee in die hofsaak oor broer Jowidon Bobojonof vir sy gewetensbeswaar teen militêre diens. Broer Bobojonof word meer as vyf maande lank onder haglike omstandighede aangehou terwyl hy vir sy uitspraak wag.

Op 4 Oktober 2019 het militêre offisiere in die stad Choejand die 19-jarige broer Bobojonof by sy huis ontvoer. Hulle het hom na ’n militêre kantoor geneem waar hulle hom in aanhouding gesit het. Twee dae later is hy geforseer om met ’n trein na ’n militêre opleidingsentrum in die Lenin-streek te gaan. Daarna is hy na militêre eenheid nr. 45075 oorgeplaas. Hier het offisiere hom probeer dwing om ’n militêre uniform te dra en om die militêre eed van getrouheid af te lê. Op 28 Januarie 2020 is ’n kriminele saak teen hom gemaak.

Jowidon se ouers, wat ook Jehovah se Getuies is, het klagtes gelê by verskillende Tadjikistan-amptenare, insluitende die Presidensiële Administrasie en die Kantoor van die Ombudsman. Die regering in Tadjikistan sê dat daar nie ’n wet oor alternatiewe burgerlike diens aangeneem is nie. As gevolg hiervan het broer Bobojonof ’n misdaad gepleeg toe hy geweier het om militêre diens te doen, en daarom was dit vir die regering wettig om hom teen sy sin van sy huis af weg te neem.

Ons weet dat Jehovah broer Bobojonof se moedige standpunt sal seën deur vir hom en sy gesin krag en vrede te gee. – Psalm 29:11.