Spring na inhoud

Broer Roestamjon Norof (tweede van links) by sy ma, Fariza, sy broer, Rafsjan, en sy pa, Batir, terwyl hulle in 2016 die takkantoor in Kirgistan besoek

27 OKTOBER 2020
TADJIKISTAN

Jong broer Roestamjon Norof in aanhouding voor sy verhoor; bly moedig selfs al kan hy vyf jaar tronkstraf in Tadjikistan kry

Jong broer Roestamjon Norof in aanhouding voor sy verhoor; bly moedig selfs al kan hy vyf jaar tronkstraf in Tadjikistan kry

Datum van uitspraak

’n Krygshof in Tadjikistan sal binnekort a sy uitspraak gee in die saak waarby broer Roestamjon Norof betrokke is. Hy kan twee tot vyf jaar tronk toe gestuur word vir gewetensbeswaar. Hy is al van 1 Oktober 2020 in aanhouding.

Profiel

Roestamjon Norof

  • Gebore: 1998 (Doesjanbe)

  • Agtergrond: Het woonstelle opgeknap en meubels gerestoureer om homself en sy familie te ondersteun. Hou daarvan om sokker te speel

  • Gedoop in 2016 op die ouderdom van 17. Twee jaar later het hy van die Russiese gemeente, waar hy saam met sy familie was, weggegaan om mense wat Tadjiks praat, te help om oor die Bybel te leer.

Geskiedenis van saak

In 2016 het broer Roestamjon Norof vrywilliglik aangemeld by die plaaslike militêre kantoor. Hy het sy neutrale standpunt verduidelik en gevra of hy alternatiewe burgerlike diens kan doen. Die volgende jaar het hy weer dieselfde gedoen. Een van die offisiere van die militêre kantoor het broer Norof gerespekteer en was beïndruk deur sy verduideliking. Vir die volgende drie jaar was hy nie opgeroep vir verpligte militêre diens nie.

Maar op 24 September 2020 was broer Norof opgeroep na die streek se militêre kantoor. Die offisiere het hom drie uur lank ondervra en besluit dat hy gesond genoeg is om militêre diens te doen. Hulle het hom toe probeer dwing om deur ’n dokter ondersoek te word. Broer Norof se pa het gesien wat gebeur het en het die offisiere gevra om sy seun se saak na die aanklaer se kantoor te stuur.

Broer Norof en sy pa het op 1 Oktober na die aanklaer se kantoor gegaan. Die aanklaer het ’n polisieman aangestel om hulle na die streek se militêre kantoor te vat. Toe hulle daar aankom was broer Norof se pa nie toegelaat om saam met hom in te gaan nie. Broer Norof is twee dae lank aangehou. Hy was nie formeel aangekla of vir ’n misdaad verhoor nie. Terwyl hy in aanhouding was, het die offisiere gekeer dat hy met sy regsgeleerde kan praat.

Op 3 Oktober is broer Norof oorgeplaas na ’n militêre eenheid in die stad Choejand, sowat 300 kilometer van sy familie in Doesjanbe af. Die volgende twee dae is hy na ’n hele paar verskillende militêre eenhede in Choejand oorgeplaas.

Op 6 Oktober is broer Norof toegelaat om sy familie te bel en om deur sy regsgeleerde besoek te word. Maar op 17 Oktober het ’n krygshof in Tadjikistan hom in aanhouding gesit voor sy verhoor. Hy sal in aanhouding bly terwyl die aanklaer met sy ondersoek voortgaan en totdat die hof ’n uitspraak lewer. Broer Norof word daarvan aangekla dat hy sy mediese rekords verander het sodat hy nie militêre diens hoef te doen nie.

Al is broer Norof in aanhouding, is hy nie ontmoedig nie en vertrou hy ten volle op Jehovah. Hy is dankbaar teenoor Jehovah omdat hy hom help om die geloof en moed op te bou wat hy nodig het vir hierdie verhoor. Hy waardeer ook die feit dat hy in 2013 onverwags deur ’n toets van sy geloof gegaan het. Daardie jaar het die plaaslike owerhede broer Norof en sy jonger broer, Rafsjan, uit die skool gevat en hulle gedwing om na die militêre kantoor te gaan vir ’n mediese ondersoek. Roestamjon was ’n ongedoopte verkondiger en net 15 jaar oud op daardie stadium, so hy was te jonk om opgeroep te word vir militêre diens. Nadat dit gebeur het, het die seuns se pa, Batir, meer tyd daaraan spandeer gedurende gesinsaanbidding om die seuns te help om hulle Christelike neutraliteit te verdedig. Batir het gereeld die rol van ’n militêre offisier gespeel en dan kon die seuns oefen om hulle geloof te verdedig.

Roestamjon sê: “Voordat ons as ’n gesin oefensessies gehou het, het ek gedink dat ek gereed is om my geloof te verdedig. Maar gedurende hierdie oefensessies was ek verbaas oor hoe senuweeagtig en bang ek was. Dit het my laat besef dat ek meer moet bid en ’n dieper studie moet maak van my geloof en my besluit om neutraal te bly. Ek was nie meer so bang nie. Aan die begin van 2016 het ek my toegewy aan Jehovah en is ek gedoop.”

Roestamjon is ook aangemoedig omdat hy tyd spandeer het met ouer ervare broers wat tronk toe gegaan het vir hulle geloof. Hy sê: “Ek verstaan die moontlike gevolge van my neutrale standpunt. As ek tronk toe gestuur word, beskou ek dit as ’n voorreg om Jehovah se naam in ’n ‘nuwe gebied’ te verheerlik.”

Roestamjon se pa sê: “Ons familie is dankbaar teenoor Jehovah vir die groot voorreg om sy wil te doen en om deur hom gebruik te word. Aan ons geestelike broers en susters wil ons sê: ‘Ons is baie dankbaar vir julle liefde, gebede en ondersteuning wat ons help om kalm en na aan Jehovah te bly.’ Ons is nie bekommerd of angstig nie. Die vrede van God beskerm ons harte, net soos Jehovah ons in sy Woord verseker!” – Filippense 4:6, 7.

a Die datum van ’n uitspraak word nie altyd vroegtydig aangekondig nie